Lofoffer 2019 – Dag 12

Wat is ‘dankbaarheid’?  Dis ‘n moeilike konsep om te verduidelik.

Die woordeboek help ons ook nou nie eintlik nie.  Om “dankbaar” te wees beteken, volgens die woordeboek, om “vol dank” te wees, of om “erkentelik vir weldade” te wees.  “Dank” beteken dan die “betuiging van erkentelikheid”.  Huh?! “Erkentlikheid”?!? Sy definisie help ook nie: “dankbare waardering”.  Waardering begin ons al ‘n beter idee gee.  “Waardering” beteken “op prys stel, hoogskat, agting”.  Ag nee, dit maak mens net meer deurmekaar!

Dalk moet ons eerder ons eie ervaring van wat die beteken om regtig dankbaar te wees, hoe dit voel, na kyk om die betekenis te verstaan.  Of dalk kan dit ook help om te dink aan hoe dit voel as jy iets vir iemand anders doen en daardie persoon opreg dankbaar is vir wat jy doen.  Dalk verstaan ons dankbaarheid nog beter as ons eers gesien het hoe ONdankbaar iemand is vir iets wat jy moeite mee gedoen het.

Is dit genoeg om net dankie te sê?  Ons word almal geleer dat “asseblief” en “dankie” die magic words is.  En gewoonlik is mense redelik tevrede as jy darem net dankie sê.  Maar die waarheid is dat “dankie” soms maar net ‘n woord kan bly wat mense sê en dat dit boonop ook ‘n baie leë woord kan wees.  Ander kere is dit opreg en doen mense soms iets so groot dat mens nie veel meer kan doen as om net dankie te sê nie, omdat jy nooit dieselfde groot ding sou kon terug doen om so dank te “bewys” nie.  Dankbaarheid kan egter nie net daai warm gevoel wees nie en moet oorgaan tot aksie.  Dit moet opreg wees.  Dit moet sigbaar wees.

Dink aan hoe bly dit ons maak as ons vir iemand ‘n geskenk gee wat nie net êrens in ‘n boks of op ‘n rak land nie, maar gereeld, met baie vreugde en sorg, gebruik en geniet word.  Wat hulle met die geskenk doen wys waardering, sigbare dankbaarheid. Wat doen ons met dit wat God vir ons gee…?

Die Bybel gee vir ons die opdrag om dankbaar te wees.  Dit is egter slegs moontlik om opreg dankbaar te wees as ons werklik besef wat ons het en besef dat dinge baie maklik baie anders kon gelyk het.  Sigbare dankbaarheid gee die woordjie “dankie” ‘n voet om op te staan.  As mens dankbaar is vir wat jy het, gaan jy dit wat jy het oppas.  Jy gaan dink dat dit wat jy het kosbaar is en daaroor bly wees en nie die heeltyd ongelukkig wees oor wat jy nie het nie.

So moet ons ook teenoor die Here dankbaar wees.  Nie net vir dit wat ons kan sien wat Hy vir ons gee en die manier hoe Hy vir ons sorg nie, maar ook vir dit wat Hy vir ons gedoen het.  Deur tot sy eer te LEWE sê ons vir Hom dankie vir sy oneindige Liefde, vir die duur prys wat Hy moes betaal sodat ons kan vry wees.

Gebed: Dank die Here vir sy goedheid en grootheid.  Doen iets sigbaar om vir Hom dankie te sê. Skryf dalk ‘n persoonlike lofpsalm in jou eie woorde waarin jy die Here loof vir alles wat Hy vir jou gee en doen. Dank die Here ook vir die reën wat verligting gebring het, en hou aan om voor Hom te buig vir nog en nog reën

Lofoffer 2019 – Dag 11

Die laaste element van die fees waarna ons hierdie week gekyk het vind sy oorsprong in Levitikus 23:40 wat sê:

“Op die eerste dag moet julle sitrusvrugte neem saam met palmblare en takke van digte bome en rivierwilgers, en dan moet julle sewe dae lank met vreugde feesvier by die heiligdom van die Here julle God.”

