Gedagte vir die dag – Verheerlik in lewe en in sterwe

In Filippense 1:20-21 sê Paulus hierdie aangrypende woorde:

Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.”

Ons moenie dink dat Paulus hier selfmoordneigings het nie.  Dit is juis omdat Christus vir hom alles is en sy bron van onuitblusbare blydskap is dat hy hierdie woorde sê.  In die lewe hier en nou beleef hy die vreugde en blydskap daarvan om die Here te dien en om te werk vir die verspreiding van die evangelie. Maar hy weet ook dat die heerlikheid van die ewige lewe hierdie lewe verreweg oortref omdat hy dan by die Here gaan wees.

1 Johannes 3:1-2 help ons so bietjie om hierdie houding van Paulus so bietjie beter te verstaan:

“Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. En die wêreld ken ons nie, omdat dit Hom nie ken nie. Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is.”

Hierdie ingesteldheid van Paulus moes hom regtig onkeerbaar gemaak het.  Kan jy dink hoe hy die wagte daar in die tronk moes frustreer het. Dink jouself in…

As hulle hom dreig met die dood, dan is hy soos: “Great! Om te sterwe is vir my wins!”  As hulle dan van plan verander en nie vir hom wil gee wat hy wil hê nie en hom eerder laat lewe dan sou hy hulle maklik kon antwoord: “Great! As ek lewe kan ek voortgaan met vrugbare arbeid.” (v. 22)

As die wagte dan besluit om te laat lewe maar om die lewe vir hom nog moeiliker te maak dan antwoord hy hulle met Romeine 8:18 se woorde: “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.”

Die arme wagte het waarskynlik nie geweet watter kant toe met Paulus nie.  Dit maak absoluute sin dat Paulus in Filippense 1:13-14 sê:

Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek ‘n gevangene is. Deur my boeie is die meeste broers ook in hulle vertroue op die Here gesterk, en hulle waag dit al hoe meer om die woord van God onbevrees te verkondig.”

Paulus se onkeerbare ingesteldheid was moontlik omdat die Here Jesus sy alles was – alles in waarde oortref het.  Dit kan ook vir ons waar wees as ons daardie selfde Waarheid ons eie maak!  Dalk kan ons saam met Sint Patrick van Ierland hierdie 5de eeuse gebed bid en ons fokus weer op die Here instel:

“Ek staan vandag op met die krag van God om my te lei,
die mag van God om my regop te hou,
die wysheid van God om my te leer,
die oog van God om na my om te sien,
die oor van God om na my te luister, 
die woord van God om my te laat getuig,
die hand van God om my te beskerm,
die pad van God om vir my die koers aan te dui,
die skild van God om my te beskerm,
die leermagte van God om my te verdedig.

Wees vanoggend tot vanaand, o Here,
by my en in my.
Christus, wees agter my en voor my.
Christus, wees langs my en rondom my.
Christus, wees bo my en onder my.
Christus, wees by my in die uur van stilte én storm.
Praat met my deur die mond van ‘n vriend
en deur die oë van ‘n vreemdeling.”

Gedagte vir die dag – Meer en meer liefde

In Filippense 1:9 en 10 bid Paulus hierdie woorde:

Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.”

Kom ons breek die versie bietjie op.

1. Wat is dit wat toeneem? Liefde.  Die woord wat ons hier met ‘liefde’ vertaal beteken letterlik ‘voorkeur’, of ‘om te verkies’.  Met ander woorde om iets te verkies bo iets anders, om ‘n voorkeur te hê vir een ding bo ‘n ander.  In hierdie geval om God en ons naaste te verkies bo onsself.

2. Hoe moet hierdie liefde toeneem? In begrip en fyn aanvoeling.  Die woord wat ons hier vertaal met ‘begrip’, vertaal die Ou Vertaling, na regte, met die woord ‘kennis’.  En ‘fyn aanvoeling’ gaan oor ‘onderskeiding’. Maar kennis van wat? Kennis van God.

Ons wil baie keer kennis van God en liefde van mekaar skei.  Maar die een kan nie eintlik sonder die ander nie.  Dit kan beide kante toe verkeerd gaan.  God is die bron van liefde en het ons eerste liefgehad.  Kennis van God is nodig vir ons om waarlik te kan liefhê!  En ons liefde kan dus toeneem soos ons kennis van God ook toeneem. 1 Johannes 4:7-8 sê dit mooi:

Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.” en vers 19: “Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.”

