TakTiek is die plek om te wees! Maar dit is meer as 'n plek - dit is 'n gevoel, 'n belewenis, 'n veilige tuiste.  Dit is groei, dit is vloei.  Dit is jouself wees, maar vernuwe.  Dit is vrae vra en hart oopmaak.  Dit is sing en spring en speel en lag.  Dit is alles gee en alles kry.  Dit is vertel en gesels en leerken en stukkend wees en heel word.  Dit is bedoel vir jou!

Mag hierdie Geloof-journey vir jou laat groei, al nader en nader aan die Here.

Hierdie jaar gaan ons saam Markus lees. So loer gereeld hier in vir die nuutste resources soos wat ons reis deur Markus.

Markus 8:34-9:1 – Die Deur na die Lewe

Jesus begin om vir sy dissipels te leer wat dit regtig beteken om agter Hom aan te kom, om Hom te volg. Net in die voorafgaande gedeelte het hulle bely dat Hy die Messias is, maar nou moet hulle leer wat dit beteken.

Jesus sê dat “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën”.  As ek die woord “verloën” dink ek dadelik aan Petrus wat Jesus verloën het.  Maar dit gaan hier oor meer as om net te ontken dat jy iemand ken.  As jy iemand verloën het dan het jy jouself van daardie persoon gedistansieer en so hul eer aangetas. Die gemeente in Rome moes hierdie woorde baie duidelik hoor.  Hulle lewens was daagliks in gevaar en hulle moes daarom geweet het wat dit beteken om jouself ter wille van Jesus te verloën.

So ook wanneer Jesus praat van kruisdra: Nero het Christene sommer vir niks gekruisig nie.   So die gesig van ‘n Christen wat in Rome se strate geloop het en die dwarsbalk van die kruis waaraan hul sou sterf op die skouers dra, was nie ‘n totaal en al ongewone gesig nie.  Vir hulle was hierdie woorde baie letterlik op hulle van toepassing.  In plaas daarvan om hul van Jesus te distansieer net om nog ‘n paar dae op aarde te kan leef, moes hul bereid wees om hulself te verloën vir die ewige lewe.

Vir Markus is die lewe meer as net die lewe hier op aarde.  Vir Hom is die ewige lewe ‘n realiteit en word die dood net die deur daarna.  Die rede waarom dit moontlik is, is omdat Jesus self vir ons die weggebaan het.  Deur sy dood aan die kruis en sy opstanding het Hy die weg oopgebreek vir ons om te kan lewe.

Markus sê vir ons dat daar niks in hierdie lewe is wat waardevol genoeg kan wees om die ewige lewe te oortref nie.  Niks waaraan ons hier sou wou vasklou wat sou kon maak dat ons die lewe by God sou wou prys gee nie.  Daarom sê Jesus: Wat help dit ‘n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? 37Wat sal ‘n mens kan gee in ruil vir sy lewe?”

Vir Markus breek die Koninkryk van God met krag aan met Jesus se opstanding.  Hy kyk terug daarna en weet dit is die waarheid.  Hy weet die dood loop op die lewe uit, omdat Jesus leef.  Die dissipels het op daardie stadium nog nie geweet wat hierdie woorde beteken het nie, maar het self ook die dood met dapperheid in die gesig gestaar omdat hulle ook daarna die opgestane Here gesien het.

Ons kan ook hierin hoop en moed skep en weet dat ongeag van ons omstandighede en of ons selfs die dood in die gesig staar, die dood is nie die einde nie, maar die deur na die Lewe.  Maar ons moet ook hoor dat dissipelskap iets van ons vra – ALLES van ons vra.  En dat ons nie net bereid moet wees om vir Jesus te sterf nie, maar ook bereid moet wees om vir Hom te LEEF!

 

Markus 8:22-33 – Om duidelik te kan sien

Die wonderbaarlike genesing van die blinde man in Markus 8:22-26 funksioneer amper soos ‘n lewende gelykenis.  Net soos met die genesing van die doofstom man in die vorige hoofstuk sien ons weer ‘n ander manier van genesing hier.  Jesus wys dat Hy groter is as al die wonderdoeners en sg. genesers van sy tyd en dat Hy werklike genesing bring.

Hy wys egter ook vir ons presies die pad wat Hy met sy dissipels loop.  Hy neem hulle aan die hand en leer vir hulle van die Koninkryk.  Maar eers kan hulle net ‘n bietjie daarvan sien en verstaan.  Nou begin die Here nie meer doekies omdraai en nie meer in gelykenisse praat nie, maar nou praat Hy reguit.  Nou begin hulle agterkom (soos wat ons die volgende teksgedeelte kan sien) dat Jesus die Messias is.

Vers 27-30 lees amper net mooi parallel aan vers 22-26.  In die gesprek sien ons hoedat die Here sy dissipels gelei het en hulle eers bietjie ‘n dowwe beeld gehad het, maar dat hulle nou duideliker sien en sien dat Hy die Messias, die Christus, is.  Maar dit is nog nodig dat Hy hulle moet leer wat dit beteken.

