Week van Gebed 2020: Naam bo elke naam

In die Bybel tref ons verskillende name vir die Here aan.  Die bekendstes is natuurlik:

  • Jesus (Matt 1:21) – Jesus beteken “Verlosser”. Die Een wat die wêreld van sonde verlos, wat ons straf op Hom geneem het.
  • Christus (Luk 9:20; Joh 11:27) – Christus beteken “Gesalfde”. Die Een wat na die wêreld toe sou kom, die Een wat die profete oor geskryf het, die “Chosen One” wat deur God gestuur is.
  • Immanuel (Matt 1:23) – Immanuel beteken “God met ons”. Hy het een van ons geword, onder ons kom woon, Hy is by ons.

Elders in die Nuwe Testament kry ons nog ander titels vir Jesus:

Joh 1:1 en 14  Die Woord
Luk 2:11 Die Here
Matt 16:16 Die Seun van God
Joh 1:29 Die Lam van God
Joh 8:12 Die Lig vir die wêreld
Op 19:16 Koning van die konings, Here van die heersers
Op 22:13 Alfa en Omega, Begin en Einde, Eerste en Laaste

Hierdie name van Jesus help ons om beter te verstaan Wie Hy is en wat Hy hier op aarde kom doen het.  Ons verstaan dan daarin dat Hy ons Verlosser is, maar ook dat Hy God self is, dat Hy ons Here is (Here beteken ‘eienaar’/’meester’), dat Hy die Koning is, nie net in ons lewens nie maar oor die hele heelal.  Hy is die begin en die einde van alles en daar was nooit en sal nooit ‘n tyd wees wat Hy nie ‘is’ nie of wat Hy nie regeer nie.

Om die Ware Jesus te ken en te dien beteken meer as net om te weet wat sy Naam is, maar ook Wie Hy is, wat hierdie naam(e) in ons lewens beteken.  Dit is duidelik dat God se Naam meer is as net ‘n titel of ‘n beskrywende woord.  Daarvan getuig die derde gebod duidelik.  Eksodus 20:7 sê dat ons nie die Here se naam mag misbruik nie.

Soms gebruik ons die Here se Naam in ons gebede in die hoop dat dit een of ander “magical power” het en daarom alles wat ons vra waar sal maak en probeer so die Here in beweging bring om vir ons te gee wat ons wil hê.  Ons moet eerder afhanklik wees van Hom in plaas daarvan dat ons vir Hom probeer sê wat Hy moet doen.  Ons probeer ook soms om dit wat ons sê meer “waar” te maak of meer gesag te gee deur die Here se Naam te gebruik.  Deur te “sweer voor die Here” of te sê “as ek jok kan die Here my maar doodslaan”.  Ons moet eerder altyd eerlik wees dat mense weet as ons iets sê dan is dit die waarheid.  Die algemeenste manier is mos maar om die Here se Naam as ‘n vloekwoord te gebruik en net nie om te gee om sy Naam sonder respek rond te slinger nie.

Ons moet opstaan vir sy Naam en mense daarop wys dat dit nie aanvaarbaar is om so te praat nie.  Die Here is God en Hy moet al ons lof en eer en respek kry, daarom moet die manier hoe ons oor en met Hom praat ook daarvan getuig.  Ons moet BID dat mense in die media ook tot hierdie insig kom en besef waarmee hulle besig is en dat hulle die Here se Naam ook sal respekteer.  Ons moet ook die voorbeeld stel in die manier hoe ons die Here se Naam gebruik en waak daarteen dat ons self nie te gewoond raak daaraan dat dit naderhand vir ons ook aanvaarbaar word om sy Naam so te misbruik nie.

GEBED:

  1. Kom ons vra die Here dat Hy ons sal help om sy Naam heilig te hou. Dat ons sal fokus daarop om sy Naam te eer en op só manier praat en doen dat Hy altyd die eer ontvang. Dat Hy ons sal help om te besef wat die waarde daarvan is om eerder altyd opreg en eerlik te wes as om ons standpunte te probeer staaf deur sy Naam te misbruik. Ons bid ook vir elke persoon in massa media wêreldwyd wat besluite kan neem oor die gebruik van God se naam in alle vorme van media, dat hulle Hom sal leerken en besluit om sy Naam te eer.
  1. Ons bid vandag vir ons Gemeente. Vir elke gemeentelid se persoonlike situasie en behoeftes. Dat die Here sy seën oor elkeen sal uitstort, sodat ons oral waar ons kom werklik tot seën vir ander kan wees.

