40 Dae 2022 – Dag 39

Vandag se dagstukkie dien as opsomming van ons Pinksterreeks oor die Koninkryk van die Hemel.  As jy die dagstukkies op ons website gevolg het en gewonder het wat het van dag 33-37 geword – dit was die dae waarop ons bymekaar gekom het vir die Pinksterdienste.  Jy kan na al vyf boodskappe gaan luister op [HIERDIE BLADSY].  Onthou om by die onderste een te begin.

Die Koninkryk is ‘n beter plek vir almal.  Ons het die wonderlike versekering en belofte van die Koninkryk van eendag waarin ons as kinders van die Here, sal kan deel. Die Here se Koninkryk moet egter alreeds vandag en elke dag in die wêreld sigbaar wees en daarom verwag Hy van ons dat ons die wêreld ‘n beter plek moet maak.  Dit beteken dat ons dinge moet doen wat vir die mense rondom ons sal wys dat daar iets beters is as die stukkende wêreld wat ons ken, dat hulle in ons doen en late die liefde en genade van die Here sal kan sien en ervaar.  Maak die wêreld ‘n beter plek!

 Die Koninkryk van die Hemel het Ridders van ‘n nuwe orde.   Die ridders van ouds was die manne wat veronderstel was om die voorbeeld te wees vir ander en hulle te help wat hulpeloos is.  Ongelukkig vertel die geskiedenis van ridders wat neergesien het op ander, vir wie dit net gegaan het oor hulle eie eer en hulle geld, besittings en grond.  Ons moet die uitsondering op die reël wees en nie so vansgevang word in ons eie status en mate van godsdienstigheid dat ons vergeet wat die Here van ons verwag nie.  Dat ons uitkyk sal verander sodat ons nie terugsit en vra wie is my naaste nie, maar eerder sal vra wie is daar nog vir wie ek ‘n naaste kan wees.

 Die Koninkryk vra liefde tot die verste uiterste.  Die Here sê pertinent vir ons dat ons ons vyande moet liefhê, maar Hy sê dit nie net nie, Hy wys dit ook!  Hy bid selfs vir die vergifnis van hulle wat Hom kruisig.  Meer as dit, Hy sterf ook vir hulle.  Hy sterf ook vir ons.  Paulus sê dat die Here vir ons gesterf het, toe ons nog vyande was.  Die Here verwag van ons dat ons liefde tot die verste uiterste ook aan ons vyande moet bewys.  Hierdie liefde beteken egter  nog iets moeiliker, en dit is dat ons ook vir hulle moet bid en sal wens dat dit met hulle moet goed gaan en dat hulle ook die guns en seën van die Here sal ontvang.

Die Koninkryk is ‘n Koninkryk van die hart.  Godsdiens kan baie maklik, te maklik, ‘n blote uiterlike handeling word wat maar net ‘n idee bly, iets waarmee ons ons dade wil regverdig, i.p.v om te doen wat die Here van ons verwag.  Daarom dat die Here sê dat ons wetsonderhouding meer moet inhou as die van die Fariseërs.  Die Fariseërs het ook gedink hulle is heilig, maar hulle godsdiens het belangriker geword as God self, omdat dit vir hulle net oor hulle self gegaan het.  Daarom sê die Here baie duidelik dat dit gaan oor om die Wil van die Vader te DOEN en nie ons eie eer en belang te soek nie.  DOEN die wil van die Here – sy Wil is liefde, vir Hom en vir mekaar.

Die Koninkryk is nie met bakstene gebou nie.  Oor die jare het die kerk in Suid-Afrika en reg oor die wêreld baie waarde begin heg aan wat ons het – ons geboue en fasiliteite, geld, mense, musiek instrumente en tegnologie.  Dit het die kriteria geword waarvolgens ons besluit of dit goed of sleg gaan in ‘n gemeente.  Die Here verwag egter van ons dat ons ‘n geestelike huis sal wees, gebou uit lewende stene.  Lewend gemaak deur die Here Jesus en lewend omdat ons geloof in ons lewens sigbaar word.  Wat ons weggee, die liefde wat ons wys, is belangriker as wat ons het.  Mag dit goed gaan met ons gemeente omdat ons dit regkry om vir mense te sorg en vir mekaar om te gee eerder as omdat ons baie goeters het.

Mag hierdie beginsels van die Koninkryk in elkeen van ons se lewens gestalte vind maar ook veral sigbaar word in die manier hoe ons gemeente leef.  Mag hierdie beginsels ook die besluite wat ons as gemeente neem, die projekte wat ons aanpak en al ons aktiwiteite bepaal.  Mag ons in alles wat ons doen wegkyk van onsself en alle eer aan God alleen bring en dit ook doen deur ‘n verskil in mense se lewens te maak deur die liefde wat ons daagliks uitleef.

40 Dae 2022 – Dag 38

Vandag se dagstukkie dien as ‘n opsomming van wat ons in die afgelope 40 Dae (die eerste 4 Sondae voor die Pinksterreeks) in ons eredienste oor gesels het.  Jy kan die hele reeks gaan luister op ons Preke Bladsy of direk op die reeks se bladsy deur [HIER TE KLIEK].  Luister van onder af boontoe want die nuutste preek is heelbo.

