Vandag se dagstukkie dien as opsomming van ons Pinksterreeks oor die Koninkryk van die Hemel. As jy die dagstukkies op ons website gevolg het en gewonder het wat het van dag 33-37 geword – dit was die dae waarop ons bymekaar gekom het vir die Pinksterdienste. Jy kan na al vyf boodskappe gaan luister op [HIERDIE BLADSY]. Onthou om by die onderste een te begin.
Die Koninkryk is ‘n beter plek vir almal. Ons het die wonderlike versekering en belofte van die Koninkryk van eendag waarin ons as kinders van die Here, sal kan deel. Die Here se Koninkryk moet egter alreeds vandag en elke dag in die wêreld sigbaar wees en daarom verwag Hy van ons dat ons die wêreld ‘n beter plek moet maak. Dit beteken dat ons dinge moet doen wat vir die mense rondom ons sal wys dat daar iets beters is as die stukkende wêreld wat ons ken, dat hulle in ons doen en late die liefde en genade van die Here sal kan sien en ervaar. Maak die wêreld ‘n beter plek!
Die Koninkryk van die Hemel het Ridders van ‘n nuwe orde. Die ridders van ouds was die manne wat veronderstel was om die voorbeeld te wees vir ander en hulle te help wat hulpeloos is. Ongelukkig vertel die geskiedenis van ridders wat neergesien het op ander, vir wie dit net gegaan het oor hulle eie eer en hulle geld, besittings en grond. Ons moet die uitsondering op die reël wees en nie so vansgevang word in ons eie status en mate van godsdienstigheid dat ons vergeet wat die Here van ons verwag nie. Dat ons uitkyk sal verander sodat ons nie terugsit en vra wie is my naaste nie, maar eerder sal vra wie is daar nog vir wie ek ‘n naaste kan wees.
Die Koninkryk vra liefde tot die verste uiterste. Die Here sê pertinent vir ons dat ons ons vyande moet liefhê, maar Hy sê dit nie net nie, Hy wys dit ook! Hy bid selfs vir die vergifnis van hulle wat Hom kruisig. Meer as dit, Hy sterf ook vir hulle. Hy sterf ook vir ons. Paulus sê dat die Here vir ons gesterf het, toe ons nog vyande was. Die Here verwag van ons dat ons liefde tot die verste uiterste ook aan ons vyande moet bewys. Hierdie liefde beteken egter nog iets moeiliker, en dit is dat ons ook vir hulle moet bid en sal wens dat dit met hulle moet goed gaan en dat hulle ook die guns en seën van die Here sal ontvang.
Die Koninkryk is ‘n Koninkryk van die hart. Godsdiens kan baie maklik, te maklik, ‘n blote uiterlike handeling word wat maar net ‘n idee bly, iets waarmee ons ons dade wil regverdig, i.p.v om te doen wat die Here van ons verwag. Daarom dat die Here sê dat ons wetsonderhouding meer moet inhou as die van die Fariseërs. Die Fariseërs het ook gedink hulle is heilig, maar hulle godsdiens het belangriker geword as God self, omdat dit vir hulle net oor hulle self gegaan het. Daarom sê die Here baie duidelik dat dit gaan oor om die Wil van die Vader te DOEN en nie ons eie eer en belang te soek nie. DOEN die wil van die Here – sy Wil is liefde, vir Hom en vir mekaar.
Die Koninkryk is nie met bakstene gebou nie. Oor die jare het die kerk in Suid-Afrika en reg oor die wêreld baie waarde begin heg aan wat ons het – ons geboue en fasiliteite, geld, mense, musiek instrumente en tegnologie. Dit het die kriteria geword waarvolgens ons besluit of dit goed of sleg gaan in ‘n gemeente. Die Here verwag egter van ons dat ons ‘n geestelike huis sal wees, gebou uit lewende stene. Lewend gemaak deur die Here Jesus en lewend omdat ons geloof in ons lewens sigbaar word. Wat ons weggee, die liefde wat ons wys, is belangriker as wat ons het. Mag dit goed gaan met ons gemeente omdat ons dit regkry om vir mense te sorg en vir mekaar om te gee eerder as omdat ons baie goeters het.
