Hoe leef ‘n mens heilig?
As kinders van die Here is dit tog waarna ons ook strewe en wil ons graag volgens die wil van die Here lewe. Wat egter meeste van die tyd gebeur (en reg deur die Kerk se geskiedenis gebeur het) is dat ons maar almal weer in ‘n soort wettisisme verval waarin ons probeer om die al reëls na te kom (al is dit baie keer self uitgedinkte reëls) en in vrees lewe vir die nagevolge wanneer ons ‘n voetjie verkeerd sit.
Dit maak van ons gevangenes van die sonde en in plaas daarvan om die Koninkryk van God te bou hou ons onsself besig met sonde – en nie net ons eie nie, maar ook die van ons medemens. So word daar klippe gegooi en vingers gewys en brandstapels gebou en tugkommissies aangewys en skuldige gewetens gesus en deure toegemaak en verhoudings vernietig, sonde uitgewys, mense weggejaag en etikette om nekke gehang.
Is dit die manier hoe ‘n mens heilig behoort te wees? Is dit hoe ons God se wil behoort te soek? Watter verskil maak dit vir die opbou van die gemeente, vir die uitbou van God se Koninkryk? Wat sê so ‘n benadering oor God?
Die enigste alternatief is die liefde! As ons dan weer opnuut kyk na die opdragte van die Here in die Bybel dan lyk dit of dit vir ons ‘n antwoord kan wees op die vraag:
Johannes 13:34-35 sê Jesus die volgende:
“Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”
En dan in 1 Johannes 4:11-12
“Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.”
Paulus skryf ook in Romeine 13:8
“Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.”
Wow! Hoe het ons dit nog al die tyd gemis?! Ons moet mekaar liefhê. Dis dit. Punt.
Is dit die ervaring wat mense het wanneer hulle in ons gemeente inkom, dat ons mekaar liefhet? Waarmee is ons in Weskerk onsself hoofsaaklik besig? Om mekaar lief te hê? Weerspieël ons daaglikse, en weeklikse aktiwiteite in die gemeente hierdie opdrag van die Here?
As ons strewe na Liefde kom die heiligheid vanself. Dit kan nie anders nie.
As ons dit kan regkry, kan ons werklik ‘n verskil in die Koninkryk maak. Kan ons iets van die “volheid van Hom wat alles in almal vervul” (Efes 1:23) werklik begin WEES as sy Kerk, sy gemeente. Dit gaan nie net ons gemeente verander en alles wat ons “by die kerk” doen verander nie, dit gaan alles verander – ons lewens en die lewens van almal om ons.