Week van Gebed 2020: Dien die WARE Jesus

Lees weer ‘n slag noukeurig deur Eksodus 20:1-6.  Wat is die Tweede Gebod van die Tien Gebooie?  Hoe verskil dit van die Eerste Gebod? Die Eerste Gebod gaan oor om God alleen te aanbid, ons mag geen ander god aanbid nie.  Daarom geen ander godsdiens/geloof aanhang nie of beeldjies of mense of diere of goeters aanbid nie of toelaat dat iets tussen ons en God kom nie.  Die Tweede gebod gaan daaroor dat ons nie God gevange mag neem nie, van Hom iets maak wat Hy nie is nie, Hom in ons eie hanteerbare boksie mag sit nie.  Ons moet Hom aanbid vir wie Hy werklik is, hoe Hy Homself aan ons bekend maak en nie op ‘n manier waarmee ons net meer gemaklik voel of beter verstaan nie.

Die Heidelbergse Kategismus (een van ons kerk se belydenisskrifte) sê die volgende oor die Tweede Gebod:

Vraag 96:     Wat eis God in die tweede gebod ?

Antwoord:     Ons mag God op geen enkele manier afbeeld nie en Hom op geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie.

As dit is wat ons nie mag doen nie, wat MOET ons dan doen volgens die Tweede Gebod?

Ons moet GOD aanbid, niks of niemand anders nie!  Hy kom wys vir ons in die Bybel wie Hy is en wat Hy van ons verwag.  Dit is daarom belangrik dat ons Hom werklik sal leerken soos wat Hy Homself aan ons bekendstel in sy Woord.  Dit beteken dat ons die Bybel werklik moet lees en dat ons met God moet praat, sodat ons Hom beter kan leer ken en nie net gaan op wat ander mense oor Hom sê of wat ons al van Hom gehoor het nie, maar dat ons Hom SELF leerken!

Ongelukkig gebeur dit vandag nog dat ons mense denkbeeldige ‘afbeeldings’, hulle eie ‘imaginary’ weergawes van God maak.  Mense wil God kan sien, Hom beter verstaan, wil hê Hy moet doen wat hulle wil hê, wil sy mag vasvang vir hulleself, soek iemand om te blameer, iemand om ander mee te dreig/af te pers.  Mense soek instant oplossings en wil die Here manipuleer om te doen wat hulle vra deur Hom ‘om te koop’.  Mense wil hê Hy moet naby genoeg wees om hulle te help in nood maar vêr genoeg dat Hy nie hulle gewetes pla as hulle wil droogmaak nie.

In die Evangelie van Johannes sê Jesus op ‘n paar maniere wie Hy is, die bekende “Ek is” uitsprake.  Lees hulle gerus elkeen weer in die perikoop waarin hulle voorkom.  Hierdie uitsprake spreek boekdele oor Wie Hy self kom wys het wie Hy werklik is!

Joh 6:35 – Brood wat lewe gee.  Joh 11:25 – Opstanding en die Lewe.
Joh 8:12 – Lig vir die wêreld. Joh 14:6 – Weg, Waarheid en Lewe.
Joh 10:9 – Ingang. Joh 15:1 – Ware Wingerdstok.
Joh 10:11 – Goeie Herder. Joh 8:58 – God self!

Jesus kom wys dat Hy die weg na die weg na die Ewige lewe is.  Aardse dinge waarna ons strewe en waaraan ons waarde heg gaan verby, maar Hy en sy liefde bly vir ewig.  Dit is omdat Hy sy lewe vir ons aflê (Herder) dat Hy vir ons die Weg word.  Dit is deur Hom te ken, sy voorbeeld te volg, in Hom te bly (Wingerdstok) dat ons die Vader leerken en werklik sy Wil leer doen!  Hy is die Lig, nie net omdat Hy die dood oorwin het nie, maar ook omdat Hy vir ons reeds nou in hierdie lewe vir ons die oorwinning gee oor die sonde en die dood.  Hy is God self.  Hy is die Lewe.  Ons moet Hom aanbid en vir Hom lewe!

GEBED:

  1. Kom ons vra die Here om ons oë oop te maak vir wie Hy werklik is maar ons ook deur sy se Gees se leiding te wys wanneer ons besig is sy beeld in ons koppe te verdraai vir ons eie agenda. Dat Hy ons sal seën met ‘n onblusbare begeerte om Hom beter en beter te leer ken dat ons Hom kan aanbid vir Wie Hy is maar dat ons ook al beter kan verstaan wat dit beteken om VOLUIT vir Hom te lewe.
  1. Ons bid vandag vir ons regering, plaaslik en nasionaal. Vir die gelaaide politieke situasie in ons land, maar ook vir wysheid en insig vir die mense in magsposisies wat besluite maak en oplossings moet soek.