Die wêreld is onderstebo. So voel dit vir ons.  Alles is deurmekaar.  Maar ons het besef dat dit gaan oor perspektief.  Dit hang mos nou af van watter kant af ‘n mens ‘n saak beskou of dit vir jou gaan onderstebo lyk of nie.  Daarom het ons gesien dat die Here se Koninkryk teenoor die wêreld totaal onderstebo lyk.  Die waardes van die Koninkryk is anders as die van die wêreld.  Wat vir die wêreld belangrik is – eer, aansien, mag, selfverheerliking – staan teenoor dit wat in die Koninkryk belangrik is.

Ons enigste kans om die wêreld weer regtekant te bo te draai is om ons perspektief in te stel op die Koninkryk, God se Koninkryk daagliks te soek en deur die beginsels va die Koninkryk uit te leef, stukkie vir stukkie die wêreld in die direkte omgewing rondom ons te verander.

Om ons perspektief reg te draai moet ons dus weet watter kant is regtig bo en dit beteken om te weet Wie is bo.  Wie dit is wat regeer.  Op ‘n meesterlike manier bewys Matteus in die eerste 7 hoofstukke van sy evangelie dat Jesus waarlik die Messias is, die Hemelkoning wat moes kom.  Hy voldoen aan elke denkbare vereiste wat daar kon wees vir die Messias en vervul elke profesie wat op die die Koninkryk van die Hemel betrekking het.

In die volgende hoofstukke wys Matteus dan vir ons dat Jesus nie net die REGTE Koning is nie, maar dat Hy ook die REGTE mag het.  Hy het die mag oor die sonde, die dood, siekte, die bose en die natuur.  Elke vloek wat die sondeval in die wêreld ingebring het moet buig voor die mag van Koning Jesus.

In die Saligsprekinge (Matt 5:3-12) teken Jesus dan vir ons ‘n prentjie van wat belangrik is in sy Koninkryk.  Hy verduidelik wat dit is om werklik geseënd te wees.  Dit is anders en word anders gemeet as wat die wêreld wil voorgee dit is om geseënd te wees.  Dit gaan hier oor om te weet hoe afhanklik jy van God is, om arm van gees te wees – arm aan jou eie goedheid en aansien en eer en prestasie en ryk aan liefde en deernis, sagmoedigheid, opoffering…  Die Saligsprekinge gee ook vir ons ‘n prentjie van Jesus.  Hy is die voorbeeld wat ons behoort na te volg in die Koninkryk!

In Matteus 13 kry ons 8 Koninkryksgelykenisse.  In hierdie vier pare gelykenisse openbaar Jesus vir ons hoe ons moet leef of om sy Koninkryk in hierdie wêreld sigbaar te maak.  Ons moet sy woorde ter harte neem.  Dit nie net hoor nie, maar werklik luister en daarvolgens lewe.  Verder moet ons sy Koninkryk aan almal verkondig.  Tydig en ontydig!  Derdens moet ons ons oë oopmaak vir die ‘mostersaadjie en suurdeeg oomblikke’.  Om die klein dingetetjies wat die Here in ons en die mense om ons se lewens doen raak te sien.  Daardie klein, versteekte oomblikke wat groot impak kan hê.  Daardie dinge wat vir ons nietig en onbelangrik kan lyk, maar wat God wil gebruik vir groot dinge in sy Koninkryk.  En vierdens moet ons bereid wees om op te offer te wille van die Koninkryk.

Mag die wêreld ook na ons kyk en van ons sê soos hulle van Paulus en Silas gesê het in Handelinge 17:6-7

Dit is die mense wat die hele wêreld in beroering bring. (Die ESV sê ‘These men who have turned the world upside down’) Hulle is nou hier in ons stad, en Jason het vir hulle huisvesting gegee. Hulle handel almal in stryd met die keiser se wette en sê dat daar ‘n ander koning is, Jesus!”

40 Dae 2022 – Dag 32

Dit lyk hier aan die einde van Matteus 18 asof Petrus en die dissipels uiteindelik so stadig aan so klein bietjie van die koninkryk begin snap.  Na alles wat Jesus vir hulle geleer het oor die Koninkryk deur die Bergrede, wonderwerke en gelykenisse, begin hulle nou praktiese vrae vra oor wat dit vir hulle lewens beteken.

Petrus begin snap dat as Jesus sê dat ons soos kindertjies moet word, ons vyande moet liefhê, die ander wang moet draai, moet weet dit vat lyding en vervolging om Jesus te volg, aan ander moet doen wat ons graag aan onsself gedoen wil hê, nederig en sagmoedig moet wees, ensovoorts, ensovoorts… Maar hy kom nou agter dat dit beteken iets baie moeilik en ongemaklik in die praktyk: om ander te kan vergewe.

Nou wil Petrus sê “Okay, ek weet nou ek sal mense moet vergewe, maar hoeveel sal ek nou regtig vergewe?” (Matt 18:21) Petrus doen eintlik presies wat ons met so baie van die Bybel doen: hy soek ‘n loophole.  Hy hoor wat hy moet doen, maar wil dit net tot op ‘n punt doen waar dit nog vir hom gemaklik voel. Hy wil dit genoeg doen sodat hy sy gewete kan sus en kan sê “Ek het dit of dat darem gedoen…” maar nie genoeg doen dat dit werklik van harte is en iets van hom vra nie.

