TakTiek is die plek om te wees! Maar dit is meer as 'n plek - dit is 'n gevoel, 'n belewenis, 'n veilige tuiste. Dit is groei, dit is vloei. Dit is jouself wees, maar vernuwe. Dit is vrae vra en hart oopmaak. Dit is sing en spring en speel en lag. Dit is alles gee en alles kry. Dit is vertel en gesels en leerken en stukkend wees en heel word. Dit is bedoel vir jou!
Mag hierdie Geloof-journey vir jou laat groei, al nader en nader aan die Here.
Hierdie jaar gaan ons saam Markus lees. So loer gereeld hier in vir die nuutste resources soos wat ons reis deur Markus.
Markus 7:24-37 – Elke “hondje” kry sy dag
In die voorafgaande gedeelte het die Here Jesus die Fariseërs en die Skrifgeleerdes se monde weer stil gemaak met sy antwoord op hulle vraag. Daar het Hy gewys dat hulle eerder aan mensgemaakte godsdienstige reëls vashou ten koste van die nakoming van God se gebod van liefde. Nou voeg Hy daad by die woord en bewys sy eie woorde waar.
Jesus reis van Galilea na Tirus toe. Tirus was ver van Jerusalem af en daarom alklaar onrein, maar dit was ook ‘n hawestad waar verskillende mense van verskillende gelowe en kulture bymekaar was en daarom nog meer onrein. Daar ontmoet Jesus ook iemand wat volgens die godsdienstige standaarde van daardie tyd BAIE onrein was – ‘n Griekse vrou wat in Siro-Finesië gebore is. Sy vra Hom om haar dogtertjie van ‘n onrein gees te bevry. Alles van hierdie situasie skree: “ONREIN, bly eerder weg!” Alles van hierdie vrou, alles wat haar identiteit sou bepaal in daardie tyd, het gemaak dat geen geestelike leier by wie sy sou kon gaan hulp soek, eers in haar rigting sou kyk nie.
Maar Jesus kyk nie dieselfde na haar as die godsdienstiges van sy tyd nie. Dit is nie waar jy vandaan kom, of waar jy is wat jou aanvaarbaar maak vir God nie. Hy, en sy liefde en genade maak jou aanvaarbaar vir God! AS ons soos die skrifgeleerdes na mense kyk, dan besluit ons wie aanvaarbaar genoeg is om welkom te wees en aanvaarbaar genoeg is om God se liefde by ons te kan ontvang. Jesus daag ons grense en kriteria uit en daag ons uit om met sy oë na mense te kyk.
In die gesprek met haar, en die beeld van die kindertjies aan tafel en die hondjies wat die krummeltjies eet, wys Jesus ook dat Hy gekom het vir en deur die Jode as die Messias, maar dat Hy ook vir die hele wêreld gekom het. Sy genade is genoeg vir almal om in te kan deel. Die vrou waag dit ook met Jesus, plaas haar hoop en geloof in Hom en Jesus genees haar dogtertjie – sonder dat Hy eers naby die dogtertjie gekom het.
Die Here reis van daar af na Dekapolis. Jy sal onthou dat Hy vroeër ook daar was – toe Hy die bose geeste in die varke in gejaag het. Intussen het die woord oor Hom ook in hierdie gebied versprei en bring die mense ook daar met sy aankoms siekes na Hom toe om te genees. Jesus genees ‘n doofstom man van sy gebrek. Hierdie keer deur aan hom te raak en spoeg aan sy tong te smeer. Jesus wys dat Hy die mag ook oor siekte het en dat Hy op enige manier wat die sg. geneesheers van daardie tyd probeer het, mense se siektes kan genees.
Jesus het nie towerspreuke nodig om wonderwerke te doen nie. Hy praat en dit gebeur. In sy eie spreektaal sê Hy net “Effata” (Gaan oop!) en dit gebeur.
Die mense wat dit aanskou staan in verwondering en spreek hulle verwondering uit met woorde wat ons herinner daaraan dat Jesus God is: “Alles wat Hy doen, is goed: die dowes laat Hy hoor en die stommes laat Hy praat.” (v. 37) Hoe wonderlik is dit nie dat die Lewende God gekom het om onrein mense soos ek en jy te kom aanraak met sy liefde nie!
Markus 6:53-7:23 – Rein of Onrein
Die Fariseërs en die Skrifgeleerdes was baie ernstig oor die nakoming van die godsdienstige wette. Hulle was so ernstig daaroor dat hulle nog ekstra wette ingebou het, amper as ‘n soort buffer om seker te maak dat hulle nie per ongeluk, sonder dat hulle dit weet, een van God se wette oortree het nie. Hulle was bang dat die Here hulle weer straf soos met die Ballingskap en hulle wou dit ten alle koste vermy. Dit het egter daarop uitgeloop dat dit naderhand meer oor hulle eie vroomheid gegaan het as wat dit gegaan het daaroor om die die Here te dien. Hulle het hulle eerder daarmee besig gehou om te kyk hoeveel beter en heiliger hulle as ander mense kon voorkom en het hulle liefdeloos en magsugtig geword.
