Loer weekliks hier in vir bietjie ekstra stof in ons reis deur Paulus se Efesiërs-brief.
Efesiërs 5:15-6:9 – Verstandige Verhoudings
In vers 15-18 gee Paulus vir ons 3 kontraste waarmee hy verskil tussen die ou en nuwe lewe verder verduidelik:
- Onwys vs. Wysheid – Wysheid hier gaan oor om my eie onvermoë as mens te erken en my lewe onder die heerskappy en leiding van Iemand Groter as myself te stel.
- Dwaas vs. Onderskeiding – Om dwaas te wees is om nie in staat te wees daartoe om te kan onderskei hoe ‘n mens moet lewe of wat die doel van my bestaan is nie. Onderskeiding van God se wil daarteenoor is om te soek na wat vir God aanneemlik is omdat my lewe deur sy liefde en wysheid gevorm word.
- Dronkenskap vs. Vervul deur die Gees – Die bedoel is nie dat mens nou moet “dronk word met die Gees” nie. Dit gaan hier oor eksterne invloede. Die eksterne invloed van drank vertroebel jou vermoë om wyse keuses te maak en volgens God se wil te lewe. Die invloed van die Gees vervul ons egter met die volheid van God.
Die manier hoe Paulus tot dusver in die brief gepraat het van vervulling help om ons om te verstaan waarmee die Gees ons dan hier vervul. Dit gaan oor die volheid van God, die volledige inwoning van God, almeer gevorm om sy beeld te vertoon:
- 1:23 – “die kerk wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vul.”
- 2:21-22 – “In Hom verrys die hele gebou, goed saamgevoeg, tot ‘n heilige tempel in die Here. In Hom word julle ook saam opgebou tot woonplek van God deur die Gees.”
- 3:16-17,19 – “…om deur sy Gees met krag na die innerlike mens versterk te word, sodat Christus deur die geloof in julle harte mag woon… ja, om die liefde van Christus te leer ken, wat alle begrip te bowe gaan, sodat julle gevul mag word met al die volheid van God.”
- 4:13 – “totdat ons almal kom tot eenheid in geloof en in kennis van die Seun van God, en tot ‘n volwassenheid wat in ooreenstemming is met die volgroeide gestalte van die volheid van Christus.”
Die Gees wat in sy Kerk – sy nuwe tempel, nuwe woonplek – kom woon het natuurlik ook ‘n invloed op die manier waarop hierdie geloofsgemeenskap saam aanbid. Op die liturgie van die”nuwe tempel”:
- “Praat met mekaar” met psalms – om toe te laat dat die wysheid en waarheid van Bybelse poësie die manier hoe ons praat en dink beïnvloed en vorm
- Van harte tot die Here sing – Liedere bind die geloofsgemeenskap saam en bring ons nader aan mekaar en aan Jesus. Dit vorm ons harte en gee inhoud aan ons geloof.
- Dank God oor alles – om met mekaar ons belewenisse van God se liefde en teenwoordigheid te deel en saam daardeur versterk kan word en ons fokus nog meer op God ingtestel kan word.
- Onderdanig aan mekaar – Uit eerbied vir Christus wat ons Here is en Homself vir ons gegee het, onsself aan mekaar gee in liefde en diensbaarheid
Dit is baie belangrik om die “aan mekaar” van 5:21 raak te lees. Die onderdanigheid gebeur uit eerbied vir Christus en moet in verhoudings van altwee kante af kom. Huweliksmaats moet hulleself vir mekaar gee, vir mekaar lewe, mekaar gelukkig maak, mekaar se belange eerste stel.
Die volgende sleutel is die voorbeeld van Christus. Oor en oor sê Paulus “soos Christus”. Soos wat die Here Homself vir sy Kerk oorgegee het, so moet die mans ook hulleself vir hulle vrouens gee. Reeds in 4:15 het ons gesien dat wanneer Paulus van Jesus as die hoof van die liggaam praat dan gebruik hy ‘n woord wat “oorsprong” of “bron” beteken. Hier gebruik hy dieselfde woord as hy van die mans as hoof van die vrou praat. Net soos wat die Here die vrou vanuit die man gemaak het (Gen 2;21-23), juis so is die man ook die bron van die vrou wat vir haar moet sorg soos wat Christus sy kerk versorg.
Verstandige verhoudings word gebou op wyse en verstandige keuses onder die leiding van die vervulling van die Heilige Gees. Wanneer ons dan Jesus se selfopofferende voorbeeld volg en onsself vir mekaar gee, dan gebeur die wonderwerk van die huwelik soos wat God dit bedoel het.
Efesiërs 5:3-14 – Loop in die Lig
Hierdie teks is weer een van daai wat wys hoe belangrik dit is om die konteks van die res van die brief in gedagte te hou wanneer ons dit lees. As ons dit buite konteks lees loop ons die gevaar om dit bloot moralisties te sien en Paulus oor identiteit en dit wat GOD alreeds vir ons gedoen het mis te kyk.