Jesus antwoord hom in vers 22 met ‘n uitklophou: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer.”  Daarmee wil Jesus nie vir Petrus ‘n wiskunde les gee nie, maar eerder juis vir hom sê dat hierdie nie iets is wat jy kan tel nie.  Daar is iets anders waaraan vergifnis gemeet word.

Jesus gaan dan verder en verduidelik wat Hy bedoel deur nog ‘n gelykenis van die Koninkryk te vertel.  Hy vertel van iemand wat ‘n onmoontlike hoeveelheid geld aan die koning geskuld het. Die koning kry hom jammer en spreek hom vry.  Hy stap uit en sien iemand wat hom weer geld skuld, maar slegs ‘n paar rand.  Maar in plaas daarvan om die persoon vry te spreek, soos wat hy vryspraak gekry het, gryp hy hom en wurg hom en wil hom in die tronk gooi om sy geld terug te kry.  Die koning was natuurlik woedend toe hy hiervan hoor en dan vra hy vir hom in vers 33: Moes jy nie ook jou medeamptenaar jammer gekry het soos ek jou jammer gekry het nie?”

Hoe vinnig het die amptenaar vergeet van die groot skuld waarvan hy vrygespreek is en so vinnig gewillig is om wraak te neem teen die volgende persoon vir die klein hoeveelheid wat hy geskuld het…?!

Die meetinstrument vir vergifnis is nie iets wat ons kan tel nie.  Die meetinstrument is die oneindige vergifnis wat God vir ons gegee het.  Stap een van vergifnis is om te onthou dat die Here my vergewe het. Dan kan ek begin “van harte” te vergewe soos Matteus 18:35 sê.  Dan kan ek begin om nie met haat nie, maar met deernis en liefde te reageer op dit wat mense doen.  Dit is party keer baie moeilik – voel soms amper onmoontlik!  Maar dit is lewensveranderend.

Natuurlik is die kompleksiteit van vergifnis so groot dat ons vir jare daaroor kan praat eerder as om ‘n enkele dagstukkie daaroor te skryf/te lees. Maar ten minste kan ons vandag hierdie Waarheid hoor: God is oneindig lief vir jou.  Hy het alles vir jou aan die kruis opgeoffer en jou vergewe vir jou sonde.  Laat ons dan in sy Koninkryk sy Wil op die aarde laat geskied, net soos in die hemel, deur ander te vergewe soos wat Hy ons vergewe.

40 Dae 2022 – Dag 31

Ons hoor dikwels dat mense iets sê soos: “ek glo soos ‘n kind”. En dan bedoel ons daarmee dat ons nie deurmekaar gemaak wil word met slim redenasies oor die Bybel of oor geloofswaarhede wat moeilik is om te verstaan nie.  Hulle sê boonop dat die woorde “om te glo soos ‘n kind”, iewers in die Bybel staan. Maar dit is een van daai goed wat in die volksmond begin transformeer het in “die Bybel sê mos…” maar wat nie in die Bybel staan nie.

Wat wel in die Bybel staan (en miskien is dit die woorde waarna verwys word) is Jesus se woorde in Matteus 18:3 – “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.”  (Sien ook Matt 19:13-15Mark 9:33-37; Mark 10:14-15Luk 9:48; Luk 18:17)

Om te glo soos ‘n kind is natuurlik deel daarvan, maar waarvan Jesus praat is om soos ‘n kind te word.  As ons mooi na ons klein kindertjies kyk dan sien ons dat die vergelyking wat Jesus gebruik baie dieper is en meer fasette het as dit wat ons gewoonlik bedoel met “om te glo soos ‘n kind”.  Natuurlik is daar hier ook iets van die eenvoud waarmee kinders na hul leefwêreld kyk hier teenwoordig. En natuurlik is daar baie oor God wat ons nie weet nie en nie verstaan nie en nog moet ontdek.

Maar om soos ‘n kindjie te word is nog meer as dit: kindertjies wat nog nie deur die sorge van die lewe aangetas is nie. Wat nog nie weet van rangordes en posisies of rykdom en armoede nie.  Kindertjies wat met opgewondenheid die wonder van die wêreld rondom hulle ontdek.  Wat met totale onbeperkte vreugde en oorgawe kan speel en lag en probleme oplos en nuwe maatjies maak.  Wat sonder vrees en met oorgawe kan spring en weet dat pappa my sal vang…  Dit is so mooi en goed en ons kan baie daaruit leer in ons eie verhouding met die Here.

Om te verstaan waarvan Jesus in hierdie verse (in Matteus, Markus én Lukas) praat, moet ons weet waarop Jesus reageer wanneer Hy hierdie woorde sê EN wat die posisie van ‘n kind was in die tyd van Jesus.

Die dissipels het begin stry oor wie die belangrikste in die Koninkryk was.  Daarin sien ons ook ons eie misverstand oor Jesus se Koninkryk. Want soos die dissipels hoor ons van die Koninkryk, maar ons gewone menslike reaksie is om te probeer uitwerk hoe ons die belangrikste/heiligste/grootste in hierdie sisteem kan wees.  Dit is op hierdie vraag wat Jesus reageer.  Hy verduidelik wat Hy bedoel in die volgende vers (18:4) – Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel.”