Week van Gebed 2020: Jesus is die WARE God

Eksodus 20:1-3  sê die Eerste gebod is dat ons vir God alleen moet aanbid – geen ander gode nie!  Die Here het die volk uit Egipte bevry.  Dit was die grootste gebeurtenis in die geskiedenis van Israel!  Dit word die motivering vir die Tien Gebooie, die volk moet in dankbaarheid teenoor God sy gebooie nakom.  Die Here identifiseer Homself en sê wie hier praat, wie Hy is wat hulle moet gehoorsaam.

In 1 Johannes 5:21 lees ons hierdie opdrag: “21Liewe kinders, bly dus weg van die afgode af.”NAV  Maar wat is hierdie afgode? Dit gaan nie hier bloot net oor (alhoewel dit ook ‘n rol speel) die hoeveelheid tyd wat ons aan ander dinge as ons verhouding met God spandeer nie.  Dit gaan oor wie ons aanbid, van wie ons lewe afhang, waarsonder ons nie kan nie.  Dit gaan oor op wie/wat ons ons vertroue stel, i.p.v. om dit op God alleen te stel.

Bybelse voorbeelde van afgode sluit in: Beelde soos die goue kalf (Eks 32:1-6). Dan ook die son (Ra), maan, sterre (Jer 19:13), Nylrivier, Baäl (god van vrugbaarheid), Astarte, Dagon, ens… Daar was reeds waarsêers, besweerders, towenaars, sterrekykers, voorspellers (Dan 5:11).  Die vertroue in geld en rykdom is ook reeds so oud soos die Bybel (Spr 11:28;  Jak 5:1vv;  Matt 6:24).  Gierigheid (Ef 5:5; Kol 3:5).  Ander mense, wapens, mag – Jes 31:1-3;  Jer 17:5-8.

Dit voel partykeer asof hierdie afgode van die Bybelse tyd baie konkreet was en amper maklik is om uit te wys en daarom maklik sou wees om te vermy.  Dit teenoor die afgode van die moderne tyd wat baie meer subtiel ‘n invloed op ons lewens het en dus moeiliker om te vermy.  Maar as ons so vinnige lysie van moderne voorbeelde maak, dan kom mens gou agter dat daar eintlik baie van hulle is:

Geld, goed, posisie, mag, die rede (verstand), sterrekykers, waarsêers (palmlesers), fisiese vermoëns,  ander mense (liefdesverhoudings, celebrities), politieke partye, volk, wêreldmagte, modegiere, sport, musiek, entertainment, selfone, sosiale media, tegnogie, ens…  Ander godsdienste: Satanisme, Boedhisme, Hindoeïsme, ens.

Die groot krisis met enige vorm van ‘n afgod is dit steel ons tyd. Dit maak dat ons ons doel mis, dat ons kosbare tyd wat ons kon spandeer aan die liefde uitleef wat die Here van ons verwag eerder aan ander dinge afstaan. Ons spandeer soveel tyd aan die afgod dat ons nie meer die wil van die Here doen nie.  Ons afgode word so belangrik dat dit belangriker is om daarmee besig te wees as om te doen wat die Here verwag.  Afgode maak gewoonlik dat ons selfsugtig optree en vergeet van God en die mense rondom ons waarvoor ons moet liefwees.  Dan skeep ons mense af en trap op ander om te kry wat ons wil hê.  Ons raak afhanklik van ons afgode eerder as van die Here en dink dat hierdie afgodjies vir ons kan gee wat God vir ons gee – sorg, standvastigheid, betekenis, aanvaarding, veiligheid, ens.

Wat beteken dit dan om die Here Jesus as WARE God te aanbid? (Lees Filippense 3:4-11; Kolossense 3:17 en 23; 2 Korintiërs 5:15.)  Omdat Jesus ons bevry het uit die mag van die sonde (soos die Here dit ook vir Israel gedoen het in Egipte) moet ons sy wil doen en Hom alleen dien.  Omdat Hy God is moet ons doen wat Hy van ons vra.  Ons moet van Hom alleen afhanklik wees vir dit wat ons wil hê en nodig het in die lewe.   Dat Hy en dit wat Hy van ons verwag vir ons belangriker sal wees as enige iets of iemand anders in die wêreld.  Dit beteken nie dat ons net soveel, of meer, tyd aan God moet spandeer as bv. aan ons gunsteling sport nie, maar dat ons in alles wat ons doen, dit vir Hom moet doen, tot sy eer, op ‘n manier wat vir Hom goed is.  Dat elke sekonde wat ons spandeer, ook só sal wees dat dit is soos wat Hy dit wil hê.