Oor die jare het praktyk dan ontwikkel dat hulle hierdie “Vier Spesies” (die drie verskillende takke en die sitroen) bymekaar gemaak het en ‘n groot deel was van die feesvieringe. Die drie takke is aanmekaar vasgebind en is saam met die sitroen in albei hande vasgehou het en dan geskud en gewaai in lof en dank aan die Here.  Hulle het dit in ses rigtings geskud en gewaai – boontoe, ondertoe, noord, oos, suid en wes – en die woorde van die Hallel Psalms (Ps 113-118) gesing.

Die simboliek daaragter was dat die Here, die bron van alles, oral, in alle rigtings, teenwoordig is en dat Hy oral regeer! Die takke en vrugte was ook daar in hulle hande as die bewys dat die Here getrou is en voorsien het vir die oes.

 

Met hierdie beweegoffers, of wuifoffers, het die mense met hulle hele liggame en al hulle sintuie die Here geloof.  Dink jouself in watse ongelooflike belewenis dit moes wees om daar in Jerusalem te kon staan tussen duisende mense wat die Here so aanbid. Die geluid en gedruis van die takke wat skud en die wind wat waai en die geur van die blare en die vrugte wat daar in die lug moes gehang het!

Dit verskil so bietjie van ons manier van aanbidding… ons is geleer om baie meer passief te wees wanneer dit kom by lof en aanbidding en danksegging.  En dan voel dit soms asof die uitbundige vreugde wat ‘n kenmerk van ons dankbaarheid en lof behoort te wees, baie keer ontbreek.

Wat is dit wat ons ontvang het wat ons in albei hande kan vashou en in al die rigtings in dankbaarheid wuif voor die Here? Dalk begin dit by die vrug van die Gees, dat dit deel van ons oes is, en wanneer ons dit werklik prakties begin uitleef dit dien as ‘n beweegoffer voor die Here.

Gebed: Maak vandag ‘n jou eie lysie van “vier spesies” – vier dinge wat die Here hierdie jaar vir jou gedoen het en loof Hom daarvoor met alles wat jy is. Kom ons hou ook aan om Hom, die Skepper en Gewer van als, te vertrou en te smeek vir reën.

Lofoffer 2019 – Dag 10

Die derde groot element is ook die een waar die fees sy naam vandaan kry – die tabernakels.  Ons lees in Nehemia 8 waar die volk weer die fees opnuut begin vier het na hulle terugkeer uit ballingskap:

“Die mense het die takke gaan haal, en elkeen het vir hom ‘n hut gebou, op die dak van sy huis of in sy binneplaas of in die voorhof van die tempel of op die plein by die Waterpoort of op die plein by die Efraimspoort.”

Kan jy jou hierdie toneel indink – oral waar jy kyk is daar so ‘n hut/sukkah/tabernakel gebou! ‘n Sigbare, publieke teken van gehoorsaamheid en toewyding aan God.  Wat gebeur in ons kultuur as ons op so sigbare manier begin om ons toewyding aan die Here te wys – meer as om net op ‘n Sondag die erediens by te woon?

Voorskrifte vir die bou van die tabernakels het later in die Joodse kultuur ontwikkel: dit moenie onder ‘n boom gebou word nie, want mens moet die blou lug of die sterre deur die dak kon sien.  So mag die blare en takke op die dak ook nie te dig wees nie sodat daar nog bietjie reën sou kon deur kom en die son nie heeltemal uitgeblok sou word nie.  Die rede vir hierdie voorskrifte was om die tydelikheid van die skuiling te beklemtoon, maar ook die tydelikheid van die mens se aardse woning.

Dit moes die mens herinner aan die swerwinge in die woestyn en dat die Here daar was en daar voorsien het.  Hulle moes onthou dat die Beloofde land, die land van melk en heuning, ook nie hul finale bestemming was nie, maar dat hulle daar nog van God afhanklik was en dat hulle finale bestemming by Hom is.