‘n Kind het geen eer of aansien in Jesus se tyd gehad nie. ‘n Kind het niks gehad om aan te bied op grond waarvan hy of sy aanspraak sou kon maak op iets so groot soos die ewige lewe nie. Daarteenoor het die belangrike mense met baie eer en aansien lang lyste van prestasies gehad wat hulle gedink het hulle sou kon aanbied.

Lukas se weergawe word voorafgegaan deur die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar (Luk 18:9-14).  Die Fariseër het by homself só gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee ’n tiende van my hele inkomste’. Hy sê dus: ‘Kyk hoe baie het ek om aan te bied. Kyk hoe getrou kom ek die wet na! Kyk hoeveel eer en status het ek! Kyk hoe belangrik is ek! Kyk hoeveel goeie dinge doen ek. Kyk hoe neem ek deel aan die werksaamhede van my kerk. Kyk hoe groot is my bydrae elke maand’. So iemand se hande is so vol van sy/haar eie prestasies en goeie werke dat daar nie plek beskikbaar is in sy/haar hande vir die genade wat God hom/haar aanbied nie.

Om die koninkryk van God soos ‘n kindjie te ontvang beteken om voor God te staan met NIKS! Dit is om staat te maak op God se genade alleen. Dit is om soos die tollenaar te sê: ‘O God, wees my, arme sondaar genadig!’ Dit is om te weet hoe afhanklik ek van God is. (Matt 5:3). Dit is om met leë hande voor God te staan sodat ek die ewige lewe, wat Hy my uit genade gee, kan vat.

Geseënd is hulle wat weet hoe afhanklik hulle van God is – wat weet dat hulle arm is aan hulle eie goedheid en aansien en eer en prestasie – want aan hulle behoort die koninkryk van God.

40 Dae 2022 – Dag 29

Ons is by hoofstuk 12 van Matteus en ons is vinnig besig om uit dae uit te hardloop.  Eintlik moet ons maar ‘n jaar of twee spandeer aan hierdie asemrowende boek!  Maar ter wille van die tyd wat oor is in ons 40 Dae gaan ons so bietjie meer selektief moet wees met die dele van Matteus wat ons tot volgende Sondag in ons dagstukkies gaan hanteer.  Ons slaan dus vir nou hoofstuk 13 oor en gaan aan in hoofstuk 14.  As jy egter graag dieper wil delf in Matteus 13 kan jy verlede week se preek luister wat juis oor hierdie hoofstuk gehandel het.

In Matteus 14:1-2 sien ons hoe Herodes reageer wanneer hy hoor van alles wat Jesus doen.  Dit gebeur ná die dood van Johannes die Doper en dit maak vir Herodes bang, want dit is hy self wat vir Johannes laat dood maak het.  Direk hierna (14:3-12) gaan Matteus terug om vir ons te vertel hoe dit gebeur het.  ‘n Verskriklike verhaal wat uitloop op Johannes se kop wat afgekap word.  Let mooi op na al die hebsug, selfsug, magsug en wellus wat hier tussen die wêreldse regeerders uitbroei.  Dit klink soos een verskriklike siek sepie!

Maar kyk nou hoe reageer die Hemelkoning op die nuus hiervan: Toe Jesus dit hoor, het Hy met ‘n skuit daarvandaan weggegaan na ‘n stil plek om alleen te wees. Die mense het hiervan gehoor en Hom van die dorpe af te voet gevolg.” (14:3)  Jesus wil eenkant wees om die verlies van iemand naby aan Hom te verwerk – Hy wil wegkom van mense af, en dan kom daar meer as 5000 mense met hul behoeftes na Hom toe. Dink hoe dit vir jou voel as jy ontsteld is en net wil hê mens moet jou uitlos! Sy reaksie op die klomp mense is egter vol liefde en deernis en Hy voorsien in hulle behoeftes.

Die wêreldse konings bedien afgekapte koppe in skottels vir hulle eie selfsugtige doeleindes.  Die Koning van die konings bedien mandjies vol brood en vis aan duisende mense wat dit nodig het.

Dink aan hierdie gebeure vanuit die dissipels se oogpunt.  Hulle het nou net gehoor van Johannes se dood, wat vir hulle ook ‘n verlies moes gewees het, maar dit moes hulle ook met vrees  vir hulle eie lewens vervul het.  En hulle wou waarskynlik ook op daardie stadium net alleen wees.  Nou sien hulle egter ook die skare se behoeftes raak, hulle is honger, maar Jesus sê dat hulle self iets daaraan moet doen (14:16).  Wat kan hulle daaraan doen? Hulle het nie ‘n manier om so baie mense te kan kos gee nie, want hulle het net 5 broodjies en 2 vissies.

Wat dan gebeur is wonderlik! Jesus sê “Bring wat julle het!” en Hy seën dit, breek dit en gee dit vir die dissipels terug sodat hulle dit kan uitdeel.

