Meer Oor Ons

Die NG Gemeente Ellisras-Wes is geleë in Onverwacht, Ellisras - in die hartjie van die Bosveld! Ons is 'n gemeente wat nie meer maar net wil 'kerk toe gaan' nie. Ons wil werklik ons roeping as deel van die Liggaam van Christus ernstig opneem en daarom wil ons graag Kerk WEES.

Visie:

Weskerk staan vir “Waar Elkeen SY Kerk is”

Efesiërs 1:22-23 sê:

“Ja aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. Die kerk is sy liggaam die volheid van Hom wat alles in almal vervul.”

Missie:

Weskerk buig voor God alleen as Koning. Ons is gewone mense wat geroep is daartoe om die Liefde van Christus SIGBAAR uit te leef. Waar elkeen toegerus, en die geleentheid gebied word om geestelik te groei deur te DOEN.

Logo:

  • Die kruis staan in die middel. Jesus ons Koning staan vir ons in die middel van alles - Hy en sy Koninkryk is vir ons prioriteit nommer een. Hy het ons skoongewas van ons sondes en Hy het ons geroep om sy Blye Boodskap te verkondig.
  • Ons is gewortel in die Woord van God. Die Skrif is die manier hoe die Here Homself aan ons kom openbaar. Die Bybel bly vir ons die bron waaruit ons leer en leef.
  • Die Son herinner aan die bosveldsonsondergang wat ons, hier waar ons bly, op ’n daaglikse basis herinner aan ons Skepper se grootheid, goedheid en genade. Dit herinner ook daaraan dat ons elke dag elke geleentheid moet aangryp om sy Liefde uit te leef.
  • Die Maroelaboom, so kenmerkend van ons omgewing, is ’n visuele herinnering daaraan dat ons moet aanhou groei - nader groei aan mekaar, saam nader aan God, maar ook elkeen as individu sal aanhou om geestelik te groei.

Die boom dien ook as simbool wat ons help om die geloofsgewoontes te onthou waarmee ons daagliks ons Visie en Missie wil uitleef:

BLY GEWORTEL:

6“Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, 7in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul.” Kolossense 2:6-7

GROEI NADER: 15“Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, 16en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam 'n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.” Efesiërs 4:15-16

DRA VRUGTE:

22“Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing.” Galasiërs 5:22-23

GEE SKADUWEE:

32“ Maar as dit eenmaal geplant is, kom dit op en word dit groter as al die tuinplante. Dit kry sulke groot takke dat die voëls in sy skaduwee kom nes maak.” Markus 4:32

VERHEERLIK DIE SKEPPER:

11“ Die hemele moet bly wees en die aarde moet juig, die see en alles daarin moet druis, 12 die veld en alles daarop moet jubel, al die bome in die bos moet hulle verheug 13voor die Here” Psalm 96:11-13

Ons Eredienste is elke Sondagoggend om 8:30.  Ons loof die Here met alles wat ons het en groei  saam nader aan God en aan mekaar.

Kom word deel van ons familie!