Jou tipe is welkom hier

Het jy al opgelet hoe vinnig ons in ons gedagtes ander mense kan tipeer? Dat ons eintlik amper onbewustelik die oomblik as ons iemand sien, daardie persoon in ‘n sekere kategorie plaas – as ‘n “tipe” sien.  Ongelukkig is dit nie net in ons gedagtes nie, maar kom dit baie keer in ons optrede uit.  Nog meer ongelukkig as dit is dat die Kerk deur die geskiedenis en vandag nog steeds mense tipeer en die beeld uitstraal dat net ‘n sekere tipe welkom is.  Dat ‘n mens aan sekere sosiale, voorkoms, kleredrag, inkomste en lewenstyl vereistes moet voldoen voordat jy werklik deel kan word van die kerk – voordat jy welkom is.

Soos ons nou al al te goed weet, en al te vinnig kies om te vergeet, het die Here Jesus baie daarvan gemaak in sy bediening om hierdie manier van mense tipeer af te breek en massiewe grense oor te steek.

Een klassieke voorbeeld daarvan is waar Hy vir Saggeus ontmoet in Lukas 19:1-10.  Saggeus was volgens al die heilige standaarde wat geheers het in sy tyd van die slegste tipes.  Onwaardig, sondig, onwelkom.  Maar die Here Jesus kom steek die grens na hom toe oor deur by hom tuis te gaan en saam met hom te eet. Dit het Saggeus se lewe verander!

Nog so ‘n voorbeeld is Levi die tollenaar, in Lukas 5:28-32, wat deur Jesus geroep word om Hom te volg.  Ook een van die slegte tipes volgens die sg. heiliges van sy tyd.  Jesus steek die sosiale, kulturele en godsdienstige grense ook na Levi toe oor en sit ook saam met hom by ‘n feesmaal by die tafel aan. Dit het Levi se lewe verander!

Die Here Jesus se onvoorwaardelike, lewensveranderende, muur-afbrekende aanvaarding is wat hier aan die werk is.  Hy kom vir die verlorenes, die siekes en die sondaars.  Hy kom vir elke tipe wat daar is.  Ook vir my tipe en vir jou tipe en selfs vir daai tipe.

Dit is nie wette en reëls en oordeel en veroordeeling wat mense se lewens omkeer nie.  Dit is God se onvoorwaardelike liefde wat lewens verander.  As ons dan sy Kerk is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul dan moet hierdie liefde van God ook deur ons en in ons sigbaar word.

Ons vergeet so vinnig waar ons self vandaan kom en wat die Here ons al alles voor vergewe het.  Ons verwag dat Hy ons moet vergewe en vir ons vrymaak van al ons donkerste dae in ons verlede. En omdat Hy die duurste prys daarvoor betaal het ontvang ons sy genade verniet, gratis!  Maar dan as ons moet vergewe, as ons moet ‘n tweede kans vir iemand gee, as ons moet besluit of iemand welkom is of nie, dan wil ons voorwaardes stel en vereistes en verwag dat iemand van die regte tipe moet wees.

Soos wat die Here ons vergewe, so moet ons bereid wees om ander te vergewe.  Soos wat Hy ons lief het en aanvaar het, so moet ons bereid wees om lief te hê en te aanvaar.  Soos wat Hy lewens verander het deur grense oor te steek en verhoudings te bou met mense wat die “verkeerde tipe” was, so kan en moet ons ook sy lewensveranderende liefde met mense deel.

Hoe is ons weeklikse, daaglikse aktiwiteite in die gemeente ‘n getuienis hiervan?  Is dit wat ons hier doen en dit wie ons elke dag is ‘n plek/geleentheid/persoon/omgewing waar elke tipe tuis kan voel en aanvaarding en liefde kan beleef? Waar mense se lewens verander kan word deur God se liefde, genade en aanvaarding…

Koffie is ook belangrik

Daar is drie plekke in die Evangelies waar die skrywers die frase “Die Seun van die mens het gekom…” gebruik en word die sin elke keer op ‘n ander manier voltooi.  Een so plek is in Markus 10:45 waar die Here sê dat Hy gekom het om te dien en nie om gedien te word nie.   ‘n Tweede keer is in Lukas 19:10 waar Hy sê dat Hy gekom het om te soek en te red wat verlore is.

Dan in Lukas 7:34 sê Hy: “Die Seun van die mens het gekom, geëet en gedrink, en julle sê: ‘Kyk daar, ‘n vraat en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en sondaars.’” Die New International Version vertaal dit so: “The Son of Man came eating and drinking

Die Seun van die mens het “etende en drinkende” gekom.  As ons dan in die res van die Evangelies kyk na die plekke waar die Here opgetree en bedien het, is dit opvallend hoe dit baie keer rondom ‘n etenstafel was.  Veral in Lukas is daar ten minste tien voorbeelde waar die Here so aan die tafel tydens ete mense bedien het, geleer het en hulle lewens verander het.

Wat die Here vir ons in hierdie situasies kom wys het is, eerstens, hoe grense aan tafel oorgesteek word. Deur by tollenaars en sondaars te gaan eet het Hy al die grense wat Hom van hulle sou kon weghou kom afbreek en in hulle kring inbeweeg.  So kon Hy sy liefde aan hulle bewys en het dit hulle lewens ook aangeraak.