Hoe meer ons perspektief ingestel word op die Koninkryk, hoe meer gaan ons die gebrokenheid en die behoeftes van mense rondom ons begin raaksien.  Dan gaan ons ook nie anders kan nie as om dit na die Koning toe te bring sodat iets daaraan gedoen kan word.  En soos die dissipels gaan ons waarskynlik dan voel dat ons nie genoeg het om self iets daaraan te doen nie.  Maar Jesus sê “Bring wat jy het!” en as ons alles wat ons het bring (hoe min en klein en gebroke en onvoldoende en onervare dit ookal vir ons kan lyk), dan Hy neem dit en seën dit, breek dit/transformeer dit en gee dit vir ons terug sodat ons dit kan uitdeel.  Hy bemagtig ons om te bou aan sy Koninkryk!

Eintlik moet ons nou terug gaan en in die lig hiervan weer die Saligsprekinge lees (Matt 5:3-12): “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”

40 Dae 2022 – Dag 28

Kyk hoe briljant is Matteus geskryf!  Hoofstuk 11 eindig met Jesus se uitnodiging om by Hom rus te vind.  Direk daarna in Matteus 12 volg die gedeelte wat Jesus die sabbatdag, die rusdag kom vervul. Lees gerus Matteus 12:1-14 weer deur.

Jesus se dissipels het koring gepluk op die sabbat en die Fariseërs is dadelik ontsteld want dit oortree die wette en hulle gaan klik by Jesus daaroor.  Natuurlik om te kyk of Hy iets daaraan gaan doen.  Maar Jesus antwoord hulle nie net op so manier dat Hy weer openbaar Wie Hy is nie, maar wys ook hoe dit werk deur iemand op die sabbat te genees.

Eers iets oor die sabbatdag:  onthou dat die sabbatdag begin op Vrydagaand met sononder en duur tot Saterdagaand met sononder.  Dit is met ander woorde nie Sondag nie.  Sondag is die eerste dag van die week – die dag waarop die Here Jesus opgestaan het! (Lees gerus weer Matt 28:1)

Dan moet ons ook onthou hoe ernstig die Jode was oor die nakoming van die 4de gebod, dat ‘n mens nie op die sabbatdag mag werk nie.  Daarom het hulle ‘n hele klomp ekstra wette uitgedink om hulleself te beskerm daarteen dat hulle nie per ongeluk die Wet oortree nie.  So mag jy byvoorbeeld nie op die sabbat op ‘n stoel gesit het nie, want as die stoel ‘n streep op die grond trek dan het jy geploeg en het jy gewerk en oortree jy die Wet.  Dit was belangriker vir hulle om niks te doen nie as wat dit was om goed te doen! Dit gaan nog bietjie verder as alles wat ons vir jare lank uitgedink het wat ‘n mens nie op ‘n Sondag mag doen nie (my eie ma mag bv. op ‘n stadium as predikantsvrou nie op ‘n Sondag haar wasgoed opgehang het nie).

Jesus antwoord die Fariseërs eerstens met ‘n verwysing na Dawid wat as koning saam met sy soldate offerbrood geëet het (1 Sam 21:6).  Daarmee sê Hy dadelik iets oor sy eie Koningskap as ware Koning wat regeer.  Tweedens verwys Hy na die priesters wat ook op die sabbat dubbeld moes gewerk het (Num 28:9-10) en die sabbatsgebod oortree het, maar nie skuldig was nie. Daarmee sê Hy ook iets oor Homself as die Hoëpriester wat namens ons die offer bring (Vgl. Heb 9:11-12).

Maar dan bring Hy dit nog verder huistoe deur in vers 6 te sê: “Hier is Een wat groter is as die tempel.”  Die tempel was die woonplek van God. God se teenwoordigheid by sy volk.  Jesus is Immanuel – God met ons!  Hy gaan verder en tree as Profeet op en haal aan uit een van die profete (Hos 6:6) en sê in vers 7 en 8:

“As julle begryp het wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie,’ dan sou julle nie mense wat onskuldig is, veroordeel het nie. Die Seun van die mens is immers Here oor die sabbat.”

Jesus is die Koning, die Hoëpriester, God met ons, die Profeet, die Here! By HOM is daar rus!

In vers 9-14 wys Jesus waaroor dit gaan.  Nie oor ‘n ritualistiese en wettisistiese skyn-gehoorsaamheid aan die wet net ter wille van die wet en my eie sg. heiligheid nie.  Maar oor om goed te doen!

Jesus kom wys dat die Wet nie bedoel is om mense bang genoeg te maak vir die hel nie, maar om ons te wys wat dit beteken om in ‘n liefdevolle VERHOUDING met God en met ons naaste te lewe.  Hierdie doel kyk die Fariseërs (en ons!) mis wanneer ons die Wet van God reduseer tot slegs ‘n stel reëls wat ons gebruik om kindertjies bang te maak en om vingers na mekaar te wys.

Leef jy vir Jesus, doen jy goeie dinge en probeer jy om nie slegte dinge te doen nie, uit vrees vir die straf van God?  Of doen jy dit omdat jy lief is vir Jesus wat jou eerste liefgehad het?

40 Dae 2022 – Dag 27

Uitsig vanaf Berg Arbel oor die See van Galilea

Aan die westekant van die See van Galilea is die berg Arbel.  Van bo van hierdie berg het mens ‘n uitsig oor die hele meer en sou mens in Jesus se tyd ook die dorpies langs die kus daarvan duidelik kon sien.  Ook die drie dorpies aan die noordelike oewer waaroor Jesus ‘n oordeel uitspreek in Matteus 11:20-24 nl. Gorasin, Betsaida en Kapernaum.

