LIEFDE – Soek nie eie belang nie

Lees nog ‘n paar keer die woorde van 1 Korintiërs 13:4 & 5

“Die liefde is geduldig,
die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.
Dit handel nie onwelvoeglik nie,
soek nie sy eie belang nie,
is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.”

As liefde dan nie sy eie belang soek nie – hoe gaan my behoeftes en begeertes en drome dan ooit verwesenlik word? Dit is juis die wonderwerk van die liefde en daarna moet ons in ons verhoudings strewe.  Wanneer twee mense nie meer vir hulle self lewe nie maar vir die ander persoon dan is dit waar dat ek 100% ingestel moet wees daarop om die ander persoon in die verhouding se wense waar te maak.  Maar as dit waarlik ‘n verhouding is dan beteken dit tog dat daar iemand anders is wat 100% daarop ingestel is om seker te maak dat my wense waar word.  Dit is die geheim van ware liefde en ook die toets vir ons verhoudings.  Daarmee kan ons meet in ons verhoudings of ons nog besig is om ware liefde vir mekaar te leef en of is ons besig om liefde te misbruik en te buig en te breek om uit die verhouding uit te kry wat ons graag wil hê. Mag jy nou al in jou verhoudings hierdie beginsel toepas en mag jy of jy reeds getroud is, getroud was, of in jou soeke na “The One” ook hierdie beginsel uitleef en mag jou verhoudings vir die wêreld wys hoe lyk ware liefde!

LIEFDE – Nie afgunstig nie

Die bekende woorde van 1 Korintiërs 13:4-7 praat oor die liefde:

Die liefde is geduldig,
die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie,
is nie verwaand nie.
Dit handel nie onwelvoeglik nie,
soek nie sy eie belang nie,
is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.
Dit verbly hom nie oor onreg nie,
maar verheug hom oor die waarheid.
Dit bedek alles,
glo alles,
hoop alles,
verdra alles.”

Wat dink jy beteken dit dat liefde “nie afgunstig is nie”? Afgunstig beteken om jaloers te wees – om die ander persoon nie te gun wat hy/sy kry nie.  Dit het ‘n baie slegte invloed op verhoudings as een of albei persone in die verhouding die ander persoon niks gun nie.  Natuurlik is dit so dat mens in ‘n verhouding bereid is om dinge wat jy graag wil hê en selfs verdien weg te gee of selfs te verloor ter wille van die ander persoon – maar dit moet van twee kante af kom!  En natuurlik kan ‘n mens ook nie net glad nie omgee wat die ander persoon met sy/haar tyd doen nie, mens moet tog omgee!  Maar liefde, ware liefde is nogal extreme!  Liefde sou selfs kon beteken dat ‘n mens so baie vir iemand omgee dat jy bereid is om daardie persoon te laat gaan, as dit die beste vir daardie persoon is, selfs al maak dit jou seer.  Ons raak so selfsugtig en besitlik dat ons selfs verskonings opmaak oor waarom dit vir die ander persoon beter is om maar eerder net by ons te bly – sodat ons hulle net vir onsself kan hou.  Liefde werk anders! Liefde is bereid om te vertrou en te laat gaan – moenie dat jou liefde vir iemand anders so uitdraai dat dit eerder die persoon gevange hou nie.  Maar moet ook nooit iemand anders se liefde vir jou en die vryheid wat hulle jou gun, misbruik nie!

LIEFDE – Bou eers die fondasie!

In Hooglied 2:7 sê Salomo hierdie woorde:

“moenie die liefde wakker maak en aanvuur
voor die tyd daarvoor ryp is nie.”

Watter nadeel lê daarin om die liefde te gou wakker te maak en aan te vuur? Sterk geboue het sterk fondasies.  So moet die fondasie  in ‘n verhouding ook eers behoorlik gelê word voordat ons die mure kan bou.  Dit is belangrik dat jy jou verhouding sal kans gee om natuurlik te groei en nie die kar voor die perde span nie.  Moenie te gou ernstig raak in jou verhouding net omdat ander mense druk op jou sit of omdat dit is hoe verhoudings volgens die TV “moet” lyk nie.  Wees geduldig!  As jy in die eerste week van die verhouding alreeds begin praat van trou en wat julle kinders se name gaan wees moet jy rooi ligte sien.  Vra jouself af waarop is julle verhouding gebou of as jy nie nou in ‘n verhouding is nie – waarop wil ek hê moet my verhouding eendag gebou wees?  As jy al die ekstras uit die verhouding wegvat moet daar nog iets wees wat niemand van jou af kan wegvat nie – Vriendskap!  Leer mekaar eers behoorlik ken en word beste vriende – dit is al genoeg van ‘n uitdaging en ook bring genoeg vreugde – voordat julle begin om dinge te doen wat ernstige emosionele letsels los of maak dat jy vriendskappe vernietig.

LIEFDE – Is te veel van ‘n goeie ding ook sleg?

Hoor wat sê Spreuke 25:16 – As jy op heuning afkom, eet net tot jy genoeg het; as jy te veel eet, word jy naar.”

Wat dink jy bedoel die beeld wat Spreuke hier gebruik? Kan te veel van ‘n goeie ding ook sleg wees? Natuurlik!  Partykeer voel dit nie vir ons so nie, en wil ons dit ook nie erken of raaksien nie, maar die realiteit is dat ‘n “goeie ding”, as dit te veel raak, ons lewens so kan oorheers dat dit maak dat ander dele van ons lewens skade lei. So werk dit met die liefde ook!  Dit is die lekkerste en beste ding wat die Here kon gemaak het.  Maar net soos wat te veel heuning vir jou sleg is kan ons in verhoudings ook so gefokus raak op die verhouding dat ons die res van die lewe se belangrike sake begin afskeep.  Daar is soveel verhale van mense wat so ernstig oor ‘n liefdesverhouding (of die soeke daarna!) geraak het dat hulle later net te veel verloor het net om die verhouding te behou.  Pasop dat jy nie al die goeie in die lewe mis omdat jy te veel van ‘n een goeie ding wou hê nie.

LIEFDE – Bewaar jou hart

Spreuke 4:23 sê

Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.”

Gewoonlik lees ons hierdie teks in ‘n baie breë sin i.t.v. hoe ons moet pasop vir dit wat wat ons sien en hoor en dink omdat dit ons lewens kan beïnvloed.  Ons lees die teks ook baie keer saam met “Wat die hart van vol is loop die mond van oor” (Lukas 6:45).  Dan praat ons oor wat in ons harte is – goeie dinge of slegte dinge en dat dit noodwendig goeie of slegte dade tevoorskyn bring.  Maar is Spreuke nie juis hier besig om na emosies te verwys nie?  Hartsake, liefde, gevoelens.  Dink maar aan hoe daai verliefde gevoel jou hele lewe kan beïnvloed.  Of aan die anderkant, wanneer jou hart gebreek is oor die een of ander liefdesteleurstelling.  Pas jou hart daarom op: dit beïnvloed jou besluite, hoe jy die mense naby jou hanteer, jou verhouding met God en ook hoe jy sy Liefde uitleef!