Tweedens het Hy kom wys hoe verhoudings ook aan tafel gebou word.  Dat dit die plek is waar mense ook nader aan mekaar kan groei en sterker bande gevorm kan word.  Dit is daar waar die liefde tussen die volgelinge van Jesus sigbaar kan word, beliggaam kan word.

Hoe is hierdie belangrike beginsel deel van ons gemeente kultuur?  Deel van ons weeklikse en daaglikse aktiwiteite?  Die hartseer realiteit is dat ons hoofaktiwiteit baie keer maar by die erediens op ‘n Sondag stop.  Die moeilikheid daarvan is dat ons dan almal langs mekaar sit en almal in dieselfde rigting, vorentoe kyk en maar weinig in mekaar se rigting eers kyk.

Ons gaan makliker daarby uitkom om God se opdrag dat ons mekaar moet liefhê uit te voer as ons begin om meer grense oor te steek en verhoudings te bou deur aan tafel saam te sit en na mekaar, vir mekaar, in mekaar se oë te kyk.

As ons dit kan regkry gaan ons anders lyk, anders leef, anders doen.  Gaan ons gemeente ‘n plek wees waar grense tussen ons oorgesteek word ook na die nuweling en die vreemdeling. Gaan God se liefde nie meer net iets wees waaroor ons net praat en sing nie, maar gaan dit wees wat ons leef!

Musiek in die Stilte

So paar jaar terug is ek saam met my boetie en ‘n paar pelle op vakansie in St Lucia.  So ry ons een dag van St. Lucia af Cape Vidal toe om daar te gaan swem. Soos dit maar gaan wil ‘n mens mos bietjie musiek luister in die kar en ons doen dit toe ook – lekker hard, soos dit hoort! Maar toe ons by Cape Vidal se natuurreservaat in ry, toe is die radio skielik af en my broer draai sy venster af en sê: “Ons gaan nou bietjie na die natuur luister”.  Huh…?!  Op daai oomblik wou ek hom langs die pad af laai, dan kan hy lekker stap en vir die seekoeie luister!  Maar hy was reg!  Dit is presies wat ons op daardie oomblik moes doen.  Toe luister ons skielik en kyk buite toe en neem die pragtige natuur in.

So baie keer is die musiek eintlik in die stilte, maar ons mis dit omdat daar soveel lawaai orals rondom ons is.  Dink aan hoe besig fone, rekenaars, tablets en TV-skerms ons gedagtes deesdae besig hou.  Advertensie borde langs die pad, die lawaai van die stad.  Daar is net nie ‘n oomblik se stilte nie.

Dan kom die vraag by my op: Hoe hoor ek God se stem in al hierdie lawaai?  Waar gaan soek ek vir sy stem?  Stop ek nog om te luister na wat Hy sê?

In 1 Konings 19 lees ons hoedat Elia op die berg staan en die Here daar verby kom.  Daar was winde en aardbewings en groot vuur – magtige gebeure waarin mens die Here se stem sou verwag.  Maar dit is eers in die fluistering in die windstilte wat Elia dan die Here se stem hoor.

So baie keer smag ons ook daarna om die Here se stem te hoor en gaan soek dit daar waar die groot dinge gebeur – in die groot saamtrekke en musiek en ligte en by die groot sprekers.  Of andersins smag ons na sy stem maar ons is net te besig dat ons ook nie eers regtig luister nie.

Die Here Jesus stel vir ons die voorbeeld.  Ons lees op ‘n hele paar plekke in die Evangelies dat Hy op ‘n gereelde basis Homself afgesonder het om alleen te wees en te bid.

Wat as ons dit regtig kan ernstig opneem en besef dat ons dit mag doen.  Dat ons vir ‘n oomblik, elke dag, net alles kan pause en stil word om met ons Vader te praat.  Die lewe is so besig en ons raak so opgeslurp daarin dat ons dink dat dit is maar net hoe dit moet wees en dit kan nie anders nie.  Maar daar is soveel wat ons mis in die stilte.

Weereens daag dit nie net ons persoonlike agendas uit nie, maar ook ons gemeentewees.  Hoe is ons gemeente ‘n plek waar mens kan stil word, kan rus vind?  Hoe is ons, elkeen, maar ook as gemeente, vir mense waarmee ons paaie kruis, ‘n rusplek – waar die rus wat die Here ons wil gee ook sigbaar word, beliggaam word.

Mag jy ook vandag en elke dag sy rus vind, maar dit ook vir die mense rondom jou wees.

In Matteus 11:28 sê die Here Jesus:

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.”

Liefde verander alles!

Hoe leef ‘n mens heilig?

As kinders van die Here is dit tog waarna ons ook strewe en wil ons graag volgens die wil van die Here lewe. Wat egter meeste van die tyd gebeur (en reg deur die Kerk se geskiedenis gebeur het) is dat ons maar almal weer in ‘n soort wettisisme verval waarin ons probeer om die al reëls na te kom (al is dit baie keer self uitgedinkte reëls) en in vrees lewe vir die nagevolge wanneer ons ‘n voetjie verkeerd sit.