Die Here wil hê dat sy kinders nie gemaklik moet raak wanneer dit goed gaan en dan eers wanneer dit sleg gaan na Hom toe terughardloop vir hulp nie. Hy wou hê hulle moet onthou dat alles wat hulle het uit sy Hand kom.

Die volk moes onthou dat die Here hulle uit slawerny bevry het. Hulle moes onthou hoe die Here vir hulle voorsien het van water en kos in die woestyn.  Hulle moes onthou dat Hy elke tree by hulle teenwoordig was – in die vuur- en die wolkkolom.  Hy wou hulle oor en oor herinner aan sy voorsiening en sy teenwoordigheid.

In die woestyn was die Tabernakel, die Tent van Ontmoeting, die beste bewys en herinneringsteken van God se teenwoordigheid. Hierdie gedagte van “God wat onder mense kom woon” word in Jesus nog meer tasbaar en sigbaar as Hy self onder mense kom “tabernakel”:

“Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.” (Johannes 1:14)

Gebed: Dank die Here vandag spesifiek vir sy teenwoordigheid en voorsiening in jou eie lewe, maar ook dat Hy onder ons kom woon het en een van ons geword het! Ons dank die Here vir ‘n bietjie verligting van die hitte en die sagte druppels, maar hou aan om Hom te vertrou vir genoeg reën om hierdie droogte om te keer en die weervoorspellers verslae en verbaas te laat.

Lofoffer 2019 – Dag 9

Die volgende uitstaande kenmerk van die Huttefees was die offers wat die volk moes bring. Veral die groot hoeveelheid daarvan! Van al die feeste was hierdie fees die grootste en daarom was daar ook by verre meer offers by hierdie fees gebring as by enige ander fees.  Gaan lees gerus Numeri 29:12-40 wat die omvang van die offers vir die fees beskryf.

Sulke offers voel vir ons vreemd en primitief, maar het die volk gehelp om te onthou wil hul God is en hoe Hy met hulle in verhouding wou staan.  Deur die offers het hulle vir die Here dankie gesê vir alles wat Hy vir hulle voorsien.  Hulle het ook daardeur bely dat Hy die bron van alles is – dat alles wat hulle het van God af kom en aan Hom behoort. Hulle het verstaan dat daar ‘n plaasvervanger in hul plek moes sterf vir hul sondes. As ons dit verstaan dan begin ons beter begryp hoe die Here Jesus se opoffering gewerk het.

Dit is interessant om te sien dat al die offers soos Numeri dit beskryf, op ‘n manier by die getal 7 uitkom.  Sewe is simbolies vir volbring/perfek/volmaak en 70 was simbolies vir al die nasies.  Die Fees was bedoel om die perfekte fees te wees, tot eer van die Perfekte God wat in alles voorsien. Die einde van die seisoen en einde van die jaar.  Die offers was ook bedoel dus om alle volke in te sluit en vorentoe te kyk na die dag dat al die volke die Huttefees sal vir en elke knie sal buig voor die Here.

Dit bring Jesus se offer aan die kruis nog beter in perspektief – Hy bring een, finale, ewige en perfekte offer!

As ons na die omvang van die offers by hierdie fees kyk en onsself indink hoe groot operasie dit moes wees om al hierdie offers te bring, dan kan ons tog nie anders as om ons eie uitdrukkings van dankbaarheid en feesvieringe te ondersoek en te toets nie.

Doen ons genoeg om vir die Here dankie te sê? Leef ons werklik in die wete dat alles wat ons het – geld, goed, familie, kinders, gesondheid, alles – kom van Hom af en behoort eintlik nog al die tyd aan Hom? Hoe lyk ons dankbaarheid op ‘n daaglikse basis? Hoe lyk ons eredienste en spesiale dienste?  Dalk het dit tyd geword dat ons regtig koppe bymekaar sit en op ‘n gereelde basis ‘n manier vind om dankie te sê – op ‘n manier wat nie net die Here se voorsiening behoorlik eer nie, maar ter selfde tyd ‘n getuienis is vir die wêreld dat daar net Een bron van alles is van Wie ons alleen afhanklik is!

