Gedagte vir die dag – Hoe maak jy met onderbrekings?
Ek weet nie van jou nie, maar daar is min dinge in die lewe wat my so kan irriteer en kan kwaad maak soos onderbrekings. Dink daaraan: net as ‘n mens nou besig is met wat jy nou graag wil doen, dan kom daar die een of ander onderbreking en dan is alles deurmekaar. Party keer is dit erger as ander kere, maar dit gebeur eintlik nogals gereeld in ‘n mens se lewe. So gereeld dat mens eintlik sou dink dat ons teen hierdie tyd al geleer het om dit beter te hanteer.
Ek onthou toe ek nog op skool was en Desember skoolvakansie op die bank gelê en net krieket wou kyk. Die dae toe daar nog regte krieket op TV was. Suid-Afrika teen Australië in ‘n spannende 5-dag toetsreeks. Dan net as ek nou op my gemaklikste is en die wedstryd op ‘n hoogtepunt, dan besluit my geliefde moeder sy moet vir my werk uitdink… wat ‘n frustrasie!
Dis nou sommer ‘n simpel voorbeeld, maar dink bietjie hoe baie ons eintlik op ‘n daaglikse basis onderbreek word. Selfoonsein wat weg is, of airtime wat op is, of daai Zoom-vergadering wat nie lekker werk nie, die foon of deurklokkie wat op ‘n ongeleë tyd lui, Faf de Klerk wat alweer skop… Of partykeer probeer mens ‘n preek opneem en dan hou die kamera op werk of daar ry ‘n motorfiets verby en dan skop die hond, wat motorfietse meer as onderbrekings haat, ‘n kabaal op… en so… byvoorbeeld…
Natuurlik beleef ons hierdie onderbrekings in hierdie tyd baie meer intens. Ons hele lewe word al vir die afgelope jaar en ‘n bietjie konstant onderbreek. Net as ‘n mens dink alles begin weer bietjie rigting kry dan is daar weer ‘n nuwe vlaag of ‘n nuwe inperkingsreël, of beurtkrag bo-op inperkings. Vir party van ons is dit selfs nog erger omdat ons lewens deur die virus direk onderbreek word. Kwarentyn, isolasie, hospitaal, intensief, dood… dit is woorde wat ons alhoemeer begin hoor en begin beleef. En dit laat die ander gewone daaglikse onderbrekings waaroor ons maklik kan kwaad word, skielik bietjie belaglik lyk.
Paulus se lewe word in Filippense vir die soveelste keer onderbreek. Hierdie keer weer deur gevangenis. Hy is alweer in die tronk omdat Hy die evangelie sonder skaamte verkondig. Maar Paulus sien hierdie onderbreking eerder as ‘n geleentheid. Hoor wat sê hy in Filippense 1:12-14:
Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek ‘n gevangene is. Deur my boeie is die meeste broers ook in hulle vertroue op die Here gesterk, en hulle waag dit al hoe meer om die woord van God onbevrees te verkondig.
Wat as ons so oor die onderbrekings in ons lewens kon dink…? Dat ons dit sien as geleenthede vir die bevordering van God se Koninkryk. Natuurlik is dit in party situasies makliker as in ander. Maar wat as ons in elke onderbreking vir die Here kan vra hoe Hy ons in hierdie moment kan gebruik, wat Hy vir ons in hierdie moment kan leer, hoe ons nader aan Hom kan kom? Wat as ons ons onderbrekings, hoe groot of klein hulle ookal is, vir die Here gee?
Paulus het een doel voor oë gehad en daarom kon hy dit wat met hom gebeur het sien in die lig van daardie doel. Kom ons gebruik ons onderbrekings om met die Here te praat. Om Hom te soek. Om sy wil te soek. Om van Hom te praat. Om Hom te loof. Om die evangelie te verkondig.
Gedagte vir die dag – Wat kan mens nog glo?
Dis ‘n nuwe kwartaal en ons is op ‘n nuwe vlak van inperking. Party goeters is weer bietjie oop en ander nog toe. Party van dit maak sin en ander maak minder sin. En dit op sig self laat mens wonder oor baie dinge. Wat kan mens nog glo? En sosiale media maak dit ook nog meer ingewikkeld.