Onthou hy is besig om vir sy lesers te vertel dat hulle moet word wat hulle REEDS in Christus IS. Hulle is nie meer wat hulle was nie. Hulle is nie meer heidene nie, hulle is iets heeltemal nuuts – hulle is nou die uitgeroepte Kerk van God. Hulle is nie meer dood nie, nie meer ver van God af nie, nie meer vreemdelinge nie. God het hulle in Christus lewend gemaak, nader gebring, deel van sy huisgesin gemaak.
Omdat hulle nie meer is wat hulle was nie moet hulle die ou self aflê en hulle denke laat vernuwe en die nuwe mens aantrek. Lewe soos nuwe mense! (4:22-24)
Dit is op dieselfde trant wat Paulus hier voortgaan. Nou gebruik hy die beelde van lig en donker om sy punt verder te maak.
Die praktyke van die duisternis pas nie meer by hulle lewe nie, want hulle is nou lig. Daarom sê Paulus in vers 3-5 dat onsedelikheid/ontug/gierigheid onvanpas is, en daarvan mag daar geen sprake by hulle wees nie. Hy sê ook dat sulke mense (hoereerders, onreines, gierigaards) nie ‘n erfdeel aan God se Koninkryk het nie. Dit is nie meer wie hulle is nie – hulle het reeds erfgename van God geword (1:13-14). ” Moet dus nie deel van hulle wees nie. Want vroeër was julle wel duisternis, maar nou, in die Here, is julle lig. Leef as kinders van die lig!” (5:7-8)
Dit help nie ons hou onsself besig met die dinge van die duisternis nie. Dit is vrugteloos. Nee ons moet eerder besig wees om die vrug van die lig na te jaag – goedheid en geregtigheid en waarheid (v. 9) en te soek na dit wat vir die Here aanneemlik is (v. 10). Hoor jy die verskil? In plaas van om onsself besig te hou met wat sonde is en wat nie, is ons eerder besig met dit wat goed is.
Die lig is nie net die teenoorgestelde van die duisternis nie. Dit ontmasker die duisternis sodat ons dit kan sien vir wat dit werklik is. Dan kan die vyand ons nie meer verlei met die dinge van die duisternis nie, want hy kan dit nie meer versteek as iets wat vir ons goed is nie. Om in die lig te lewe is om so te lewe dat jy niks hoef weg te steek nie. En daar sit groot vryheid en vrede daarin om so te lewe!
Die lied in vers 14 herinner ons waar hierdie lig vandaan kom. Dit is nie ons lig nie, dit kom nie uit ons eie krag nie. Dit is Jesus wat ons opwek uit die dood en sy Lig oor ons skyn. Dit is Hy wat ons gemaak het wat ons nou is. In Hom IS ons lig. Dit is alles net genade. Daarom kan ons in die lig lewe met danksegging (v. 4).
Efesiërs 4:17-5:2 – Die ABC van Nuwe Lewe
Regdeur die eerste 3 hoofstukke was dit baie duidelik vir wie Paulus skryf: die brief is bedoel vir heidene. Nie ongelowiges nie, maar nie-Jode, “gentiles” wat tot geloof in die Here gekom het. Maar dan in 4:17 sê Paulus: “Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks”. Hulle is dan heidene, hoe kan hulle nie meer soos heidene lewe nie. Maar dis juis die punt wat Paulus op briljante wyse maak: hulle is NIE MEER heidene nie, hulle is nou nuwe skepsels. Hulle identiteit het verander! Paulus wil hulle help om te word soos wie hulle werkllik reeds is.
Hy het dit eintlik reeds op verskeie maniere gesê. Soos in 2:4-5 waar hy sê dat ons was dood, maar nou lewe: “Maar God, ryk in barmhartigheid, het ons, alhoewel ons dood was as gevolg van die oortredings, op grond van sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, saam met Christus lewend gemaak – uit genade is julle verlos!”
Hulle was dalk vroeër heidene, maar omdat hulle die waarheid in Christus leer ken het is hulle nou nuwe mense. Let op hoe Paulus daardie waarheid beskryf in vers 20-21: CHRISTUS leer ken, oor HOM onderrig, die waarheid wat IN JESUS is. Dit is soveel meer as leerstellings, teorieë of ‘n morele stel reëls. Dit is om die persoon van Jesus Christus te ken. Die inhoud van die boodskap van Christenskap, die waarheid, is Jesus self, en dit word ontdek deur Hom te leer ken en te volg.
Dan beskryf Paulus hoe hierdie waarheid ons lewens behoort te verander – dat ons die ou mens (mensdom) moet aflê, ons denke (deur God) laat vernuwe, en die nuwe mens as kleed aantrek. Dit is soos om ‘n ou uniform, wat jou as iets spesifieks identifiseer het, uit te trek, en dan die nuwe uniform (kleed) van die nuwe lewe aan te trek, wat jou nuwe identiteit wys. Hierdie is ‘n aanhoudende proses waarvoor ons aanhoudend moet kies. Elke dag kies om die ou manier van lewe af te lê, ons denke te vernuwe, en te strewe om te lewe soos nuwe mense.