Gebed: Vra die Here om jou te help dat jou dankbaarheid nie net by woorde sal bly nie, maar sigbaar sal word in jou aksies – in die manier hoe jy werk met dit wat die Here vir jou gegee het.  En bid groot asseblief elke dag nog vir reën.

Lofoffer 2019 – Dag 8

Hierdie week leer ons bietjie by die formaat, by die verskillende elemente, van die Huttefees.  Ons sien hoedat die voorskrifte vir die fees nie sommer net vir sommer was nie, maar dat die Here deur hierdie elemente sy volk nader aan Hom wou trek.

So lees ons dan in Levitikus 34:33-36 dat die Here eerstens die spesifieke hoeveelheid dae wat die fees moes duur vir hulle voorgeskryf het:

“Sê vir die Israeliete: Van die vyftiende van die sewende maand af moet julle sewe dae lank die huttefees vier tot eer van die Here. Op die eerste dag van die fees moet julle ‘n gewyde byeenkoms hou. Niemand mag dan werk nie. Sewe dae lank moet julle offers aan die Here bring. Op die agste dag moet julle weer ‘n gewyde byeenkoms hou en offers aan die Here bring. Dit moet ‘n besondere feesdag wees. Niemand mag dan werk nie.”

Die Here ken sy volk. Hy ken die mens se alewige geneigdheid om te vergeet.  Hoe gou het die volk nie van die Here vergeet daar in die woestyn nie.  Hoe gou het hulle nie gemaklik geraak in die beloofde land en vergeet dat die Here, die bron van alles, hulle tot daar gebring het nie.  Hy weet ook hoe maklik die mens maar te besig kan raak.

Hy wil hê sy volk moes onthou. Onthou dat Hy voorsien en dat Hy teenwoordig is. Dat Hy vir hulle gesorg het, in die woestyn, maar ook in die voorafgaande seisoen.  Dat hulle van Hom alleen afhanklik is. Hy wil hê dat hulle fokus weer reggestel kan word – op Hom wat vir hulle sorg.  Hulle moes ook weer waarlik rusvind in Hom en weer nuwe krag kry. Daarom dat Hy hulle vir sewe dae lank uit hulle normale roetiene uit roep!

Kan jy dink wat die impak kan wees op ons land, op die wêreld, se kultuur as ons op so manier ons dankbaarheid vir die Here begin wys?  Wat gebeur in ons eie gemoed as ons werklik lankgenoeg tot stilstand kom en net weer opnuut bewus word van die Here se voorsiening en teenwoordigheid?  Ek vermoed ons gaan baie minder onvergenoegdheid beleef, minder selfsugtig wees, minder gespanne wees.

Kom ons vat die volgende sewe dae en sê elke dag vir die Here dankie vir iets anders.

Gebed: Dink vandag mooi aan iets/iemand spesifieks waarvoor jy werklik dankbaar is dat dit deel van jou lewe is, maar wat jy baie lanklaas (of dalk nog nooit) vir die Here dankie gesê het nie, en loof en eer Hom vandag daarvoor.  En hou asseblief aan om saam te buig voor die Here vir reën vir ons land!

Lofoffer 2019 – Dag 5

Eksodus 40:35 – 35Moses kon nie in die tent van ontmoeting inkom nie: die wolk was daarin, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tabernakel gevul.”

2 Kronieke 7:2 – 2Die priesters kon nie in die huis van die Here ingaan nie, so het sy magtige teenwoordigheid sy huis gevul.”