Daar is soveel verskillende opinies en redenasies oor elke liewe ding. Moet ons ‘n vlak opgaan of afgaan? Dan moet die skole oop en dan moet hulle skielik toe? Dan kan ons bier koop en dan mag ons weer nie. Moet jy inent of nie? Dan moet jy invermektien gebruik en moet jy weer nie. Was Willie le Roux voor die bal of was dit eintlik ‘n drie? Mag Rassie Erasmus die waterdraer op die veld wees of nie? Is ek positief of nie? En as ek positief is wat moet ek doen en wat gaan van my word…
Dis ‘n deurmekaarspul en die een dink sy opinie is meer in die kol as die volgende een. En boonop gooi mense in al hierdie aanlyn strydgesprekke nog Bybelversies ook rond om hulle eie doel te dien en hulle eie punt te staaf. Wat kan mens nog glo? Wat moet mens glo in ‘n deurmekaar en chaotiese tyd van onsekerheid en vrees en verlies…?
Ons is die afgelope klompie weke besig met ‘n studie van Filippense en ons trek hierdie week by hoofstuk 2, vers 5-11 en dit gee vir ons nuwe versekering:
Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:
Hy wat in die gestalte van God was,
het sy bestaan op Godgelyke wyse
nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,
maar Hy het Homself verneder
deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem
en aan mense gelyk te word.
En toe Hy as mens verskyn het,
het Hy Homself verder verneder.
Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.
Daarom het God Hom
ook tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is,
sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is,
die knie sou buig,
en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!”
tot eer van God die Vader.
Daar is een ding wat ons nog kan glo! En dit is dat Jesus Christus die Koning is en dat Hy op die troon sit en regeer. Maar Hy is nie ‘n koning soos enige ander nie. Elke knie sal voor Hom buig, maar nie soos voor ‘n aardse koning net uit pligsbesef of vrees of ordentelikheid nie. Nee elke knie sal buig omdat Hy dit waardig is! Omdat Hy die Here is! En omdat sy koningskap bevestig is deur dit wat Hy gedoen het. Hy is nie ‘n vêraf en afwesige en vreesaanjaende koning nie. Hy is die Koning wat jou so lief het dat Hy van sy troon af geklim het, een van ons geword het, ons straf op Hom geneem het en vir ons gesterf het.
Daarom is daar geen ander koning soos Hy nie! Daar het Hy die Naam bo elke naam. Daarom sal elke knie buig en kies ons nou reeds om die knie voor Hom te buig. Al is jy van niks anders seker nie kan jy van Jesus seker wees en weet dat Hy die Koning is en dat Hy by jou is!
Dis natuurlik bietjie ironies dat jy nou hierdie op die een of ander aanlyn platform lees. Maar kom ons spandeer meer tyd op ons knieë voor die Koning en meer tyd in sy Woord as op al die bronne van die media wat ons tyd en aandag steel. Onthou: hoe meer tyd jy met die Waarheid spandeer, hoe moeiliker raak dit om die leuen te glo.
Kom ons spandeer ook ekstra tyd hierdie week op ons knieë om vir elkeen wat siek is te bid en vir al die nare nagevolge van die virus.
Week van Gebed 2021 – Dag 5
(Ons sluit vandag ons Week van Gebed af en daarmee saam volstaan ons ook vir eers weer met ons dagstukkies.)
Die Nuwe-Testamentiese kommentator Howard Marshall, bespreek Jesus se laaste instruksie oor gebed in Lukas 11:9-13 en wys op die twee eenhede waaruit Jesus se onderrig bestaan. Die eerste deel in vers 9-10 bevat Jesus se aanmoediging aan sy dissipels om gebedsversoeke tot God te rig, omdat God hulle gebede verseker wil beantwoord. Die tweede deel van Jesus se onderrig oor gebed in vers 11-13 , bevat ’n argument uit die praktiese lewe van ouerskap. Die argument beweeg van die mindere na die meerdere (a minori ad maius) om te beklemtoon dat God die Heilige Gees wil gee aan hulle wat Hom daarvoor vra.
Lukas 11:13 sê: “As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan hulle wat Hom vra!”
In sy meditasie oor vers 13, beklemtoon Dr. Murray, wat hy noem, ‘onbegryplike wonders’. Eerstens dat die eie Gees van God, waarin God se lewe en heiligheid geleë is, in ons wil woon. Tweedens, die wonder dat die Vader gewillig is om die Heilige Gees te gee aan almal wat Hom daarom bid. Derdens, dat Jesus die Seun van God deur sy dood heen, self die pad vir die Gees baan en self aan ons die boodskap bring en ons leer om vir die Gees te bid.