Hy gaan dan verder om te wys hoe dit in die praktyk sou lyk:

Ons fokus, as gelowiges, is baie keer eerder op die linkerkantste kolom. Ons probeer so hard om nie daai goeters te doen nie, en spandeer baie energie om uit te werk wat mens alles nie mag doen nie. Dan bly ons gevangenes van sonde en beleef nooit die vryheid van om soos nuwe mense te lewe nie. Paulus se bedoeling is juis dat ons fokus nie op die ou lewe en sy dinge moet wees nie, maar eerder moet besig wees met die nuwe lewe. Dit maak ‘n massiewe verskil om daarop te fokus en daarna te strewe om altyd die waarheid te praat, teenoor die spanning van om te probeer fokus om nie te jok nie.
Aan die begin van hoofstuk 5 (v. 1-2) gee Paulus dan die sleutel om bg. te kan reg kry: “Volg dan die voorbeeld van God”. Hoe lyk daardie voorbeeld? Leef in liefde. Hoe lyk daardie liefde? Net soos Christus ons liefgehad het. Hoe het Hy ons liefgehad? Hy het Homself ter wille van ons oorgegee as ‘n offergawe aan God. God se selfopofferende liefde is die voorbeeld wat ons moet volg, en die sleutel tot die nuwe lewe. Om God se voorbeeld te volg IS om voorbeeld van die liefde van die Messias te volg.
Efesiërs 4:1-16 – Die Krag van Eenheid
Ons begin dan nou met die tweede hoofdeel van die brief (hoofstuk 4-6) waar Paulus vir sy lesers uitlê hoe gelowiges op die apokalips (die openbaring in Christus se lewe, dood en opstanding) moet reageer. Hoe dit in al die fasette van ons lewens ‘n invloed behoort te hê – in elke tipe verhouding moet sigbaar word.
In 4:1-16 kry ons as oorgang van die vorige gedeelte, en inleiding tot die volgende gedeelte, ‘n opsomming van die funksionering van die Kerk. Nadat Paulus beskryf het hoedat God verskillende mense, Jode én Nie-Jode, uitgekies het, geroep het, bestem het, geskep het as een nuwe mensheid, een nuwe tempel, een nuwe woonplek van God, in Christus, val die klem dan nou juis op wat hierdie nuwe eenheid dan in die praktyk beteken.
Hy sê in vers 2 dat die gelowiges hulle moet beywer vir die eenheid van die Kerk deur “mekaar met volkome nederigheid en saggeaardheid, en met geduld in liefde te verdra”. Hierdie is almal eienskappe wat slegs in verhoudings, waar mense met mekaar paaie kruis, sigbaar kan word. Dit is juis hierdie verskillende verhoudings wat hy hierna in die res van die brief gaan behandel.
Daar waar mense met mekaar te doen het, kan dinge maklik “messy” raak. Vyandskap, verdeeldheid, haat en nyd, is goed wat natuurlik uitbroei tussen mense. Die Kerk bestaan nie in isolasie nie, en moet juis die lig in die donker skyn – ook dáár waar dit “messy” raak. Hierdie teks daag enige idee dat ek die kerk alleen op my eie kan wees uit. ONS is SAAM die Kerk van die Here. Daarom moet ons SAAM Kerk WEES. Deur ons EENheid SAAM word die magte van die duisternis oorwin en Christus se oorwinning sigbaar verkondig.
In vers 4-6 kry ons 7 “een’s”. Verseker is daar met opset 7 van hulle. In Paulus se Joodse agtergrond is die getal sewe die simbool vir volheid/volmaaktheid. Die Hebreeuse woorde vir “sewe” en vir “volheid” lyk selfs sonder vokale, grafies presies dieselfde. Vers 4-6 hier roep ook terug na die Shema van Deut 6:4 – “Luister, Israel, die Here is ons God, die Here alleen.” Paulus gee hier vir ons ‘n Messiaanse Shema gebaseer op die openbaring van Christus. Die Drie-Enige God wat sigbaar word deur sy Kerk.
Maar in hierdie Een kerk is daar ook diversiteit. Eenheid is nie noodwendig dieselfde as eenvormigheid nie. Want aan ELKEEN word ‘n genadegawe gegee. In hierdie geval praat Paulus van verskillende rolle wat mense in die Kerk speel. Apostels, profete, evangeliste, herders en leraars. Die Here gee gelowiges as gawes as dienswerkers in sy kerk. Jy IS ‘n gawe aan die gemeente. Geroep om ‘n unieke rol te speel as deel van die liggaam van Christus.