Die dissipels, soos meeste ander Jode, se Messias verwagting was baie sterk gekoppel aan hulle lyding onder die Romeinse owerhede.  Hulle het ‘n politieke en millitêre figuur verwag wat hulle van die Romeinse onderdrukking sou kom red.  Geen wonder dat Petrus so ontstig was toe die Here begin om hulle te leer dat Hy gaan moet ly en sterwe nie.  Dan wys die Here presies uit en slaan die spyker op die kop van waaroor dit gaan: “want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê.”

Dit is ongelukkig ons probleem (en die gemeente in Rome wat gely het onder Nero ook) dat ons ons eie persoonlike en selfsugtige idee van Jesus wil aanhang.  Ons hou van ‘n Jesus waarmee ons gemaklik is en wat doen wat ons wil hê Hy moet doen.

Ons kan egter nie die vraag wat Jesus aan sy dissipels in vers 29 vra: “wie, sê julle, is Ek?”, probeer antwoord sonder om ook te worstel met die vraag oor wat God wil hê nie (v. 33).

Jesus het vir sy dissipels gesê dat hulle nie moet gaan vertel dat Hy die Messias is nie.  Dit is omdat Hy nie wou gehad het dat die verkeerde boodskap moet uitgaan en verwarring en oproer moes veroorsaak nie.  Die dissipels moes eers leer wat sy Messiasskap werklik beteken het en dat dit anders was as wat hulle gedink het dit moet wees, voordat hulle vir mense kon vertel dat Hy waarlik die Messias was.  Hulle moes die gevolge van sy Messiaskap vir hulle dissipelskap verstaan.  Hulle moes verstaan dat Hy gekom het om te ly en te sterf vir ons sondes.

Ons moet dit ook verstaan en leerken en navolg.  Wanneer ons sy voorbeeld van lyding en diens en selfopofferende liefde navolg kan ons sy Messiaskap verkondig.

Markus 8:1-21 – ‘n Wonderteken uit die hemel

Die Here Jesus gee vir sy dissipels ‘n hersieningstoets.  Wéér vind daar die wonderwerk van die vermeerdering van die brood plaas.  Hierdie keer 7 broodjies vir meer as 4000 mense.  Hierdie rondte is dit die Here self wat dit inisieer, dit is Hy wat die mense innig jammer kry en wil seker maak hulle almal kry kos.

Mens sou dink dat die dissipels ná hulle die vorige keer gesien het wat die Here met die 5 broodjies en die 2 vissies gedoen het, hulle hierdie keer nie bekommerd sou wees oor hulle gebrek aan voorraad nie.  Maar ons sien in vers 4 dat die gedagte dat dit wat hulle het genoeg kan wees, nie by hulle opkom nie: “Waar sal ‘n mens in hierdie verlatenheid genoeg brood vir hulle kan kry?”

Weer wil Markus duidelik vir ons wys dat dit God is wat hier aan die werk is en weer wys die Here Jesus hoedat Hy dit wat die dissipels het gebruik en dit oorgenoeg maak om sy doel te bereik.  Dit is ook weereens opvallend dat Jesus hierdie wonderwerk DEUR sy dissipels doen – hy gee dit vir sy dissipels om aan die mense voor te sit.  Net soos die eerste vermeerdering van die brood is dit so ‘n mooi teken van hoe die Here in ons en deur ons werk om sy liefde en omgee aan die wêreld te wys.

Net hierna in Dalmanuta vra die Fariseërs vir Jesus vir ‘n wonderteken.  Jesus weet egter dat geen wonderteken hierdie groepie sal kan oortuig om Hom te volg nie.  Hy weet dat as sy dissipels wat naby Hom is nie eers kan verstaan Wie Hy is ná alles wat hulle gesien het nie, sal die Fariseërs dit tog ook nie sien nie.  Daarom weier Hy hulle versoek om ‘n wonderteken.  Hulle doel waarom hulle vir ‘n wonderteken is in elk geval verdag – hulle is opsoek na nog ‘n manier om Jesus uit te vang en vir hulleself te regverdig waarom hulle nie in Hom hoef te glo nie.  Net die wondertekens van die kruis en die opstanding kan maak dat Jesus se ware identiteit vir almal sigbaar word.

Daarna sien ons dit weer in die optrede van die dissipels.  Hulle vaar weer na die oorkant van die see, maar hulle het bietjie vergeet om kos saam te vat en het net een brood ingepak.  Weereens sou mens dink dat hulle nou teen die tyd nie bekommerd sou wees daaroor nie, want hulle het mos nou net weer gesien hoedat die Here in oorvloed vir sy mense sorg.  Maar tog wanneer die Here hulle waarsku teen die invloed van die Fariseërs en van Herodes, dan dink hulle dit is omdat hulle te min brood gebring het.

Die Here Jesus vat hulle dan weer terug na die twee wonderwerke van die vermeerdering van die brood en help hulle om weer te onthou wat daar gebeur het. En dan vra Hy vir hulle: “Verstaan julle dan nog nie?”  Ons kan ook baie keer, net soos die dissipels, in die wonderwerk self vaskyk en miskyk wat dit is wat die Here oor Homself daardeur openbaar.  Die Here Jesus kom wys hierdeur nie net WIE Hy is nie, maar ook HOE Hy is.  Hy is God wat vir sy mense omgee.  Hy het sy mense innig lief en gebruik dit wat ons bring en maak dit oorgenoeg om in ons en deur ons en vir ons met omgee te sorg!