Aan die anderkant is kennis van God sonder liefde, net dit: kopkennis.  En ongelukkig gebeur dit ook baie dat ons koppe vol teologiese redenasies en Bybelversies kan raak vir ons eie eer en agenda en dat die liefde kan ontbreek.  Onthou 1 Korintiërs 13:2 se waarskuwing:

Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.”

Daarom is dit so nodig dat ons intensioneel daaraan sal werk om te groei in ons kennis van God.  Maar nie net meer van Hom weet nie, maar eerder Hom regtig leer ken – groei in ons verhouding met Hom.

Dit bring ons by die fyn aanfoeling/onderskeiding.  Kennis vra “Wat is reg?” terwyl onderskeiding vra “Wat is die beste?” Met ander woorde help hierdie fyn aanvoeling ons om te vra na die beste manier om ons naaste lief te hê op grond van ons kennis van Christus en sy Woord.

3. Waarom moet ons liefde in begrip en fyn aanvoeling groei? Sodat ons kan onderskei waarop dit werklik aankom.  Laat ons nie deurmekaar raak met waarmee ons onsself moet besig hou nie.  Waaraan ons ons tyd, energie en hulpbronne moet spandeer.  As ons liefde toeneem sal ons kan onderskei wat werklik belangrik is en nie ons tyd mors met twis- en strydgesprekke en ander nonsens nie.

Romeine 12:2 sê: Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Mag ons liefde ook so toeneem in kennis en onderskeiding en deur Christus “geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.” (Fil 1:11)

Gedagte vir die dag – ‘n Nuwe ontdekking!

Daar is min dinge so opwindend soos om iets nuuts te ontdek.  Dink aan toe ons klein was hoe lekker dit was om vir die heel eerste keer iets te doen.  Die see vir die eerste keer te sien.  Die eerste keer sonder enige hulp te kan fietsry.  Die eerste keer iets groots te besef of te verstaan.  Later kom ander opwindende ontdekkings – daai eerste soen, die eerste bok skiet, die eerste keer wat jy kar bestuur, jou eerste salaristjek…

Soos ons ouer word, word hierdie eerstes natuurlik al minder, omdat ons al meer ervaring het en meer van die wêreld gewoond geraak het.  Maar darem verras die lewe mens nog so nou en dan met nuwe ontdekkings en nuwe belewenisse.

Dieselfde is waar van die Bybel.  Dalk het ons die Bybel ook te “gewoond” geraak.  Dat ons die Bybel in daardie kategorie in ons gedagtes sit van dinge wat ons al reeds gedoen het en dit nou maar deel van ons lewens geraak het.  Ons sien dit nog op ‘n daaglikse basis met versies en prentjies op Whatsapp en Facebook en dit hou ons so half aan die gang.  Maar daar is soveel meer!  Daar wag soveel meer opwindende ontdekkings vir ons in die Bybel, as ons net bereid is om te soek.  En nie net aan grashalms vashou met versies en mooi woordjies nie.

Natuurlik is die Here so groot dat Hy ook in die kortste versies van die Bybel met ons praat en vir ons hoop en insig en leiding gee.  Maar daar is soveel meer om te ontdek.

Psalm 119:162 sê: Oor u woord is ek so bly soos iemand wat ‘n groot skat in die hande gekry het.”

In hierdie week het ek dit weer intens beleef.  In 12, amper 13 jaar van voltydse bediening, het ek al verskeie kere oor Filippense 2:5-11 gepreek.  Oggend- en aanddienste, kampe, seminare, oggendtee, skoolopeninge, dagstukkies geskryf, noem dit.  Met verskillende temas en invalshoeke.  Ten spyte daarvan en al die kere wat ek die teks al gelees het en van nader beskou het, het ek hierdie week ‘n klomp nuwe ontdekkings in die teks gemaak!  En dit is so opwindend, dat ek dit vir almal wil vertel!

Ek moet eintlik die eerste sin van vandag se stukkie herhaal en aanpas: Daar is min dinge so opwindend soos om iets nuut te ontdek in ‘n paar Bybelverse wat jy al honderde kere gelees het!  Dit laat my net weer besef dat daar soveel van die Bybel (en van God!) is wat ons nog nie weet nie.  Soveel meer om te ontdek en te soek en oop te krap.  Soveel meer wat die Here nog vir ons wil wys.