Hy doen dit “om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, om die liggaam van Christus op te bou, totdat ons almal kom tot eenheid in geloof en in kennis van die Seun van God, en tot ‘n volwassenheid wat in ooreenstemming is met die volgroeide gestalte van die volheid van Christus.” (Ef 4:12-13)
Die tempel/woonplek van God/heiliges word opgebou sodat hulle die werke (Ef 2:10) van diens kan doen. So kan die Messias se mense, die nuwe skepsels/nuwe mensheid Hom beliggaam. Word die volheid van Christus vergestald in die wêreld. Een mens kan dit nie alleen ten volle regkry nie, maar ‘n verenigde Kerk kan dit doen.
Dink aan die woorde van Ef 2:21-22 – “In Hom verrys die hele gebou, goed saamgevoeg, tot ‘n heilige tempel in die Here. In Hom word julle ook saam opgebou tot woonplek van God deur die Gees.” Dieselfde gedagte kry ons hier in 4:15-16
“maar dat ons eerder, terwyl ons in liefde aan die waarheid vashou, in alle opsigte na Hom toe sal groei. Hy, Christus, is die Hoof uit wie die hele liggaam, harmonieus saamgevoeg en saamgebind, deur die ondersteuning van elke gewrig, volgens die werking van elke deel afsonderlik, die groei van die liggaam bewerk tot sy eie opbou in liefde.”
Jesus is die bron, die oorsprong waaruit die liggaam groei. Die kop waarvan die Kerk die liggaam is. As ons in liefde aan die waarheid vashou kan ons groei tot die volle potensiaal wat Hy vir ons bedoel het. Tot eer van sy Naam en tot opbou van sy Koninkryk. Is ons bereid om te groei…? Nie net as individue in ons eie geloof nie, maar ook SAAM, as gemeente, as Kerk – nader aan God se doel vir ons…?
Efesiërs 3:1-21 – Die Krag van Liefde
Paulus begin in vers 1 met sy gebed (wat hy dan in vers 14 voortsit), maar onderbreek homself om iets oor sy gevangeniskap te sê en hoe dit eintlik juis ‘n getuienis is van God se genade en die oorwinning van die Messias.
Die oop-geheim van God kom nou aan die lig: “deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het.” (v. 6) Jesus is die Messias, die Een deur wie al die nasies geseën word!
Paulus meen dat hy die geringste is, die laaste een wat hierdie opdrag moes kry om hierdie Boodskap te verkondig. Maar dat God se genade juis daardeur groter is omdat Hy hom gekies het om te vertel van die “onpeilbare rykdom van Christus” (v. 8).
Deur “aan almal bekend maak hoe God, die Skepper van alle dinge, nou sy verborge plan uitvoer” (v. 9) “het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim” (v. 10).
Deur die nuwe skepping/nuwe mensheid wat God skep, deur sy Kerk, word die magte en kragte in die wêreld uitgedaag en omvergerwerp. Die magte en kragte wat probeer om onmin, vyandskap, verdeeldheid en selfsug te bevorder verloor hulle mag wanneer Paulus die gevangene getuig van die Liefde van die gekruisigde Jesus en daardie liefde sigbaar word in die eenheid van die globale Kerk.
Vers 14-21 dien as ‘n opsomming van die res van hoofstuk 1-3. Amper elke frase in 3:14-21 lig ‘n beeld of ‘n tema van die voorafgaande hoofstukke uit:
- Die “elke geslag in die hemel en op aarde” van vers 15 wys terug na 1:10-11, 20-21 en 2:6. Ons Skepper is die Bron van alles en die Een wat regeer oor hemel en aarde.
- Vers 16 se “rykdom van sy heerlikheid” sien ons ook in 1:7, 18, 2:7 en 3:8. Sy liefde en genade is oneindig!
- Om “om deur sy Gees met krag” versterk te word in vers 16 lees ons ook in 1:17, 2:18, 22. Die Gees woon in sy Kerk – in die gemeenskaplike lewe van die Kerk en gee krag aan God se liggaam
- Vers 17 sê dat “Christus deur die geloof in julle harte mag woon”. Ons lees van hierdie woonplek van God ook in 2:19-22. Ons is “saam opgebou word as ‘n geestelike huis waarin God woon.” (2:22)
- Die “in die liefde gewortel en gegrond” (v. 17) sien ons ook in 1:4-5 en 2:20-21. God sie liefde is die fondasie waarop alles gebou is en daarin kan ons groei.
- Om God se onpeilbare liefde te ken (v. 18-19) sien ons ook in 1:18. Dit is juis in die ontdekking van ons roeping as Kerk, ons identiteit as Nuwe Skepping van God dat ons sy oneindige liefde, die heerlike rykdom van sy erfenis leer ken.
- Vers 19 sê dat ons “gevul mag word met al die volheid van God” en dit wys natuurlik ook terug na 1:23 se “die volheid van Hom wat alles in almal vul.” Die Kerk (die mense!) is die nuwe Tempel, nuwe woonplek van God wat gevul word met sy heerlikheid, en dit sigbaar maak in die wêreld.
Gaan lees gerus al hierdie kruisverwysings op jou eie tyd deur – dit is verrykend!