Mag hierdie beginsels van die Koninkryk in elkeen van ons se lewens gestalte vind maar ook veral sigbaar word in die manier hoe ons gemeente leef. Mag hierdie beginsels ook die besluite wat ons as gemeente neem, die projekte wat ons aanpak en al ons aktiwiteite bepaal. Mag ons in alles wat ons doen wegkyk van onsself en alle eer aan God alleen bring en dit ook doen deur ‘n verskil in mense se lewens te maak deur die liefde wat ons daagliks uitleef.
Vandag se dagstukkie dien as ‘n opsomming van wat ons in die afgelope 40 Dae (die eerste 4 Sondae voor die Pinksterreeks) in ons eredienste oor gesels het. Jy kan die hele reeks gaan luister op ons
Dit lyk hier aan die einde van Matteus 18 asof Petrus en die dissipels uiteindelik so stadig aan so klein bietjie van die koninkryk begin snap. Na alles wat Jesus vir hulle geleer het oor die Koninkryk deur die Bergrede, wonderwerke en gelykenisse, begin hulle nou praktiese vrae vra oor wat dit vir hulle lewens beteken.
Ons hoor dikwels dat mense iets sê soos: “ek glo soos ‘n kind”. En dan bedoel ons daarmee dat ons nie deurmekaar gemaak wil word met slim redenasies oor die Bybel of oor geloofswaarhede wat moeilik is om te verstaan nie. Hulle sê boonop dat die woorde “om te glo soos ‘n kind”, iewers in die Bybel staan. Maar dit is een van daai goed wat in die volksmond begin transformeer het in “die Bybel sê mos…” maar wat nie in die Bybel staan nie.
Ons is by hoofstuk 12 van Matteus en ons is vinnig besig om uit dae uit te hardloop. Eintlik moet ons maar ‘n jaar of twee spandeer aan hierdie asemrowende boek! Maar ter wille van die tyd wat oor is in ons 40 Dae gaan ons so bietjie meer selektief moet wees met die dele van Matteus wat ons tot volgende Sondag in ons dagstukkies gaan hanteer. Ons slaan dus vir nou hoofstuk 13 oor en gaan aan in hoofstuk 14. As jy egter graag dieper wil delf in Matteus 13
Kyk hoe briljant is Matteus geskryf! Hoofstuk 11 eindig met Jesus se uitnodiging om by Hom rus te vind. Direk daarna in Matteus 12 volg die gedeelte wat Jesus die sabbatdag, die rusdag kom vervul. 

Toe my pa die eerste Zorro fliek van Antonio Banderas gesien het was hy so bietjie teleurgesteld. Hy het gevoel daar was heeltemal te min aksie. Die gemaskerde held het na sy mening te min van die meesterlike swaardgevegte en aksietonele gehad wat van Zorro Zorro gemaak het. Toe het hy gesê die fliek het bietjie min “Zorro goedjies” in. So sedertdien het ons gesin altyd na enige iets met te min aksie so verwys dat daar “te min Zorro goedjies in is”.
Omtrent, amper presies, twee jaar terug het ons ook by Matteus 10 stil gestaan. Dit was net ná die oorspronklike 21 dae grendeltyd vir die eerste keer uitgestel is. Hier is ons 2 jaar later en kan ons terugkyk en weer die Waarheid van hierdie woorde hoor en in dankbaarheid voor die Here staan.
In Matteus 9:27 sien ons vir die eerste keer dat iemand vir Jesus erken en aanspreek as die Messias. Onthou hoe noukeurig het Matteus van die begin af keer op keer vir ons gewys dat Jesus die Messias is. Hy is die Koning wat moes kom – die Gesalfde van God. In 1:1 kondig hy Jesus aan as die Seun van Dawid. Onthou dat God belowe het dat die Messias uit die huis van Dawid sou kom (2 Sam 7:12-13).