Hoe dink ons in vandag se tyd oor God se teenwoordigheid?  In die Ou Testament was die teenwoordigheid van die Here geen ligte saak nie en word daar telkens verwys na God se “magtige” teenwoordigheid.  Dit het ook gewoonlik gepaart gegaan met ‘n groot, sigbare, asemrowende gebeurtenis soos die tekste hierbo, byvoorbeeld, vertel.

Die mense se reaksies op hierdie teenwoordigheid van God is opmerklik.  Vrees, eerbied, gehoorsaamheid, lofprysing en ook dankbaarheid.  Die Sukkot was ‘n herinneringsfees waarmee die volk moes onthou dat hulle totaal en al afhanklik van God was.  Dit was ook ‘n dankbaarheidsfees waarin hulle veral twee goed gevier het: eerstens, God se voorsiening en sorg en tweedens, sy teenwoordigheid.

Vier ons nog vandag God se teenwoordigheid? Is “dankbaarheid” een van die maniere hoe ons nog daarop reageer?  Soms is God se teenwoordigheid iets wat verby ons gaan en ons aanvaar dit as vanselfsprekend.  Jy weet “Jesus is mos by jou”, sal ons sommer maklik sê.  Ander kere weer sal ons net oor sy nabyheid dink as ons begin voel dat Hy ver is of afwesig is.  Partykeer is daar weer daai geleenthede waar ons die Here se teenwoordigheid intens beleef en nie eintlik altyd lekker weet hoe om daarop te reageer nie.

Wat as ons begin rekening hou met die feit dat God altyd by ons is?  As ons die Here ernstig opneem as Hy sê “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matt 28:20)?  Dit sal ‘n invloed hê op die manier wat ons besluite neem, hoe ons optree, hoe ons swaarkry hanteer, hoe ons voorspoed hanteer, ens.  Die feit dat die Lewende, Almagtige God altyd by ons is, is voorwaar iets om voor dankbaar te wees.

Gebed: Sê vandag vir die Here dankie dat Hy ook by jou is en vra Hom om jou daagliks daaraan te herinner. En bid asb. nog elke dag vir reën!

Lofoffer 2019 – Dag 4

Die laaste naam wat ons kry waarmee daar verwys word na die Huttefees is nie een wat spesifiek net so in die Bybel voorkom nie, maar uit die Joodse tradisie bekend geword het.  Die naam is “Ons Jubelseisoen” en word grootliks afgelei uit Deuteronomion 16:13-15:

“Jy moet die huttefees sewe dae lank vier nadat jy jou oes van die dorsvloer en die parskuip af ingery het. Jy moet bly wees op hierdie fees, jy en jou seuns en dogters, jou slawe en slavinne, al die Leviete, vreemdelinge, weeskinders en weduwees van jou omgewing. In die plek wat die Here jou God sal kies, moet jy sewe dae lank tot sy eer feesvier, omdat die Here jou God jou met ‘n goeie oes geseën het en alles wat jy aangepak het, voorspoedig gemaak het. Daarom moet jy bly wees.”

Die Here wil hê dat sy kinders niks anders as vreugde beleef nie.  Hulle kon bly wees omdat hulle harde werk vir eers verby is en om dat hulle skure weer vol is.  Maar die Here wil hê hulle moet nie net jubel oor die oes nie, maar ook in Hom, die Een wat die bron van die oes is.  Sy voorsiening en sy teenwoordigheid moes hulle met vreugde vervul.

Hierdie vreugde was weereens in sterk teenstelling met die omringende volke van daardie tyd wat in vrees en bewing en bloed en sweet voor hulle afgodjies geleef het. Om in die teenwoordigheid van die Skepper van die heelal te kan staan moet ons met vreugde vul!

Natuurlik kan jy ook voel hoe bots hierdie konsep met hoe ons geleer is en sukkel ons baie keer daarmee om hierdie uitbundige vreugde en die gewydheid wat deel is van ons tradisie bymekaar uit te bring.  Ons het al hoeveel keer die vers gelees en die liedjie gesing van Filippense 4:4 van verbly jou in die Heer.  Maar tog is vreugde en blydskap en jubel nie altyd deel van ons prentjie van ‘n gelowige se lewe of van ons aanbiddingstyl nie.