God se Liefde is onmeetbaar en onkeerbaar. Daarvan is ons as Kerk nie net getuies nie, maar ook instrumente. Dink maar aan hoe ver en hoe wyd die Boodskap van Christus reeds versprei het. Oor grense van politiek, taal en kultuur het dit wêreldwyd lewens verander. En so moet die magte van die wêreld wat verdeeldheid saai maar verward en verstar toekyk hoe hulle sg. mag en krag niks beteken nie, en niks kan doen teen die eenheid en liefde in God se Kerk nie. Mag ons ook daarvan deel wees!\
Jesus se woorde in Johannes 16:33 gee vir ons nuwe hoop: “Dit het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede mag vind. In die wêreld ervaar julle swaarkry; maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin.”
Efesiërs – EKSTRA – Die onsigbare magte
Ons is nou net mooi halfpad met Efesiërs. En in elke hoofstuk sover was daar die een of ander verwysing na die “gesag en mag” (1:21), “mag van die lug” (2:2) en “owerhede en die magte in die hemel” (3:10). Natuurlik ken ons ook die bekende woorde van 6:12 wat sê: “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.”
Maar wat is hierdie magte en hoe moet ons hulle vandag verstaan? Volgens Paulus se verstaan bestaan hierdie kragte in die parallelle hemelse/geestelike realm en is hul invloed sigbaar in aardse sisteme – in politieke, sosiale, kulturele, en godsdienstige sisteme.
Ons kry ook voorbeelde hiervan in van sy ander briewe (vgl. Kol, Gal, 1 Kor). Romeine 8:38-29 se bekende woorde: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” En in Kolossense 1:16 lees ons: “want deur Hom het God alles geskep: alles in die hemel en op die aarde, die sigbare en die onsigbare dinge, of dit koninklike of heersende magte, owerhede of gesagvoerders is – alles is deur Hom en tot Hom geskep.”
Hier is dus duidelik sprake van hemelse en aardse magte wat aan die werk is in die wêreld. Maar die wonderlike ding is dat ons Koning heers oor hulle almal – mag en gesag het oor ALLES! Hierdie magte wat aan die werk is in die wêreld om skeiding, vyandskap, hoogmoed en selfsug aan te dryf, en daardeur sonde, verdrukking, en onreg tot gevolg het, is almal deur die Messias ontmasker, ontmagtig en oorwin.
Dit is ‘n gedagte wat reeds in die Ou Testament ook teenwoordig was en op verskeie plekke en maniere na verwys word. In Daniël 7:27 lees ons byvoorbeeld: “Die koningskap, die heerskappy en die grootsheid van die koninkryke onder die ganse hemel word dan gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste. Sy koninkryk is ‘n ewige koninkryk, en alle magte sal Hom dien en aan Hom gehoorsaam wees.” En ook in Jesaja 24:21 sien ons: “Dié dag sal die Here die magte in die hemel daarbo straf, ook die konings van die aarde daaronder.”
Dan verstaan ons die taal wat Efesiërs gebruik sommer skielik beter as ons lees “Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus.” (1:10) en “Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk.” (1:19-22)
En in hoofstuk 3 hoe dit deur die Kerk bekend gemaak word: “Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim,” (3:10). Die nuwe mensheid wat Jesus geskep het, sy Kerk, is die instrument waarin en waardeur sy Oorwinning oor elke mag en gesag sigbaar gemaak word. Die pogings van hemelse en aardse magte om vyandskap en verdeeldheid te saai, word in die wiele gery deur die eenheid van die kerk. Die Liefde evan God wat sigbaar word in ‘n multi-kultirele, wêreldwye Christelike Kerk is die getuienis van Jesus wat as Koning regeer!
Dink aan die mure en grense en skeidings wat afgebreek word wanneer mense wat nie veronderstel is om van mekaar te hou nie (volgens enige menslike maatstawwe), in liefde mekaar aanvaar, ondersteun, en saam, in eensgesindheid die Here soek en dien…. Daar leer ons “hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek… liefde wat ons verstand te bowe gaan.”
Efesiërs 2:1-22 – Die Krag van Genade
As ons hoofstuk 2 beskou binne die groter struktuur van hoofstuk 1-3 dan verstaan ons so bietjie beter waarmee Paulus hier besig is. Hy het reeds in die lofprysing van 1:3-14 vir ons gewys wie die aktiewe Subjek is wat hier handel – God IS ons seën! Hy sorg vir ALLES: begin en einde, beplanning, uitvoering en afhandeling, Hy dra dit alles. Daarom moet ons sy grootheid prys!
In die gebed van 1:15-23 sien ons hoe daardie plan ook in ons lewens, in sy Kerk, aan die werk is. Die hoop van sy roeping, die rykdom van sy erfenis, die grootheid van sy opstandingskrag. Hy bring lewe uit die dood vir, in en deur sy Kerk. Hy is die hoof oor als, die Koning wat regeer en roep sy Kerk om dit vir die wêreld te gaan wys.
