Die bekende woorde van 1 Korintiërs 13:4-7 praat oor die liefde:
Wat dink jy beteken dit dat liefde “nie afgunstig is nie”? Afgunstig beteken om jaloers te wees – om die ander persoon nie te gun wat hy/sy kry nie. Dit het ‘n baie slegte invloed op verhoudings as een of albei persone in die verhouding die ander persoon niks gun nie. Natuurlik is dit so dat mens in ‘n verhouding bereid is om dinge wat jy graag wil hê en selfs verdien weg te gee of selfs te verloor ter wille van die ander persoon – maar dit moet van twee kante af kom! En natuurlik kan ‘n mens ook nie net glad nie omgee wat die ander persoon met sy/haar tyd doen nie, mens moet tog omgee! Maar liefde, ware liefde is nogal extreme! Liefde sou selfs kon beteken dat ‘n mens so baie vir iemand omgee dat jy bereid is om daardie persoon te laat gaan, as dit die beste vir daardie persoon is, selfs al maak dit jou seer. Ons raak so selfsugtig en besitlik dat ons selfs verskonings opmaak oor waarom dit vir die ander persoon beter is om maar eerder net by ons te bly – sodat ons hulle net vir onsself kan hou. Liefde werk anders! Liefde is bereid om te vertrou en te laat gaan – moenie dat jou liefde vir iemand anders so uitdraai dat dit eerder die persoon gevange hou nie. Maar moet ook nooit iemand anders se liefde vir jou en die vryheid wat hulle jou gun, misbruik nie!