Dit maak van ons gevangenes van die sonde en in plaas daarvan om die Koninkryk van God te bou hou ons onsself besig met sonde – en nie net ons eie nie, maar ook die van ons medemens.  So word daar klippe gegooi en vingers gewys en brandstapels gebou en tugkommissies aangewys en skuldige gewetens gesus en deure toegemaak en verhoudings vernietig, sonde uitgewys, mense weggejaag en etikette om nekke gehang.

Is dit die manier hoe ‘n mens heilig behoort te wees?  Is dit hoe ons God se wil behoort te soek? Watter verskil maak dit vir die opbou van die gemeente, vir die uitbou van God se Koninkryk?  Wat sê so ‘n benadering oor God?

Die enigste alternatief is die liefde! As ons dan weer opnuut kyk na die opdragte van die Here in die Bybel dan lyk dit of dit vir ons ‘n antwoord kan wees op die vraag:

Johannes 13:34-35 sê Jesus die volgende:

“Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

En dan in 1 Johannes 4:11-12

“Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.”

Paulus skryf ook in Romeine 13:8

“Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.”

Wow!  Hoe het ons dit nog al die tyd gemis?!  Ons moet mekaar liefhê. Dis dit. Punt.

Is dit die ervaring wat mense het wanneer hulle in ons gemeente inkom, dat ons mekaar liefhet?  Waarmee is ons in Weskerk onsself hoofsaaklik besig? Om mekaar lief te hê?  Weerspieël ons daaglikse, en weeklikse aktiwiteite in die gemeente hierdie opdrag van die Here?

As ons strewe na Liefde kom die heiligheid vanself.  Dit kan nie anders nie.

As ons dit kan regkry, kan ons werklik ‘n verskil in die Koninkryk maak.  Kan ons iets van die “volheid van Hom wat alles in almal vervul” (Efes 1:23) werklik begin WEES as sy Kerk, sy gemeente. Dit gaan nie net ons gemeente verander en alles wat ons “by die kerk” doen verander nie, dit gaan alles verander  – ons lewens en die lewens van almal om ons.

Leë Kerkgebou. Vol Kerk.

Hierdie jaar met Pinkster het ons lekker saam “As it is in Heaven” gekyk en gekuier en tydens die Pinksterreeks gaan ons nog kuier en sommer so met die fliek saam nuut dink oor gemeentewees.

Ons het gister oggend begin deur te praat oor “Leë kerkgebou, vol Kerk” waar ons weer opnuut herinner is aan die feit dat ONS die Kerk van die Here IS.  Dat dit nie net kan gaan oor wat binne die mure van die kerkgebou vir ‘n uur op ‘n Sondag gebeur nie, maar dat ons werklik kerk moet WEES.  Ons kan so vasgvang raak in vergaderings en strydgesprekke oor “wat in die kerk hoort” en wat nie, oor dinge wat nie is soos wat dit vir ons gemaklik is nie en oor hoe ons die kerkgebou weer vol gaan kry, dat ons die punt van alles kan mis.

As ons in die Bybel gaan loer na hoe die kerk begin het en wat die belangrikste was dan lyk dit of vier dinge elke keer uitstaan:

  • Familie – Daar moet liefde wees!  Ons is in Christus werklik broers en susters van mekaar en dit moet sigbaar word in ons saamwees en interaksie en die manier hoe ons mekaar ondersteun en by mekaar betrokke is.
  • Missionêr – Om die Blye Boodskap uit te dra na buite.  Hoe is ons besig om die Boodskap van God se genade sigbaar te maak?  Hoe help ons mekaar om dit beter reg te kry.
  • Toerusting – Ons moet aanhou groei en leiers oprig en toerus om weer nuwe groepe te kan begelei en weer op hulle beurt ander leiers te kan oplei.
  • Samekoms – Om bymekaar te kom en saam te wees en die gemeenskap van gelowiges te kan beleef.  So het die vroeë kerk ook bymekaar gekom en saam Nagmaal gebruik, die Woord bestudeer en vir mekaar gebid.

Wat is die hoof aktiwiteit van ons gemeente?  Is hierdie vier Bybelse beginsels op ‘n konstante basis deel daarvan? Is dit waarmee ons besig is?  Waarvoor is Weskerk/Ellisras-Wes bekend?

In Matteus 5:13 sê die Here Jesus dat ons die sout vir die aarde is. Dalk is dit juis wat “As it is in Heaven” probeer sê – dat elkeen wat ons pad kruis sy Liefde werklik proe. Dat ons vir mense oral waar ons kom iets van die hemel kan laat proe.  Ons kan dit regkry as ons besef dat ons Jesus se Kerk IS en daarna strewe om sy liefde uit te leef.  As ons nie meer net kerk toe gaan nie, maar werklik begin Kerk WEES, gemeente wees, dan sal ons anders kan leef en gaan ons gemeente anders lyk, ons eredienste op ‘n Sondag anders lyk en kan ons ‘n groter verskil maak daar waar die Here ons stuur!