Vir baie jare voor en ná Jesus se tyd was berg Arbel die skuilplek vir die Joodse Selote.  Hulle was fanatiese beskermers van die Joodse geloof en het vanuit die grotte in die berg met guerilla-oorlogvoering teen die Romeine geveg.  Die Selote se ideologieë was ‘n duidelik sigbare en hoorbare stem in die dorpe rondom die See van Galilea.  Een van die twaalf dissipels was vroeër ook deel van hierdie groep en het bekend gestaan as Simon die Seloot (Handl 1:13).  Geen wonder dat die Koninkryk van die Hemel wat Jesus kom aankondig het vir hulle ‘n bitter pil was om te sluk nie.  Hulle wou natuurlik wraak neem en baklei teen wat die onderdrukkers van die Romeinse ryk aan hulle en hulle godsdiens gedoen het.

Jesus praat as Profeet in bekende profetiese taal oor hierdie dorpe as Hy sê “Ellende wag vir julle…”  Net soos wat Jesaja die volk honderde jare vroeër gewaarsku het dat as hulle hulle nie bekeer nie en nie omdraai en eerder God se rigting volg nie, dit hulle ondergang sal beteken – dat Jerusalem sal val en dat hulle in ballingskap weggevoer sou word – so waarsku die Here ook hierdie dorpe.

Omdat my volk My nie wil ken nie, sal hulle in ballingskap weggevoer word. Volk en leiers sal saam van honger sterf, omkom van dors. Die doderyk maak sy keel wyd oop vir hulle, hy sper sy bek groot oop.  (Jesaja 5:13-14)

Jesus kom herinner hulle, in woorde wat vir hulle baie bekend moes klink, aan wat gebeur as mense aanhou met selfsug en wraaksug en geweld – meer geweld en moord en doodslag.  Dit was ook hierdie groep Selote se lot, reeds so vroeg as die oorlog teen Rome in 66-74 nC.

Die godsdienstige leiers van hierdie dorpe het die God van Israel geken en die geskiedenis van Israel geken.  Hulle weet hoe God werk met die onvrugbares (Abraham en Sara), die nat-agter-die-oor, selfvoldane tieners (Josef in Egipte), die kleinste en op-die-oog-af onaansienlikes (Koning Dawid) en ander om sy planne uit te voer.  Maar tog is politieke en godsdienstige mag en die stryd teen die Romeinse ryk vir hulle te belangrik.  Daarom maak Jesus se nederige herkoms en sagmoedige optrede en woorde vir hulle nie sin nie – is dit moeilik om Hom te volg en te vergewe, hul vyande lief te hê, die ander wang te draai, ens.

Jesus meen dat van almal wat van die Koninkryk van God gehoor het moes dit juis hierdie dorpe gewees het wat tot bekering gekom het.  Hulle moes die onderstebo karakter van sy Koninkryk raakgesien en omhels het.  Hulle het wonderwerk op wonderwerk gesien en eerstehands beleef hoedat Jesus dit wat Hy gepreek het as die waarheid bewys het deur dit uit te leef.  Maar hulle het eerder vasgeklou aan hulle eie eer en eie koninkryke.  Tog was dit die eenvoudiges, die kindertjies wat Jesus se woorde gehoor het en dit aanvaar het (Matt 11:25-26).

Jesus vra van mense om Hom te volg, om die “onnatuurlike”/onderstebo ding te doen en volgens Jesus se voorbeeld te leef, eerder as om die “natuurlike”/menslike ding te doen. En dit is moeilik om te doen.  Dit is moeilik om op te offer, moeilik om te vergewe, moeilik om ons vyande lief te hê.  Dit is moeilik om God se eer te soek eerder as ons eie, moeilik om mense wat volgens ons nie waardig is nie in te nooi, lief te hê en nie te veroordeel nie. Want die menslike natuurlike instink is juis die teenoorgestelde.

Maar dan sê Hy in die opvolgende verse vir mense (wat Hy weet dit moeilik vind om sy Koninkryk te soek) om na Hom toe te kom en Hy sal vir hulle rus gee. Hy wat die mag oor siekte, sonde, dood, die bose en die natuur het, en ook die mag oor die Romeinse en elke ander ryk het – Hy nooi ons uit om by Hom te kom rus vind.  Die juk, die las van om in hierdie onderstebo Koninkryk te leef, om Hom te volg – Hy is daar om daardie las vir ons ligter te maak.  Om ons te help dra.  Hy is vir ons die voorbeeld. Hy is ons bron van krag.  By Hom vind ons rus.

 

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.” (Matteus 11:28-30)

40 Dae 2022 – Dag 25

Toe my pa die eerste Zorro fliek van Antonio Banderas gesien het was hy so bietjie teleurgesteld.  Hy het gevoel daar was heeltemal te min aksie.  Die gemaskerde held het na sy mening te min van die meesterlike swaardgevegte en aksietonele gehad wat van Zorro Zorro gemaak het.  Toe het hy gesê die fliek het bietjie min “Zorro goedjies” in.  So sedertdien het ons gesin altyd na enige iets met te min aksie so verwys dat daar “te min Zorro goedjies in is”.

