40 Dae 2022 – Dag 25

Toe my pa die eerste Zorro fliek van Antonio Banderas gesien het was hy so bietjie teleurgesteld.  Hy het gevoel daar was heeltemal te min aksie.  Die gemaskerde held het na sy mening te min van die meesterlike swaardgevegte en aksietonele gehad wat van Zorro Zorro gemaak het.  Toe het hy gesê die fliek het bietjie min “Zorro goedjies” in.  So sedertdien het ons gesin altyd na enige iets met te min aksie so verwys dat daar “te min Zorro goedjies in is”.

In Matteus 11 sien ons een van die reaksies van die klomp gemengde reaksies op Jesus se bediening waarvan ons Sondag gepraat het. En dit is ‘n moeilike een omdat dit van een die mense naaste aan Jesus kom.  ‘n Groot figuur wat deel is van Jesus se koms en die aankondiging van sy Koninkryk: Johannes die Doper.

In Matteus 3, net voordat Johannes vir Jesus doop, verkondig Johannes dat Jesus die Messias is wat moes kom.  Hy maak die pad vir die Here gereed, doop Hom en sien hoedat die hemel oopgaan en die Gees op Jesus neerdaal.  Maar hier in Matteus 11:2-3 hoor ons dat Johannes begin twyfel nadat hy gehoor het wat Jesus alles doen:

Johannes het in die tronk gehoor wat Christus alles gedoen het, en het toe deur sy volgelinge ‘n boodskap aan Hom gestuur om te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?”

Jesus gee in vers 5 ‘n opsomming (en ‘n aanhaling uit Jesaja!) van alles wat Hy besig is om te doen as sy antwoord aan Johannes: Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig.”

As ons dit vergelyk met wat Johannes gesê het (volgens sy eie verwagtings!) Jesus gaan kom doen, sy idee van hoe die Koninkryk gaan lyk, en ons onthou waar Johannes homself bevind, dan verstaan ons beter waar sy vertwyfeling vandaan kom.  In Matteus 3:11-12 sien ons wat Johannes se verwagting was van die koms van die Koninkryk:

Ek doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. Hy het sy skop in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met ‘n onblusbare vuur verbrand.

Hy het ook, soos baie ander, ‘n verwagting gehad dat die koms van die Koninkryk bietjie meer “Zorro goedjies” gaan inhê. Hy het verwag dat Jesus die ystervuis van God hard gaan afbring en die regeerders en die wat vir hulleself mag toe-eien gaan vermorsel. Nou sit hy in een van daardie maghebbers se tronk en wonder hoekom doen die Messias nie iets bietjie meer “Messias-rig” nie.

Maar Jesus sê dat die Koninkryk is hier (11:12), maar dat dit selfs vir iemand soos Johannes, nie kom op die manier wat mense dit verwag nie.  Dit is anders as die wêreld, onderstebo.  En dit is weereens so mooi opsomming van hoe die Koninkryk kom – in Jesus wat kom om te genees en uit liefde vir mense te sterf aan die kruis.  Dit wat vir die wêreld gelyk het soos ‘n mislukking – ‘n Messias wat sterf – daarin lê juis die oorwinning en die openbaring van die Koninkryk.

Jesus wys dat dit nie gaan oor dit wat ons dink ons weet nie, maar word openbaar in dit wat Hy doen.  In Vers 19 sê Hy: “Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.”  Sy oneindige liefde word sigbaar in sy werke!