Dr. Murray beklemtoon nog ’n punt in hierdie vers onder die opskrif, Die Gees van die gebed. Hy sluit daarvoor aan by Galasiërs 4:6 waarin Paulus skryf: “En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun uitgestuur tot in ons harte, die Gees wat roep” ‘Abba, Vader!’” (2020-vertaling). Hy beklemtoon die diep betekenis van hierdie woorde deur daarop te wys dat dit Christus die stryd van Getsemane gekos het om hierdie bede te kan bid. Met daardie woorde, het Jesus sy hele wil en lewe aan die Vader oorgegee.
Ons kan dit waag om alles, ons ganse lewe, aan die Vader oor te gee en op te offer, want vers 13 bevat ook die woorde “hoeveel te meer”, met verwysing na God se goedheid in vergelyking met ’n aardse ouer. Dr. Murray skryf in nog ’n meditasie oor vers 13 die volgende woorde: “Miljoen keer meer, ja, oneindig meer, bo alle gedagtes, is die gewilligheid van die hemelse Vader om sy gawe uit te deel.” Dr. Murray nooi sy lesers uit om onder die volle indruk te kom dat die onuitspreeklike gewilligheid van God op ons wag om ons in besit te neem.
Hoe anders kan ons die jaar 2021 ingaan as ons dit sou oorweeg om ons ganse wil in kinderlike opregtheid aan die Vader oor te gee en die gawe van sy Gees te omhels wat Hy so graag wil gee?
Temas vir gebed:
- Bid die Here dat Hy ons harte en oë sal open vir die goeie gawe van sy Gees wat Hy tot ons beskikking stel en aan ons wil gee.
- Bid dat die Here se kinders die wil sal koester om hulle self en alles wat deel vorm van hulle lewe, aan God toe te vertrou en aan Hom oor te gee, sodat ons as offers van Christus in die wêreld sal leef.
- Bid dat die Here wat al die mag het, ‘n spoedige einde aan COVID-19 sal bring.
Week van Gebed 2021 – Dag 4
In Lukas 11:1-13 het Jesus sy dissipels onderrig oor die aard van gebed, o.a. aan die hand van ’n gelykenis oor ’n vriend wat in die nag drie brode kom vra het, omdat ’n vriend van hom wat op reis is by hom aangekom het. Die gasheer het egter niks te ete gehad om vir die besoeker aan te bied nie. Jesus stel dan ’n moontlike reaksie van die huisbewoner wat om hulp gevra is. Hy reageer van binne af deur te sê hy kan nie help nie omdat dit reeds te laat in die nag is. Dit sal sy hele huishouding ontwrig.
Ons lees dan in Lukas 11:8 hierdie woorde: “Ek sê vir julle, selfs al staan hy nie op om dit vir hom te gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en vir hom gee wat hy nodig het omdat die man so onbeskaamd aanhou.” (2020-vertaling).
Volgens Dr. Murray is die eerste les wat Jesus vir sy dissipels leer oor die bron van krag vir gebed, dat die antwoord op gebed nie dadelik kom nie. Die Afrikaanse woord “aanhou” in die aangehaalde teks hierbo, maak ons juis bewus daarvan dat ons gebede méér die karakter het van ’n maraton as van ‘n kort, vinnige naelloop. Die uitnodiging is tot voortgaande verkeer voor God se aangesig, in sy teenwoordigheid, met verwagting en volharding.
Wat hier van belang is, skryf NT Wright, is dat die Here Jesus ons veral wil leer om heelhartig, met volle oorgawe, in afhanklikheid, en aanhoudend te bid. Die 2020-vertaling het die treffende uitdrukking, “onbeskaamd aanhou”. Die enkele punt van vergelyking wat Jesus volgens Wright wil uitlig, is ’n soort heilige onverskrokkenheid (“boldness”). Daarmee bedoel hy ’n dringende klop aan die deur, onophoudelike vra en ’n soeke na God se wil wat nie bes gee of die aftog blaas nie.
Dr. Murray wys verder daarop dat Jesus se onderrig oor kragtige gebed beklemtoon dat dit nie in iets is wat iemand vir homself soek nie, maar dat dit ten behoewe van ’n ander is. Hy moedig sy lesers aan om vir ander te begin bid. Juis dit gee die bidder vrymoedigheid om aan te hou bid en te oorwin. Laat ons God se uitnodiging om vir ander mense te bid omhels en die diens van die gebede met toewyding beoefen.
Dr. Murray beskryf God se gewilligheid om te seën met die woord “oneindig”. God se wil om ons te seën is onbegrens. God wil ons oorvloedig seën. Tog voel dit soms of die antwoord nie dadelik kom nie. In daardie tye leer ons om sterk te word in die geloof, en om tot onbeskaamdheid toe aan te hou. As die antwoord op die gebed nie kom nie, moenie mismoedig word nie, maar dring deur en kom nader, moedig Dr. Murray ons aan.
