Eksodus 40:35 – “35Moses kon nie in die tent van ontmoeting inkom nie: die wolk was daarin, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tabernakel gevul.”
2 Kronieke 7:2 – “2Die priesters kon nie in die huis van die Here ingaan nie, so het sy magtige teenwoordigheid sy huis gevul.”
Hoe dink ons in vandag se tyd oor God se teenwoordigheid? In die Ou Testament was die teenwoordigheid van die Here geen ligte saak nie en word daar telkens verwys na God se “magtige” teenwoordigheid. Dit het ook gewoonlik gepaart gegaan met ‘n groot, sigbare, asemrowende gebeurtenis soos die tekste hierbo, byvoorbeeld, vertel.
Die mense se reaksies op hierdie teenwoordigheid van God is opmerklik. Vrees, eerbied, gehoorsaamheid, lofprysing en ook dankbaarheid. Die Sukkot was ‘n herinneringsfees waarmee die volk moes onthou dat hulle totaal en al afhanklik van God was. Dit was ook ‘n dankbaarheidsfees waarin hulle veral twee goed gevier het: eerstens, God se voorsiening en sorg en tweedens, sy teenwoordigheid.
Vier ons nog vandag God se teenwoordigheid? Is “dankbaarheid” een van die maniere hoe ons nog daarop reageer? Soms is God se teenwoordigheid iets wat verby ons gaan en ons aanvaar dit as vanselfsprekend. Jy weet “Jesus is mos by jou”, sal ons sommer maklik sê. Ander kere weer sal ons net oor sy nabyheid dink as ons begin voel dat Hy ver is of afwesig is. Partykeer is daar weer daai geleenthede waar ons die Here se teenwoordigheid intens beleef en nie eintlik altyd lekker weet hoe om daarop te reageer nie.
Wat as ons begin rekening hou met die feit dat God altyd by ons is? As ons die Here ernstig opneem as Hy sê “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matt 28:20)? Dit sal ‘n invloed hê op die manier wat ons besluite neem, hoe ons optree, hoe ons swaarkry hanteer, hoe ons voorspoed hanteer, ens. Die feit dat die Lewende, Almagtige God altyd by ons is, is voorwaar iets om voor dankbaar te wees.
Gebed: Sê vandag vir die Here dankie dat Hy ook by jou is en vra Hom om jou daagliks daaraan te herinner. En bid asb. nog elke dag vir reën!