Wanneer hulle dan die Here Jesus uitdaag met ‘n vraag oor sy dissipels se versuim om die reinigingswette na te kom, vat Hy hulle hieroor aan. Dit is ‘n omvattende, maar tog direkte en harde antwoord wat die Here vir hulle gee. Hy haal uit Jesaja aan en beskuldig hulle daarvan dat hulle skynheilig is en sê dat hulle “laat die gebod van God los en hou aan die oorgelewerde gebruik van mense vas.” (7:8)
Jesus gaan dan verder en bewys sy punt deur ‘n voorbeeld te gebruik van hoe die Fariseërs die reëls misbruik het. Hulle het dit nagelaat om hulle ouers te versorg of te help en dan as ‘n verskoning (verontskuldiging) gesê dat hulle reeds dit wat hulle mee sou kon help aan die Here gewy het (korban – 7:11) en daarom niks meer oor het om te kan gee nie.
Dan vat die Here dit nog bietjie verder en praat oor die mense se idees oor kos. Sien, hulle was meer gepla oor wat mens mag eet en nie mag eet nie, as wat hulle gepla was daaroor of hulle optrede mense rondom hulle seermaak of nie. Daarom sê die Here vir hulle dat dit wat in die liggaam ingaan jou nie kan onrein maak nie, maar dit wat uit jou uitgaan, uit jou hart uit – dit maak jou onrein. M.a.w. die dinge wat jy doen wat ‘n invloed op die mense rondom jou het, op die verhoudings waarin jy beweeg. Kyk maar na die lysie wat Hy maak in 7:21-22. As ons onsself skuldig maak aan daardie dinge, dán is ons besig om mense en verhoudings skade aan te rig, dán is ons onrein.
Dit help nie jy is trots op jouself omdat jy nie spek eet nie, maar jy afgunstig teenoor jou naaste nie.
Ons kan maklik na die Fariseërs se mensgemaakte voorskrifte kyk en dink dit is belaglik, maar as ons mooi dink dan moet ons besef dat daar baie sulke mensgemaakte voorskrifte is wat ons oor baie jare in die kerk ook as wette begin voorskryf het. Daar het al soveel tyd, energie, mannekrag en bloed en trane daarin gegaan om hierdie tipe reëls te probeer nakom en te verdedig. Ongelukkig moet ons erken dat ons baie maklik in ons eie weergawe van hierdie gat waarin die Fariseërs trap ook vasgevang raak. Wanneer dit begin gaan oor ons eie vroomheid ten koste van verhoudings, ten koste van liefde.
Die Here roep ons vir méér! Om meer aan Hom gehoorsaam te wees. Hoe doen ons dit? Nie met mensgemaakte reëls wat misbruik word en gebuig word soos wat dit ons pas vir ons eie eer en aansien nie. Nee, met liefde – liefde vir God en vir ons naastes. Dit is moeiliker, want dit beteken en moet myself gee, maar dit is die pad wat die Here self vir ons kom wys het.
Markus 6:45-52 – God loop op water
Die vraag oor Jesus se identiteit is een wat reg deur Markus op die agenda bly. Die mense wonder wie Jesus is, en kom, tot ná die kruisiging, nie lekker by die antwoord uit nie. Hulle dink Hy is ‘n profeet of Elia of Johannes die Doper wat uit die dood uit opgestaan het. Met die vermeerdering van die brood in die wildernis kom wys Jesus self Wie Hy is – Hy is God! Dieselfde God wat sy volk daar in die woestyn gevoed het met brood uit die hemel, is dieselfde God wat vir sy mense brood gee om te eet in die wildernis.
In die daaropvolgende gedeelte lees ons dat Jesus alleen by die berg opgaan en daarna alleen in die aand op die strand stap. Dit was ongehoord vir mense van daardie tyd. Dit was doodeenvoudig te gevaarlik. Behalwe vir die rowers wat jou kon oorval in die nag of die besetenes wat in die grotte langs die see gebly het, het hulle ook geglo dat die bose geeste en demone in die aand in jou kon invaar en dat hulle in die water gebly het.
Waarom is Jesus nie bang nie? Weereens kies Markus sy woorde baie mooi om vir ons te wys dat ons hier met die Skepper God te doen het. Jesus op die berg is God op die berg, en Jesus daar alleen op die strand, is God op die strand. Dieselfde God wat die waters en die berge geskep het staan hier langs die see en kyk uit oor die water. Waarom sal Hy wat die waters van die aarde in die holtes van sy Hand afgemeet het bang wees vir die water?
Dan vat Hy dit nog ‘n stappie verder – Hy loop op die water! Hoe weet ons nie, ons kan dit nie verduidelik nie, dis te groot vir ons begrip. Maar Hy doen wat God doen. God wat skep met net ‘n woord. God wat die Rooi See oop kloof. God wat brood uit die hemel gee. God wat water uit ‘n rots laat kom. God wat op water loop…
Die dissipels skrik hulle boeglam, maar dan maak Jesus hulle gerus met ‘n groot stelling: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” Hierdie ‘dit is Ek’ is in die Grieks: “Ek is”. Dieselfde woorde waarmee God Homself identifiseer aan Moses in Eksodus 3:14 is die woorde wat Jesus hier gebruik: Ek is. Die rede waarom die dissipels nie hoef bang te wees nie is omdat Jesus, God, Ek is, by hulle is.
Wat ‘n wonderlike vertroosting. Nie net vir die dissipels daar in die boot nie, maar ook vir die gemeente in Rome en vandag vir ons. Jesus is God. God self het onder ons kom woon. God self het gekom om in ons plek te kom sterf. God self is by ons. God is by jou!