In Hoofstuk 2 kom ons dan by Paulus se uitleg van die betekenis van die openbaring en wat dit tot gevolg gehad het. God se verlossingsplan wat uitgevoer word. Hy vertel dieselfde verhaal twee keer oor vanuit verskillende oogpunte. Eers in vers 1-10 vertel hy hoe God ons wat dood was weer lewend gemaak het, deur genade. En in vers 11-22 hoe God ons wat vêr weg was, deur sy genade, weer naby gebring het.
As mens die twee gedeeltes langs mekaar lees sien mens duidelik dieselfde bewegings in altwee:
- Ons verlore toestand voor Christus ons verlos het (dood/vervreemd)
- Wat daardie toestand veroorsaak het (magte/vlees/wette/vyandskap)
- Hoe God ingegryp het om ons te red (in Christus lewend gemaak/naby gebring)
- Wat Christus se verlossing tot gevolg gehad het (Nuwe skepsel!)
Net soos die groter struktuur van hoofstus 1-3 doelbewus uitgewerk is om ons by ‘n middelpunt uit te bring, so ook het Paulus vers 11-22 meesterlik aanmekaar geweef. Ons kan dit soos volg voorstel:

- A: Ons was eers buitestaanders “in die vlees” (sondige aard), maar is nou deel van God se tempel/woonplek, nie meer in die vlees nie, maar “in die Here”/”deur die Gees”
- B: Ons was vreemdelinge en bywoners, sonder God, maar nou medeburgers, lede van die huisgesin van God.
- C: Ons was eers vêr van God af, maar is nou naby gebring deur die bloed van Christus.
- D: Die twee (Jode en Nie-Jode) wat van mekaar af geskei was is nou een nuwe mensheid in een Messias.
Ons wat nie welkom was by God se woonplek nie, is nou die woonplek van God!
Dit alles gebeur deur genade, sê vers 8 – dit is ‘n gawe, ‘n geskenk van God. Hierdie geskenk word nie gegee wanneer ons aan sekere voorwaardes voldoen, of goed genoeg is om dit te verdien nie, maar eerder omdat God goed is en ons lief het. Hy wil met ons in verhouding leef en Hy neem die inisiatief in daardie verhouding. Hy het ons eerste liefgehad. Ons reageer op sy geskenk met dankbaarheid, met liefde teenoor Hom. Hoe kan ons dan anders! Ons het die voorreg om met die Here van die heelal in verhouding te lewe en het daarom die voorreg om die goeie dinge te doen wat sy Naam groot maak. Die goeie werke waarvoor Hy ons geskep het (v. 10).
In 1 Korintiërs 15:10 sê Paulus: “Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tevergeefs nie; inteendeel, ek het harder gewerk as hulle almal; eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is.”
Dan besef ons dat sy genade nie net ons vrygemaak het en dan klaar is met ons nie. Sy genade gaan saam met ons. Die krag van genade dryf ons aan, inspireer ons en motiveer ons. Dit word die krag waaruit ons lewe, die bril waardeur ons kyk, die bepalende faktor in ons optrede.
Efesiërs 1:15-23 – Gebed vir Krag
Ná die lang sin in vers 3-14, skryf Paulus nog so ‘n lang sin in vers 15-23. Hierdie keer nie ‘n lofsang nie, maar ‘n gebed (kyk weer na die struktuur van hoofstuk 1-3). Dit is opvallend waarvoor Paulus hier bid. Hy bid nie dat die Here die mense se omstandighede sal verander, hulle uit nood uit red, hulle sal gesond maak of ryk maak nie. Hy dank die Here vir hulle liefde en geloof en vra dat God Homself al meer aan hulle sal openbaar.
Hy bid dat hulle Goddelike wysheid en “openbaring” (weereens “apokalips”) sal ontvang – dat hulle die hemelse werklikheid reeds op aarde kan sien. Hy bid dat hulle in hulle diepste binneste kan besef (“dat die oë van hulle hart verlig mag wees”) en kan insien waarmee die Here hulle geseën het. Hy noem dan drie dinge:
1. Wat die hoop is wat sy roeping bied. Soos ons gesien het met Paulus se gebruik van die woord “heiliges”, is daar ‘n toekomstige werklikheid wat reeds vas is – ons eindbestemming is reeds bepaal, omdat Jesus dit vir ons bewerk het. Daarom hoef ons nie teen ons huidige omstandighede vas te kyk en dink dat dit ons lewens of ons identiteit bepaal nie, maar kan ons weet dat dit bepaal word deur die dood en opstanding van Jesus en dat ons juis daarom kan hoop. Ons is uitverkies, geroep, bestem daarvoor!