Ons mag en moet onbeskaamd aanhou om tot God in gebed te nader. Mag 2021 die eerste treë vir jou en my wees op hierdie leerkurwe.
Temas vir gebed
- Here, gee ons/my die begeerte om werklik te wil leer bid soos U dit vir ons bedoel.
- Maak ons harte wakker vir ander mense, Here, sodat ons hulle behoeftes voor U kan bring en self op dié wyse leer om soos Jesus te bid.
- Bid vir die regering vir wysheid en insig in die hantering van die pandemie – vir die harte en gesindhede van ons leiers.
Week van Gebed 2021 – Dag 3
Die Week van Gebed aan die begin van ’n nuwe jaar word binne ’n kerklike tradisie onderhou, omdat gemeentes en lidmate deur ervarings en omstandighede diep bewus is van die daaglikse uitdagings van die lewe. Gelowiges wat eerlik en opreg voor God leef, erken dat hulle nie self in beheer van die lewe is nie. Aan die begin van 2021 is die bewussyn van ons broosheid in ’n uitdagende wêreld waarskynlik nóg skerper as in die verlede, a.g.v. alles wat ons in 2020 beleef het. COVID-19 het ons tot stilstand geruk. Die pad vir die nuwe jaar lyk moontlik vir baie van ons minder gelyk en rooskleurig as wat dit al voorheen so op die draaipunt van ’n jaar was.
Daarom dink mens noodwendig aan bedreigings wat gemeentes in die gesig staar en wonder jy hoe om dié uitdagings in gebed te benader. Baie van ons is tans nie heeltemal seker oor hoe ons moet bid in ’n tyd soos hierdie nie. Meer mense bely dat hulle eintlik nie woorde het wanneer hulle wil bid nie. Baie ernstige kinders van die Here is onseker oor waarvoor hulle nou kan en selfs mag bid.
In Romeine 8:26 kry ons hierdie vertroostende woorde: “So kom die Gees ons ook in ons swakheid te hulp, want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie…” (2020 Vertaling)
In Romeine hoofstuk 5-8 beklemtoon Paulus die gelowiges in Rome se identiteit as vrygespreekte mense wat nuut is in Christus. Vir hierdie mense herinner hy in Romeine 8 dat hulle onder beheer van die Heilige Gees lewe (vers 1-17). Hy open hulle oë vir die heerlikheid van God wat kom (vers 18-30). Hy bring die heerlikheid wat kom in verband met die hoop wat ons nie sien nie en daarop met volharding wag. Dit is temas wat vir die kerk van Christus aan die begin van die nuwe jaar belangrik is. Ons moet ons identiteit in Christus omhels, die beheer van die Heilige Gees erken en ons hoop vestig op die trou van God in vreemde omstandighede.
Die troos vir ons as vrygespreekte nuwe mense in Christus aan die begin van 2021, is dat God beide óns harte ken, asook die bedoelinge van die Gees. Die Gees tree vir die heiliges in volgens die wil van God. Wonderlik! Die krag van gebed hang nie van ons woorde en temas af nie, maar van die Gees van God in ons wat die wil van God ken en ons versugtinge vir God aanneemlik oordra.
Dr. Andrew Murray roep sy lesers op: “Laat die stille, ootmoedige gebed gedurig uit ons hart opgaan – Here, leer my Bid!” Hy gaan verder met die versekering dat die Here ons deur sy Gees kan voorsien van alles wat nodig is om reg te bid. Hy kan ons hart verlig sodat ons kan verstaan wat nog vir ons duister is. Die Here Jesus kan ons geloof versterk en aan ons die vrymoedigheid gee om kragtig te bid. Jesus wil sy gebedslewe werklik aan ons meedeel. Vanuit die hemel kan Jesus, skryf Dr. Murray, deur sy Gees, sy eie gebedslus in ons harte opwek.
Temas vir gebed:
- Laat ons die Here pleit om ons deur sy Gees te voorsien van alles wat nodig is om reg te bid.
- Laat ons op God wag om ons harte te verlig sodat ons kan verstaan wat nog vir ons duister is, sodat ons kan bid vir die koms van God se koninkryk in die jaar wat voor ons lê.
- Ons bid vir dokters, verpleegkundiges en ander wat op die voorste linies in die stryd teen COVID-19 werk. Ons bid vir hulle vir beskerming, wysheid, insig en krag.