GEBED:

  1. Dat die Here ons oë sal oopmaak vir die dinge wat ons tyd steel. Die dinge wat ons net besig hou en maak dat ons ons doel mis – om God en ons naaste lief te hê. Dat Hy ons ook dapper en wys genoeg sal maak om nie net daardie dinge te identifiseer nie, maar ook om dit af te lê. Dat Hy ons dan ook deur sy Gees sal lei om ons te wys wat dit daagliks beteken om 100% vir Hom te lewe.
  1. Spesifiek vir hulle wat die ergste deur die droogte getref word. Dat die Here vir hulle sal voorsien in elke behoefte en die reën op die perfekte tyd sal stuur.

Week van Gebed 2020: Jesus is God!

Kolossense 1:16-17 en Johannes 1:1-3 vertel vir ons dat Jesus van die begin af reeds daar was.  Alles is deur Hom en vir Hom geskep.  Hy is God self en was by die Skepping alreeds God.  Net soos wat God as die Vader en die Gees alreeds by die skepping was, was die Seun ook en het alles deur Hom tot stand gekom.  Dit beteken dat Hy die Almagtige God is, Hy het al die mag (vgl. Hebreërs 1:1-3).

Jesus bevestig dit self en gebruik in Johannes 8:58 presies dieselfde formule wat ons sien in Eksodus 3:14 waar God vir Moses sê wie Hy is.  “Ek is wat ek is” sê Hy.  Jesus kom sê hier dat Hy eintlik God is.  Dieselfde God as die een wat met Moses in die brandende bos gepraat het.

Die Ou Testament het reeds lank voor Jesus se koms daarvan gepraat.  Jesaja 9:5-6 vertel vir ons: Hy sal heers as die Koning van die Konings op die troon van Dawid (vgl. Matteus 1:1-17), sy Koningskap sal vir altyd bly.  Hy is die Magtige God.  Hierdie is ‘n baie radikale uitspraak vir die Ou Testament wat soveel klem plaas op die feit dat daar net Een God kan wees, om na iemand “anders” as “God” te verwys.  Dit versterk die feit dat die Messias wat sou kom, Jesus, reeds van die Ou Testamentiese tyd al verstaan is as God self.

In Jesaja 7:14 en Matteus 1:23 lees ons van die naam “Immanuel”. Immanuel beteken “God met ons”.  Jesus is waarlik God wat een van ons geword het, wat mens geword het, wat onder ons kom woon het.  Dit bevestig net weer dat Hy God self is as daar in die Ou Testament so oor Hom gepraat word en die engel vir Josef die opdrag gee om Hom hierdie naam te gee.

Wat behoort ons reaksie te wees op die feit dat Jesus self ook God is?  Filippense 2:9-11 en Openbaring 5:13-14 behoort ons eintlik genoeg van ‘n idee te gee.  Ons moet Hom aanbid as die Ware God.  Voor Hom en voor Hom alleen moet ons en die hele skepping die knie buig en Hom aanbid.  Ons aanbid nie drie gode nie, maar Een God, wat Homself aan ons bekend maak as Vader, Seun en Gees.  Hy kom openbaar Homself aan ons in Jesus Christus wat vir ons mens geword het.  Daarom aanbid ons Hom en moet ons Hom liefhê met ons hele hart en ons hele siel en hele verstand (vgl. Matteus 22:37).

Die feit dat Jesus, God self, een van ons, ‘n mens geword het, beteken vir elkeen natuurlik baie persoonlike implikasies. Lees weer Johannes 1:14-18 en Kolossense 1:19-20.  In Jesus leer ons God werklik ken.  Hy ken my pyn, Hy weet waarvoor ek bang is, en juis daarom kan ek op Hom vertrou en weet dat Hy in beheer is, dat Hy alle mag het en ook my styf vashou.  In Jesus kom betaal God self ons skuld in ons plek.  Die prys wat ons nooit self vir ons sondes kan betaal nie, kom betaal Jesus.  In Hom ontvang ons genade op genade.  Deur Hom kom daar weer vrede tussen ons en God.  Deur Hom het ek die Ewige Lewe.

GEBED:

1. Dat die Here Jesus Homself al meer aan ons sal openbaar. Dat ons in ons daaglikse lewens (al kan ons dit nie noodwendig eers in woorde omsit nie) al meer sal besef en beleef wat dit beteken dat Hy werklik God is en “God met ons” geword het. 

2. Die droogte in ons land. Dat die Here, wat al die mag in sy Hand het, vir ons die oplossings sal wys.