2. Wat die heerlike rykdom van sy erfenis is. Die idee van hierdie roeping en erfenis kom uit die Ou Testament uit. God wat sy volk uitkies sodat al die nasies deur hulle geseën kan word (Gen 12:2-3). In Christus word ons ook deel van God se uitverkore volk, God se persoonlike, beminde eiendom. Ons behoort aan God! Ons is syne. Deuteronomium 7:6 sê: “want jy is ‘n heilige volk vir die Here jou God. Vir jou het die Here jou God gekies uit al die volke op aarde om as volk sy persoonlike eiendom te wees.” Efesiers 1:13 bevestig dit: “In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël.”
3. Wat die onvergelykbare grootheid van sy mag is. Hierdie mag is nie die tipe mag wat ons mense so graag wil besit nie – om te kan doen, wat jy wil, wanneer jy wil, aan wie jy wil. Hy kwalifiseer dadelik hierdie mag as die opstandingskrag van Jesus. Ons kan weet dat, omdat Jesus die dood oorwin het, ons ook daarvan vry is, kan ons die ewige lewe hê. Die krag van God, die werklikheid van die ewigheid breek deur in ons aardse werklikheid in Jesus se opstanding uit die dood. Dit beteken dat die dood nie die finale woord het nie, nie net in fisiese dood nie, maar ook in mense se omstandighede, verhoudings en optrede. God se krag, wat die mag het om mense wat in sonde “dood” is te transformeer in mense wat lewe, is tot die beskikking van sy Kerk.
Hy gaan ook verder om die krag van God te beskryf dat dit aan die werk was in Jesus bekroning en troonbestyging as Koning (v. 20-22). Hy leen weer beelde uit die Ou Testament. Psalm 110:1-2 së: “Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande ‘n voetbank vir jou voete maak. Uit Sion stuur die Here jou magtige septer: ‘Heers te midde van jou vyande!’ “ (vgl. ook Daniël 7:13-14) Jesus regeer bo alles en almal, bo alle magte en kragte. Nou en vir altyd. Daar is dinge wat ons reeds kan sien, maar ook dinge wat nog moet realiseer. Paulus sê dat Jesus in die “reeds” en in die “nog nie” Koning is – in hierdie bedeling, en in die bedeling wat kom.
Intussen, tot dan, is die Kerk die plek waar Jesus se Koningskap sigbaar behoort te word. In ‘n stukkende wêreld het die Here die Kerk gekies om te wys hoe die hemelse werklikheid (Jesus wat regeer) reeds nou kan lyk. Hy roep ons om sy Liggaam te wees. Om Hom te beliggaam in hierdie wêreld. Ons kan dit net doen as ons besef dat dit is wie ons is, en Wie in ons is. En dat die krag om dit te kan doen net van Hom af kom. Om ‘n lewe te leef wat nie bepaal word deur my eie begeertes nie, maar bepaal deur Wie my Koning is. Dat ons juis, deur die krag van Jesus, anders as die wêreld leef, nie omdat ons skynheilig is nie, maar omdat ons verklaar: “Hier doen ons dinge anders, want hier is Jesus Koning.”
Efesiërs 1:3-14 – God is ons seën
Voordat ons in detail kyk na die volgende klompie verse, is dit goed om te weet waar hierdie verse in die struktuur van die brief inpas. Onthou dat die brief in twee dele opgedeel word. In hoofstuk 1-3 word die openbaring van Jesus uitgelê, en in hoofstuk 4-6 word verduidelik hoe gelowiges op hierdie openbaring behoort reageer.
As ons dan na hoofstuk 1-3 bietjie nader beskou dan sien ons hoe briljant Paulus dit aan mekaar sit om sy boodskap tuis te bring. Hier is die basiese struktuur:
- A 1:1-14 – Lofprysing
- B 1:15-23 – Gebed
- C 2:1-10 – God se verlossingsplan: Gered van die dood
- C 2:11-18 – God se verlossingsplan: Christus bring vrede
- D 2:19-22 – Die nuwe Tempel
- C 3:1-13 – God se verlossingsplan: Omgekeerde Koninkryk
- B 3:14-19 – Gebed
- B 1:15-23 – Gebed
- A 3:20-21 – Lofprysing
Hierdie konstruksie is nie sommer net vir die mooigeid nie. Dit is intensioneel om die leser te help om die punt beter te verstaan. Die ooreenkomstige gedeeltes moet vergelyk word en verskille en ooreenkomste uitgewys word. So word die middelpunt en hoogtepunt van die gedeelte beklemtoon: Die gelowiges is die nuwe tempel – die woonplek van God. In ons studie van hierdie hoofstukke gaan hierdie struktuur ons help om die diepte daarvan te ontdek.
Efesiërs 1:3-14 is een lang sin in die Grieks. Dit maak dit moeilik om die vloei wat Paulus daarin bedoel het in Afrikaanse sinskonstruksie te kan sien, maar hy ryg een gedagte aan die volgende gedagte om dit aanmekaar te bind. Hy gaan ‘n paar keer om dieselfde sirkel om te sê Wie die bron van die seën is, wat die seën is, en wat ons met daardie seën moet maak.
In vers 3 stel hy reeds die Drie-Eenheid, die Bron van die seën, voor: “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.” God is die aktiewe subjek en Hy seën ons op verskillende maniere.