Hierdie vreugde is egter nie ligsinnig nie, maar kom vanuit ‘n diepe verstaan en aanvaarding dat God soewerein is.  Hy regeer.  Hy het alles geskep, die reën en die oes inkluis.  En Hy voorsien aan sy kinders vanuit sy oneindige ryke genade.

As ons besef Wie God is dan gaan ons nie meer bekommer of vrees nie, maar sal ons op Hom vertrou en ware vreugde ervaar!

Psalm 46:11 – “Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.

Gebed: Bid vandag vir vreugde! Dat nie net elkeen van ons nie, maar ook elkeen wat dit vandag op hierdie moment die meeste nodig het, die blydskap van die Here se teenwoordigheid sal ervaar. Bid ook dat ons boere die blydskap van reën sal kan ervaar.

Lofoffer 2019 – Dag 3

Die derde naam waarmee die Huttefees bekend gestaan het was om daarna te verwys net as “Die Fees”.  So groot en bekend en belangrik was die fees dat, as mense gesê het hulle is oppad na “Die Fees” toe, dit nie eers nodig was om vir iemand te vra watter fees hulle bedoel nie.

Die Fees was so groot dat Salomo dit ook gebruik het as die geleentheid om die Tempel in te wy in 1 Konings 8:

“En al die manne van Israel het by koning Salomo op die fees vergader in die maand Étanim, dit is die sewende maand. En terwyl koning Salomo en die hele by hom vergaderde gemeente van Israel saam met hom voor die ark staan, het hulle kleinvee en beeste geoffer wat vanweë die menigte nie getel of bereken kon word nie.”

Hierdie fees was jaarliks die grootste partytjie van die jaar en is die fees (van die drie Pelgrimsfeeste) wat die beste bygewoon is.  Dis die einde van die jaar, al die werk is gedoen, die oes is ingesamel – dit was tyd vir feesvier en rus en dankbaarheid.

“Die Fees” is sterk gekenmerk deur groot groepe mense wat in blydskap dans en, soos ons later sal sien, groot parades gehou het as deel van die mense se uitbundige dankbaarheid. Dit is iets wat dalk vir ons vreemd is, maar hier sien ons dat hulle lof aan die Here alles behalwe passief was.

‘n Baie belangrike en onmisbare deel van “Die Fees” was juis dat dit ‘n pelgrimsfees was waarheen mense moes “opgaan”. Mense moet reis na Jerusalem om daar in die teenwoordiheid van die Here in die Tempel die fees te vier.  Die fees wou die volk leer dat ware aanbidding gepaard gaan met op reis wees. Op reis saam met God en met mense.  Die Here wou hê dat sy volk uit hulle normale roetines, wat mens se aandag kan steel, moes uitklim en op reis gaan om by Hom te wees.

As mens die omvang van “Die Fees” so bietjie begin raaksien dan laat dit mens wonder oor ons eie feeste en ons eie dankbaarheid. Hoe reflekteer ons vandag iets van die grootheid van hierdie fees?  Dalk moet die fokus van ons feeste, ons rustye, ons vakansies, ons partytjies so bietjie verander – na Hom wat die bron van alles is en die bron van ware rus is.

Mag jy regtig dans met blydskap oor al die seëninge van die Here. Mag jy op jou reis saam met Here tyd kry en geleentheid skep in jou daaglikse lewe om bewus te raak van sy teenwoordigheid en saam met jou reisgenote sy lof te bring.

Gebed: Ons bid nog elke dag vir reën, dat dit wyd en ver en lank sal val. Maar ons loof ook die Here vir die reën wat gister geval het! Vra die Here vandag om jou help om raak te sien dat jy rede het om te dans.

