Die vraag oor Jesus se identiteit is een wat reg deur Markus op die agenda bly. Die mense wonder wie Jesus is, en kom, tot ná die kruisiging, nie lekker by die antwoord uit nie. Hulle dink Hy is ‘n profeet of Elia of Johannes die Doper wat uit die dood uit opgestaan het. Met die vermeerdering van die brood in die wildernis kom wys Jesus self Wie Hy is – Hy is God! Dieselfde God wat sy volk daar in die woestyn gevoed het met brood uit die hemel, is dieselfde God wat vir sy mense brood gee om te eet in die wildernis.
In die daaropvolgende gedeelte lees ons dat Jesus alleen by die berg opgaan en daarna alleen in die aand op die strand stap. Dit was ongehoord vir mense van daardie tyd. Dit was doodeenvoudig te gevaarlik. Behalwe vir die rowers wat jou kon oorval in die nag of die besetenes wat in die grotte langs die see gebly het, het hulle ook geglo dat die bose geeste en demone in die aand in jou kon invaar en dat hulle in die water gebly het.
Waarom is Jesus nie bang nie? Weereens kies Markus sy woorde baie mooi om vir ons te wys dat ons hier met die Skepper God te doen het. Jesus op die berg is God op die berg, en Jesus daar alleen op die strand, is God op die strand. Dieselfde God wat die waters en die berge geskep het staan hier langs die see en kyk uit oor die water. Waarom sal Hy wat die waters van die aarde in die holtes van sy Hand afgemeet het bang wees vir die water?
Dan vat Hy dit nog ‘n stappie verder – Hy loop op die water! Hoe weet ons nie, ons kan dit nie verduidelik nie, dis te groot vir ons begrip. Maar Hy doen wat God doen. God wat skep met net ‘n woord. God wat die Rooi See oop kloof. God wat brood uit die hemel gee. God wat water uit ‘n rots laat kom. God wat op water loop…
Die dissipels skrik hulle boeglam, maar dan maak Jesus hulle gerus met ‘n groot stelling: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” Hierdie ‘dit is Ek’ is in die Grieks: “Ek is”. Dieselfde woorde waarmee God Homself identifiseer aan Moses in Eksodus 3:14 is die woorde wat Jesus hier gebruik: Ek is. Die rede waarom die dissipels nie hoef bang te wees nie is omdat Jesus, God, Ek is, by hulle is.
Wat ‘n wonderlike vertroosting. Nie net vir die dissipels daar in die boot nie, maar ook vir die gemeente in Rome en vandag vir ons. Jesus is God. God self het onder ons kom woon. God self het gekom om in ons plek te kom sterf. God self is by ons. God is by jou!