Wat is ‘dankbaarheid’? Dis ‘n moeilike konsep om te verduidelik.
Die woordeboek help ons ook nou nie eintlik nie. Om “dankbaar” te wees beteken, volgens die woordeboek, om “vol dank” te wees, of om “erkentelik vir weldade” te wees. “Dank” beteken dan die “betuiging van erkentelikheid”. Huh?! “Erkentlikheid”?!? Sy definisie help ook nie: “dankbare waardering”. Waardering begin ons al ‘n beter idee gee. “Waardering” beteken “op prys stel, hoogskat, agting”. Ag nee, dit maak mens net meer deurmekaar!
Dalk moet ons eerder ons eie ervaring van wat die beteken om regtig dankbaar te wees, hoe dit voel, na kyk om die betekenis te verstaan. Of dalk kan dit ook help om te dink aan hoe dit voel as jy iets vir iemand anders doen en daardie persoon opreg dankbaar is vir wat jy doen. Dalk verstaan ons dankbaarheid nog beter as ons eers gesien het hoe ONdankbaar iemand is vir iets wat jy moeite mee gedoen het.
Is dit genoeg om net dankie te sê? Ons word almal geleer dat “asseblief” en “dankie” die magic words is. En gewoonlik is mense redelik tevrede as jy darem net dankie sê. Maar die waarheid is dat “dankie” soms maar net ‘n woord kan bly wat mense sê en dat dit boonop ook ‘n baie leë woord kan wees. Ander kere is dit opreg en doen mense soms iets so groot dat mens nie veel meer kan doen as om net dankie te sê nie, omdat jy nooit dieselfde groot ding sou kon terug doen om so dank te “bewys” nie. Dankbaarheid kan egter nie net daai warm gevoel wees nie en moet oorgaan tot aksie. Dit moet opreg wees. Dit moet sigbaar wees.
Dink aan hoe bly dit ons maak as ons vir iemand ‘n geskenk gee wat nie net êrens in ‘n boks of op ‘n rak land nie, maar gereeld, met baie vreugde en sorg, gebruik en geniet word. Wat hulle met die geskenk doen wys waardering, sigbare dankbaarheid. Wat doen ons met dit wat God vir ons gee…?
Die Bybel gee vir ons die opdrag om dankbaar te wees. Dit is egter slegs moontlik om opreg dankbaar te wees as ons werklik besef wat ons het en besef dat dinge baie maklik baie anders kon gelyk het. Sigbare dankbaarheid gee die woordjie “dankie” ‘n voet om op te staan. As mens dankbaar is vir wat jy het, gaan jy dit wat jy het oppas. Jy gaan dink dat dit wat jy het kosbaar is en daaroor bly wees en nie die heeltyd ongelukkig wees oor wat jy nie het nie.
So moet ons ook teenoor die Here dankbaar wees. Nie net vir dit wat ons kan sien wat Hy vir ons gee en die manier hoe Hy vir ons sorg nie, maar ook vir dit wat Hy vir ons gedoen het. Deur tot sy eer te LEWE sê ons vir Hom dankie vir sy oneindige Liefde, vir die duur prys wat Hy moes betaal sodat ons kan vry wees.
Gebed: Dank die Here vir sy goedheid en grootheid. Doen iets sigbaar om vir Hom dankie te sê. Skryf dalk ‘n persoonlike lofpsalm in jou eie woorde waarin jy die Here loof vir alles wat Hy vir jou gee en doen. Dank die Here ook vir die reën wat verligting gebring het, en hou aan om voor Hom te buig vir nog en nog reën
Oor die jare het praktyk dan ontwikkel dat hulle hierdie “Vier Spesies” (die drie verskillende takke en die sitroen) bymekaar gemaak het en ‘n groot deel was van die feesvieringe. Die drie takke is aanmekaar vasgebind en is saam met die sitroen in albei hande vasgehou het en dan geskud en gewaai in lof en dank aan die Here. Hulle het dit in ses rigtings geskud en gewaai – boontoe, ondertoe, noord, oos, suid en wes – en die woorde van die Hallel Psalms (Ps 113-118) gesing.
Dit moes die mens herinner aan die swerwinge in die woestyn en dat die Here daar was en daar voorsien het. Hulle moes onthou dat die Beloofde land, die land van melk en heuning, ook nie hul finale bestemming was nie, maar dat hulle daar nog van God afhanklik was en dat hulle finale bestemming by Hom is.
Dit is interessant om te sien dat al die offers soos Numeri dit beskryf, op ‘n manier by die getal 7 uitkom. Sewe is simbolies vir volbring/perfek/volmaak en 70 was simbolies vir al die nasies. Die Fees was bedoel om die perfekte fees te wees, tot eer van die Perfekte God wat in alles voorsien. Die einde van die seisoen en einde van die jaar. Die offers was ook bedoel dus om alle volke in te sluit en vorentoe te kyk na die dag dat al die volke die Huttefees sal vir en elke knie sal buig voor die Here.
Hy wil hê sy volk moes onthou. Onthou dat Hy voorsien en dat Hy teenwoordig is. Dat Hy vir hulle gesorg het, in die woestyn, maar ook in die voorafgaande seisoen. Dat hulle van Hom alleen afhanklik is. Hy wil hê dat hulle fokus weer reggestel kan word – op Hom wat vir hulle sorg. Hulle moes ook weer waarlik rusvind in Hom en weer nuwe krag kry. Daarom dat Hy hulle vir sewe dae lank uit hulle normale roetiene uit roep!
Die mense se reaksies op hierdie teenwoordigheid van God is opmerklik. Vrees, eerbied, gehoorsaamheid, lofprysing en ook dankbaarheid. Die Sukkot was ‘n herinneringsfees waarmee die volk moes onthou dat hulle totaal en al afhanklik van God was. Dit was ook ‘n dankbaarheidsfees waarin hulle veral twee goed gevier het: eerstens, God se voorsiening en sorg en tweedens, sy teenwoordigheid.
Hierdie vreugde was weereens in sterk teenstelling met die omringende volke van daardie tyd wat in vrees en bewing en bloed en sweet voor hulle afgodjies geleef het. Om in die teenwoordigheid van die Skepper van die heelal te kan staan moet ons met vreugde vul!
“Die Fees” is sterk gekenmerk deur groot groepe mense wat in blydskap dans en, soos ons later sal sien, groot parades gehou het as deel van die mense se uitbundige dankbaarheid. Dit is iets wat dalk vir ons vreemd is, maar hier sien ons dat hulle lof aan die Here alles behalwe passief was.
Hierdie sterk band met die natuur en die seisoene was algemeen onder die meeste volke van daardie tyd en was daar verskeie sulke oesfeeste ook deur ander volke met ander gelowe gevier. Maar die Here wou hê dat sy volk anders as die ander volke moes wees. Waar die ander volke die skepping aanbid het, moes die volk van God eerder hul fokus na die Skepper draai en Hom alleen aanbid. So het die ander volke probeer om hulle godjies te manipuleer om vir hulle voorspoedig te maak en vir hulle goeie oeste te stuur. Dit het gepaard gegaan met ‘n hele lot verskriklike praktyke.
Juis daarom staan ons vir hierdie jaar se Lofoffer bietjie stil by die ‘Sukkot-Fees’, die ‘Fees van die Tabernakels’ of ‘Huttefees’. Ons gaan by hierdie Bybelse fees so ietsie leer van hoe ‘n dankbaarheidsfees lyk en in die proses weer ‘n paar nuwe dinge ontdek oor ons verhouding met die Here. Of eerder: sy verhouding met ons!