Hy het ons:
- uitverkies (1:4)
- aangeneem (1:5)
- begenadig (1:6)
- verlos (1:7a)
- vergewe (1:7b)
- die gehemeimenis van sy Wil bekend gemaak (1:9)
- erfgename gemaak (1:11-12)
- beseël deur die Gees (1:13-14)
Paulus gebruik ‘n refrein om die sin in drie dele op te deel en help ons daarmee om te sien hoe die Drie-Enige God by ons betrokke is. Vers 6, 12 en 14 sê al drie dieselfde ding: DAAROM moet ons God prys! God seën ons met alles. Hy doen alles wat nodig is. Sy plan is volmaak, volledig, en volbring. Ons is totaal en al, geheel en al, bedek onder sy liefde, genade en verlossing. Ons verlede, hede en toekoms is toegevou in God se hande. Ons eindbestemming en erfenis vas en seker. Daarom moet ons sy grootheid prys!
Efesiërs 1:1 – Aan die heiliges wat in Efese is
Paulus se brief aan die Efesiërs verskil van sy ander briewe in die sin dat dit nie groete boodskappe aan spesifieke persone stuur nie, en ook nie ‘n spesifieke saak in ‘n spesifieke gemeente wil aanspreek nie. Dit was eerder ‘n soort omsendbrief wat aan die gemeentes in Klein-Asië gestuur is en langs die handelsweë vanaf Efese verder aan gemeentes gebring is. Paulus se persoonlike briewe aan Timoteus dien eerder as die briewe aan die gemeente in Efese.
Die woorde “in Efese” wat in vers 1 staan kom in van die oudste manuskripte nie voor nie, en kon maklik met enige gemeente se naam vervang word. So sien ons ‘n poging om die waarheid van die evangelie so wyd as moontlik te versprei en om gemeentes te help om beter te verstaan hoe om daarop te reageer en dit in hul lewens toe te pas.
Efesiërs 1:1 klink in die 2020 vertaling so:
Paulus identifiseer homself as ‘n apostel – ‘n afgevaardigde, gestuurde, verteenwoordiger. Hy is gestuur deur niemand anders nie as Koning Jesus. God se Gesalfde Koning, Messias, die Christus. God self het hom geroep en gestuur met ‘n opdrag om die evangelie aan die heidennasies te verkondig. In Paulus se roepingsverhaal in Handelinge 9 lees ons in vers 15: “Ek het hom gekies as my werktuig om my Naam uit te dra onder die heidennasies en hulle konings en ook onder Israel.”
Vir Paulus is daar geen groter gebeurtenis in die geskiedenis as die kruisiging en opstanding van Jesus nie. Dit is hoe God sy wil, sy plan kom openbaar het. Paulus getuig self daarvan, van dit wat hy self beleef het toe die Here Homself aan hom geopenbaar het daar in Handelinge 9. Dit is van hierdie lewensveranderende openbaring wat hy skryf.
Ons staan nou hier aan die heel begin van ons reis deur hierdie brief en eintlik wil ons nou al alles op een slag inneem, maar daar is nog so baie om te ontdek. Maar hier aan die begin kan ons opgewonde wees oor waarvoor ons onsself inlaat in die volgende 6 hoofstukke en solank uitsien na wat oppad is.
Paulus spandeer die eerste 3 hoofstukke daaraan om God se openbaring uit te lê sodat sy lesers dit kan begryp en verstaan. In Efesiërs 3:3-4 verduidelik hy waarmee hy besig is: “Hy het sy geheimenis deur ‘n openbaring aan my bekend gemaak, soos ek dit hierbo kortliks beskrywe het, en as julle dit lees, sal julle ‘n begrip kry van my insig in die geheimenis van Christus.”
Daarna, in hoofstuk 4-6 verduidelik hy dan hoe om op hierdie openbaring te reageer. Ons was dood, maar nou lewe ons. Ons was in die duisternis, maar nou is ons in die Lig. Alles het nuut geword. Jesus het alles kom nuut maak. Hoe leef mens hierdie nuwe lewe waar ALLES onder die heerskappy van Jesus verenig is? Dit is waarmee hy ons help in die tweede helfte van die brief.
Ons gaan ook ontdek dat die Kerk van die Here nie net die plek is nie, maar ook die manier is hoe hierdie nuwe bedeling in die wêreld beweeg en sigbaar word.
Hy spreek die mense vir wie hy skryf as heiliges aan. Nie omdat hy oordeel dat hulle sonder foute is nie. Maar omdat hy weet wat Jesus gedoen het in Wie hulle glo. Hy weet wat hulle eindbestemming is. Hulle “destiny” is vas in dit wat Jesus reeds gedoen het. Hoofstuk 2 vers 5-7 sê dit mooi:
“Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee, sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.”
Hoop jy is saam met ons opgewonde oor die reis deur Efesiërs wat vir ons voorlê! Mag die Here jou seën.