In Matteus 11 sien ons een van die reaksies van die klomp gemengde reaksies op Jesus se bediening waarvan ons Sondag gepraat het. En dit is ‘n moeilike een omdat dit van een die mense naaste aan Jesus kom.  ‘n Groot figuur wat deel is van Jesus se koms en die aankondiging van sy Koninkryk: Johannes die Doper.

In Matteus 3, net voordat Johannes vir Jesus doop, verkondig Johannes dat Jesus die Messias is wat moes kom.  Hy maak die pad vir die Here gereed, doop Hom en sien hoedat die hemel oopgaan en die Gees op Jesus neerdaal.  Maar hier in Matteus 11:2-3 hoor ons dat Johannes begin twyfel nadat hy gehoor het wat Jesus alles doen:

Johannes het in die tronk gehoor wat Christus alles gedoen het, en het toe deur sy volgelinge ‘n boodskap aan Hom gestuur om te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?”

Jesus gee in vers 5 ‘n opsomming (en ‘n aanhaling uit Jesaja!) van alles wat Hy besig is om te doen as sy antwoord aan Johannes: Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig.”

As ons dit vergelyk met wat Johannes gesê het (volgens sy eie verwagtings!) Jesus gaan kom doen, sy idee van hoe die Koninkryk gaan lyk, en ons onthou waar Johannes homself bevind, dan verstaan ons beter waar sy vertwyfeling vandaan kom.  In Matteus 3:11-12 sien ons wat Johannes se verwagting was van die koms van die Koninkryk:

Ek doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. Hy het sy skop in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met ‘n onblusbare vuur verbrand.

Hy het ook, soos baie ander, ‘n verwagting gehad dat die koms van die Koninkryk bietjie meer “Zorro goedjies” gaan inhê. Hy het verwag dat Jesus die ystervuis van God hard gaan afbring en die regeerders en die wat vir hulleself mag toe-eien gaan vermorsel. Nou sit hy in een van daardie maghebbers se tronk en wonder hoekom doen die Messias nie iets bietjie meer “Messias-rig” nie.

Maar Jesus sê dat die Koninkryk is hier (11:12), maar dat dit selfs vir iemand soos Johannes, nie kom op die manier wat mense dit verwag nie.  Dit is anders as die wêreld, onderstebo.  En dit is weereens so mooi opsomming van hoe die Koninkryk kom – in Jesus wat kom om te genees en uit liefde vir mense te sterf aan die kruis.  Dit wat vir die wêreld gelyk het soos ‘n mislukking – ‘n Messias wat sterf – daarin lê juis die oorwinning en die openbaring van die Koninkryk.

Jesus wys dat dit nie gaan oor dit wat ons dink ons weet nie, maar word openbaar in dit wat Hy doen.  In Vers 19 sê Hy: “Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.”  Sy oneindige liefde word sigbaar in sy werke!

40 Dae 2022 – Dag 24

Omtrent, amper presies, twee jaar terug het ons ook by Matteus 10 stil gestaan.  Dit was net ná die oorspronklike 21 dae grendeltyd vir die eerste keer uitgestel is.  Hier is ons 2 jaar later en kan ons terugkyk en weer die Waarheid van hierdie woorde hoor en in dankbaarheid voor die Here staan.

Onthou waarmee is Jesus besig in hoofstuk 10.  Hy stuur sy dissipels uit om die Evangelie van die Koninkryk te gaan verkondig (10:7). En Hy waarsku hulle dat hulle teenkanting en vervolging moet verwag.  Dit is nie ‘n moontlikheid dat dit dalk kan gebeur nie, dit is ‘n voldwonge feit dat hulle lyding en vervolging sal beleef. Dat hulle uitgelewer en gehaat sal word (10:22).

Dit is binne hierdie konteks dat die Here Jesus sy dissipels wil verseker dat hulle nie vir mense moet bang wees nie (10:26).  Maar hoekom nie?  As dit dan ‘n feit is dat mense hulle sal haat en uitlewer en vervolg, waarom moet hulle nie bang wees nie?

In Matteus 10:29 lees ons die rede:

“Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie”

Maar as ons so bietjie aan die woorde krap soos hulle hier in die 1983 vertaling staan, dan kan ‘n mens tog wonder of wil die Vader dan hê die mossies moet val?  Is dit genoeg rede om nie bang te wees nie?  Troos vir mense wat weet dat hulle soos skape tussen wolwe moet ingaan (10:16)?

As ons in ‘n Engelse vertaling lees dan klink dit so:

“But not a single sparrow can fall to the ground without your Father knowing it.”

Dit is waar, maar tog laat dit ook ‘n mens wonder – want beteken dit Hy weet dat die mossies val, maar Hy doen niks daaraan nie?  Hy weet van ons lyding, maar laat dit net toe…?

Die Ou Vertaling (1953) en die Nuwe Direkte Vertaling (2020) help ons, omdat dit die naaste is aan wat in die oorspronklike Grieks daar staan:

En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie.

Mossies mag dalk val, maar die Vader is DAAR! Hy is by ons teenwoordig, selfs al val ons, is Hy by ons.  Wanneer ons uitgaan om die Evangelie van die Koninkryk te verkondig, kan ons weet God is by ons.  Hy gaan saam met ons.