 

Lofoffer 2019 – Dag 2

Die tweede naam waarmee daar na die Huttefees verwys is, is “Die Oesfees”.  Die fees was inderdaad heel eerste ‘n landboufees.  Dit gaan oor wannneer hulle die fees moes vier.  Aan die einde van die seisoen, aan die einde van die oes, as al die werk afgehandel is. Maar ook m.a.w. oor waarom hulle die fees moes vier – om vir die Here dankie te sê vir die oes!

Hoor wat sê Eksodus 23:16 hieroor:

Die fees van die insameling moet gevier word aan die einde van die jaar wanneer jy die vrug van jou arbeid ingesamel het op die lande.”

Hierdie sterk band met die natuur en die seisoene was algemeen onder die meeste volke van daardie tyd en was daar verskeie sulke oesfeeste ook deur ander volke met ander gelowe gevier.  Maar die Here wou hê dat sy volk anders as die ander volke moes wees.  Waar die ander volke die skepping aanbid het, moes die volk van God eerder hul fokus na die Skepper draai en Hom alleen aanbid. So het die ander volke probeer om hulle godjies te manipuleer om vir hulle voorspoedig te maak en vir hulle goeie oeste te stuur.  Dit het gepaard gegaan met ‘n hele lot verskriklike praktyke.

Die Here wil hê dat sy kinders anders moet wees en met hierdie Oesfees wou Hy hulle daaraan herinner dat Hy die een is wat voorsien.  Hy is die een wat die seisoene in sy hand hou, wat die reën gee op die regte tyd en die oes gee op die regte tyd sodat hulle kos kan hê vir die jaar wat voorlê. Hy wil hê sy kinders moet verstaan Wie Hy is, dat Hy die enigste God en regeer oor alles. Daarom is die regte reaksie nie soos die ander volke se afgodsdiens nie, maar eerder opregte dankbaarheid – ‘n fees van dankbaarheid!

So moet ons ook reageer. Ons moet egter ook so ons fokus op ons Skepper behou. Die oorbeklemtoning wat daar in vandag se wêreld op die skepping en die oorbeskerming daarvan het hierdie fokus verloor. Natuurlik moet ons rentmeesters wees van die skepping maar ons moet onthou dat Hy nog steeds die bron van dit alles is, die Skepper van alles is en dat die hele skepping deur Hom en vir Hom is.  Die skepping is nie die doel self nie, maar die middel waardeur die Here verheerlik word. Die Oesfees dien dus ook as ‘n herinnering aan wat die regte rangorde in die heelal is – God is Koning en Skepper van alles.

Dink aan hoe die wêreld rondom ons lyk en hoe belangrik geld en mag en die mens se ego geword het. Die Here roep ons ook om anders as die wêreld van vandag te wees en te onthou dat alles wat ons het kom van Hom af. En dat ons daarop sal reageer met dankbaarheid.

Mag jy wanneer jy weer opnuut ontdek dat die Here vir jou voorsien gevul word met onkeerbare, uitbundige dankbaarheid. En mag daardie dankbaarheid ‘n getuienis wees wat wys na Wie ons God is!

Gebed: Ons bid vandag vir die boere van ons eie gemeenskap en hulle oeste.  Hoe daardie oeste ookal mag lyk – of dit voer vir hulle diere is, blare aan die bome, gras op die grond, of fisiese oeste van dit wat hulle geplant het. Ons bid dat die Here vir hulle sal voorsien en hulle sal seën met alles wat hulle nodig het en nog meer! Ons bid dat die Here, die Almagtige Voorsiener, dat Hy genoeg reën sal stuur.

Lofoffer 2019 – Dag 1

Dis Lofoffermaand en ons dink bietjie na oor waaroor ons alles vir die Here dankie sê en oor hoe ons dankbaarheid behoort te lyk. Hoe wys ons vir die Here dat ons werklik dankbaar is? Dit kan tog nie net ‘n aangeplakte of ‘n geforseerde dankie, met bybedoelings wees nie. Dit kan tog ook nie halfhartig en sommer net ‘n nagedagte aan die einde van ons gebede wees nie.