Die opsomming van my ontdekking hierdie week in Filippense 2 kom daarop neer dat Jesus nie net sommer ‘n mens was nie, maar dat Hy waarlik God is wat in ons plek om staan het en vir ons verlossing kom bewerk het.  Dit opsig self is natuurlik nie nuwe nuus nie, maar die manier hoe Paulus dit in hierdie paar verse uiteensit om op die ou end by die punt te kom waar elke tong erken “Jesus Christus is HERE!” – dit is verrassend, nuut, opwindend, AMAZING!

As jy meer wil weet gaan luister gerus na Sondag se boodskap op ons webwerf: http://weskerk.co.za/sermons/die-blydskap-van-weggee/

Die Woord van die Here is ‘n bodemlose fontein waaruit ‘n mens oor en oor weer kan gaan skep en elke keer vars water kan kry.

Psalm 139:17 en 18 sê:

Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God,
hoe magtig hulle almal!
As ek hulle sou wou opnoem –
hulle is meer as wat daar sand is,
en as ek daarmee klaar is,
sou ek nog steeds met U te doen hê.”

Mag jy dit ook in jou eie verhouding met die Here beleef!

Tyd om te bid

Toe ons gepraat het oor “Vat blydskap saam“, was die eerste manier hoe ons ons “Blydskap-Knipmes” skerpgemaak het, GEBED.  Maar ons wil nie net praat oor gebed nie. Ons wil dit doen.  Meer as net op Sondae, meer as net skietgebedjies, meer as net wanneer die tropiese vrug die waaier tref, meer as net in die aand voor jy gaan slaap.  Ons wil meer tyd met ons Vader spandeer, meer met Hom praat.

Die Bybel is vol opdragte oor gebed. 1 Tessalonisense 5:17 is seker die eenvoudigste een. Die hele vers is net twee woorde: “Bid gedurig.”

In Lukas 18:1 vertel die Here Jesus ‘n gelykenis “om duidelik te maak dat ‘n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.”

Maar ons wil nie net bid omdat ons MOET nie, maar omdat ons WIL.  En ook wil ons nie net bid omdat ons God se arm probeer draai om te kry wat ons wil hê nie, maar omdat ons tyd met ons Vader wil spandeer. Sy Wil wil soek, Hom beter wil leer ken, wil groei in ons verhouding met Hom.

Een van ons gemeente se geloofsgewoontes is “Bly gewortel”.  Kolossense 2:6-7 sê: “Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul.” Om dit te kan doen, moet ons tog met die Here praat in gebed.

Met dit ingedagte wil ons meer geleentheid skep vir gebed.  Daarom sal ons kerkgebou, van hierdie Woensdag af, op sekere tye van die week oopwees vir jou om tyd in gebed in die aanbiddingsruimte te kan kom spandeer.

Die tye is soos volg:

  • Maandae van 6:30-7:30
  • Woensdae van 17:30-18:30
  • Donderdae van 12:00-13:00

Jy hoef nie vir die hele uur te bly nie, jy kan net inkom en kom bid.  Die hek en die deure sal oopwees vir daardie tyd, so jy kan inkom, (saniteer jou hande by die deure natuurlik) en gebruik dit tyd om te bid.  Dit is nie ‘n begeleide biduur met ‘n program nie, maar doodeenvoudig ‘n geleentheid wat elke gemeentelid kan gebruik om te bid.

Natuurlik kan jy enige tyd en enige plek met die Here praat, maar ons wil vir jou hierdie geleentheid bied om wel ook ekstra tyd af te sonder vir gebed. Kom ons wees ‘n biddende gemeente, waar gebed deel is van wie ons is, ingevleg in ons gemeentekultuur en DNA.

Mag jy die Here se vrede beleef.  Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” – Filippense 4:6-7

Gedagte vir die dag – Pak jy jou blydskap in?

As jy die afgelope paar weke saam met ons in ons eredienste opreis gegaan het deur die brief van Paulus aan die Filippense sou jy die tema van vandag se dagstukkie al bietjie gehoor het.

As jy nog nie het nie wil ek jou uitnooi om daarna te gaan luister en saam met ons deur die brief te gaan. Jy kan die hele reeks tot waar ons nou trek op ons webwerf kry by http://weskerk.co.za/series/onuitblusbare-blydskap/

Maar ek wil tog nou met jou opvolg en hoor of jy self al verder daaroor gedink het.  Is die idee van om ‘blydskap in te pak’ al deel van jou daaglikse lewe…?