Om die Koninkryk te soek en te verkondig is nie populêr in ‘n wêreld wat onderstebo geraak het nie.  In ‘n wêreld waar dit nodig geraak het om onderstebo te leef om die wêreld weer regtekant bo te kan draai.  Om ons perspektief in te stel op die Koninkryk is nie maklik nie – dit vra opoffering.  Maar ons kan hoop skep want die Here is by ons!  Hy dra ons.

Dit bring vir ons troos (vers 30-31):

“Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”

40 Dae 2022 – Dag 23

In Matteus 9:27 sien ons vir die eerste keer dat iemand vir Jesus erken en aanspreek as die Messias.  Onthou hoe noukeurig het Matteus van die begin af keer op keer vir ons gewys dat Jesus die Messias is.  Hy is die Koning wat moes kom – die Gesalfde van God.  In 1:1 kondig hy Jesus aan as die Seun van Dawid.  Onthou dat God belowe het dat die Messias uit die huis van Dawid sou kom (2 Sam 7:12-13).

En ons wat die storie lees kan sien dat daar baie mense is wat deur Jesus se optredes begin het om agter te kom dat Hy wel die Messias is.  Maar dit is hier in hoofstuk 9 eers waar iemand hom aanspreek met die titel wat in 1:1 alreeds aan Hom gegee is.  Maar wie is dit wat vir Jesus herken vir Wie Hy werklik is?  Twee blindes!  Voordat hulle kan sien, sien hulle al dat Jesus die Seun van Dawid is.  Wanneer daar gesê word dat Jesus blindes laat sien het, dan is dit meer as net dat Hy hulle oë genees het.  Hy het Homself kom openbaar op so manier dat dit selfs sigbaar is Wie Hy is vir mense wat nie eers met hulle oë kan sien nie.

Kyk ook hoe hulle reageer wanneer hulle genees is – hulle gaan vertel in die hele omgewing van Jesus.  Maar natuurlik is dit nie vir almal waar nie. Direk na hierdie wonderwerk genees Jesus ‘n man wat stom was a.g.v. ‘n bose gees.  Hierop reageer die menigte in vers 33 met verwondering en hulle sê: “So iets het nog nooit in Israel gebeur nie.”

Daarteenoor sien ons die Fariseërs se reaksie wat met wantroue en moedswilligheid reageer en hulle beskuldig vir Jesus daarvan dat Hy self met die duiwel se hulp hierdie geeste uitdryf.  Hoe verskillend is die reaksies van die blindes, die skare en die Fariseërs?  En wat is dit wat die verskil tussen hulle maak?

Die kort antwoord is GELOOF!  Maar dit opsig self is ook natuurlik ‘n hele studie op sy eie om te verstaan wat ons bedoel met geloof.  Ons haak partykeer vas by ons eie idee van wat geloof is.  Aan die een kant beperk ons dit tot ‘om te glo dat iets waar is of nie’.  Soos wat ons sou reageer wanneer iemand vir ons ‘n storie vertel van iets wat hulle gedoen het – dat ons besluit of ons dink dit is waar of nie, of ons dit glo of nie.   Maar hier is tog iets meer aan die gang.  Die blindes, die menigte en die Fariseërs het almal self GESIEN wat Jesus gedoen het.  Hulle weet dit wat Hy gedoen het is waar, maar net van hulle het geglo.

Aan die anderkant praat ons partykeer van ons geloof, maar dan bedoel ons eintlik ons godsdiens. Die goeters wat deel van ons ‘geloofslewe’ vorm – gebed, kerk toe gaan, Bybellees, ens.  Maar dit is nie dit wat gemaak het dat die blindes sien nie.

Nee die geloof wat hier aan die werk is, was reeds by die blindes teenwoordig voordat Jesus hulle genees het.  Ons lees in vers 28 en 29:

“Hy vra toe vir hulle: ‘Glo julle dat Ek dit kan doen?’
‘Ja, Here,’ antwoord hulle Hom.
Toe raak Hy aan hulle oë en sê: ‘Wat julle glo, sal gebeur.’ “

Hulle het op Jesus vertrou!  Hulle het vertrou dat Hy is Wie Hy sê Hy is en dat Hy doen wat Hy sê Hy doen.  Dit bring ons terug na die punt waar ons gister by uit gekom het.  Om na Hom toe te kom in afhanklikheid en met die belydenis dat ons Hom bo alles nodig het.  Dat ons bely dat ons planne en manier van dinge doen nie so goed is soos Jesus se Wil en sy plan vir ons nie.  Dit bring ons terug by die Saligsprekinge – om te weet hoe afhanklik ons van God is.  Dit is hierdie tipe geloof wat maak dat ons ons kan “bekeer want die Koninkryk van die Hemel het naby gekom”.

Gaan ons negatief reageer op Jesus en sy Koninkryk en ons harte gesluit hou en eerder nog vashou aan ons eie eer en eie planne?  Gaan ons verwonderd en verbaas staan oor wat Hy gedoen het, maar nie toelaat dat dit enige iets in ons harte verander nie?  Of gaan ons oorgee in totale vertroue in Hom en in Hom glo en Hom volg?