Juis daarom staan ons vir hierdie jaar se Lofoffer bietjie stil by die ‘Sukkot-Fees’, die ‘Fees van die Tabernakels’ of ‘Huttefees’.  Ons gaan by hierdie Bybelse fees so ietsie leer van hoe ‘n dankbaarheidsfees lyk en in die proses weer ‘n paar nuwe dinge ontdek oor ons verhouding met die Here. Of eerder: sy verhouding met ons!

Die Fees kry ‘n paar verskillende name en kry die volk die opdrag om die fees te vier in Levitikus 23:42-43:

“Sewe dae lank moet julle in hutte woon, alle gebore Israeliete moet dan in hutte woon. Die doel daarmee is dat julle nageslag moet weet dat Ek die Israeliete in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipte laat trek het. Ek is die Here julle God.”

Hier leer ons die fees dan ken as die Sukkot – sukkot beteken ‘tabernakels’ of ‘hutte’. Die klem val hier op ‘n tydelike struktuur wat maklik afgebreek en saam op reis geneem kon word en weer maklik opgeslaan kon word. (Ons kan maklik hiermee identifiseer, ons ken mos van tente en kamp!)

Met die opdrag om tydens die fees in hierdie tabernakels te bly wou die Here die volk herinner aan die feit dat hulle daar in die woestyn geswerf het en dat Hy nie net daar in hulle behoeftes voorsien het nie, maar dat Hy ook in die Tent van ontmoeting, in die Tabernakel en in die wolk- en vuurkolom by die volk teenwoordig was.

So moes die mense onthou dat hulle van God alleen afhanklik is. Dat Hy die bron van alles is. Alles wat ons het kom uit sy Hand. So herinner dit ook die volk aan die feit dat die Here hulle uit Egipte, deur die woestyn na die beloofde land, ‘n vaste vesting, gelei het en dat ook dit net genade van Bo is. Hulle onthou dat die lewe hier op aarde maar kortstondig en kwesbaar en tydelik is en dat hierdie nie ons permanente woning is nie, maar ons finale bestemming by God is.

Hierdie fees word vandag nog in die Joodse gemeenskap gevier, maar nie heeltemal soos dit was in die Bybelse tyd nie. Maar mens kan nog tydens die fees die Sokkot/Tabernakels/Hutte te sien kry waar mense hulle etenstye deurbring en ander nooi om saam met hulle in hierdie tydelike strukture te kom eet.  Die strukture word doelbewus so gebou dat die dak nie al die son of reën uithou nie en mens nog ‘n sterretjie deur die dak sou kon sien. So kan hul onthou dat die Here die voorsiener van alles is.

Ons kan baie uit hierdie gebruik leer en dalk is dit nodig dat ons ook so bietjie uit ons normale gemaksone uitklim en vir ‘n oomblik weer nadink oor ons eie afhanklikheid van God. As ons weer opnuut kan ontdek en onthou dat alles wat ons het en alles wat ons is van Hom af kom, dan kyk ons dalk met nuwe oë na dit wat ons het en kan ons dan nie anders as om meer en meer en meer vir die Here te wil dankie sê nie.

Ek wil jou uitnooi om juis dit te doen en êrens ‘n tydjie af te knyp en so rukkie in ons eie sukkah daar op die kerkterrein te kom sit. Kom eet jou middagete daar of breek net bietjie weg uit die gejaag van die lewe. Kom spandeer tyd om met die Here te praat en na te dink oor alles waarvoor jy kan dankbaar wees.

Gebed: Kom ons as gemeente vat hande tydens hierdie Lofoffermaand om die Here te loof vir alles wat ons het en vir sy voorsiening en teenwoordigheid, maar kom ons vat ook hande om voor die Here te buig in afhanklikheid en daagliks te bid vir reën vir ons land.