Dit is interessant wat ons alles doen in ons soeke na blydskap, vreugde, genot, vrede, geluk… noem dit.  Dit voel baie keer asof ons na ‘n sekere plek toe moet gaan om weer gelukkig te kan wees. Of die een of ander spesifieke aktiwiteit moet doen om beter te voel of om weer bietjie blydskap te beleef.  Dat ons geluk met ander woorde afhang van waar ons is, wat ons doen of wat ons het.

Paulus sien dit bietjie anders.  Want waar hy ookal is en in watter omstandighede hy ookal is, en of hy oorvloed het of gebrek ly, hy het blydskap.  Hoe kry hy dit reg?  Hy vat blydskap saam met hom.  Hy vat dit saam op die pad, saam tronk toe, saam oral – want dit is altyd by hom.  Sy bron van blydskap is die Here en sy verhouding met die Here.  Daarom maak dit nie saak waar hy is of wat hy doen of wat hy het of nie het nie, want Hy het vir Jesus… anders gestel: hy weet Jesus het hom!

Hoor wat sê Paulus in Filippense 3:8 – ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.”

Wat as ons dit saam met ons kan vat oral waar ons gaan?  Dat dit nie net ons bron van vreugde is nie, maar ook soos vir Paulus ons dryfveer is.  Jesus het vir ons gesterf, ons vrygemaak, die prys betaal, ons straf gedra.  Hy is by ons en Hy dra ons en stuur ons en lei ons.  Dit is ons bron van hoop en blydskap en dring ons om dit te wil vertel en te leef, oral waar ons kom.

Mag jy dit beleef dat jy nêrens hoef te soek vir blydskap nie, maar dit beleef, omdat jy dit saam met jou dra, omdat jy Here by jou is.  Omdat as jy Hom het, dan het jy selfs al het jy niks, nog alles. Omdat Hy jou in sy Hand het.

Gedagte vir die dag – Medewerkers in die Koninkryk

Iets wat ek sukkel om uit my kop uit te kry, vanuit ons studie van Filippense, is hoe baie waarde Paulus daaraan heg dat die gemeente in Filippi sy medewerkers is vir die verkondiging van die evangelie.

Die woord wat Paulus gebruik is een wat ons baie goed ken: “Koinonia”.  Dit is ‘n Griekse woord wat al baie lank deel is van kerklike gesprekke, strategiese beplanningsessies, vergaderings, preekreekse, ens.  Die woord word in die algemeen bloot vertaal met “Gemeenskap van Gelowiges”.  En wat meeste van die tyd daarmee bedoel word is ons saamwees, saam kuier, saam eet, koffie drink, ens. – die samesyn van gemeente wees.  Die Engelse vertaal dit met “Fellowship”.

Hierdie saam wees is baie, baie belangrik.  Dit is ook ‘n baie groot deel van wat ons van gemeente wees mis sedert Maart verlede jaar.  En wanneer ons wel bymekaar kan wees dan besef ons weer waarom ons dit so baie gemis het en waarom ons dit (mekaar!) so baie nodig het.  Hopelik kan ons soos wat die jaar vorder weer alhoemeer van mekaar sien en saam kuier.

Maar hier is iets meer aan die gang by Paulus wanneer hy in Filippense weer die woord “Koinonia” gebruik.  In vers 5 word dit in ons 1983 Vertaling vertaal met “saamgewerk”:

“omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie.”

Die woord beteken letterlik vennootskap.  Dit gaan oor deelneem, hulp bydra, saam werk.  Ons is vennote van mekaar.  Waarvoor?  Die verkondiging van die evangelie – op watter manier ookal.

Die afgelope tyd sien ons te midde van landswye nood darem alhoemeer mooi stories ook.  Van gemeenskappe wat saam staan om mense te help herstel en herbou ná COVID, ná inperking, ná die vernietiging van winkels en besighede deur die “looters”.  Dit is mooi om sulke samewerking en hulpverlening te sien en gee mens darem nog hoop vir ons land in ‘n donker tyd.

Sosiale media maak hierdie hulpprojekte natuurlik baie meer sigbaar, maar my vraag is of moet ons wag vir ‘n openbare tragedie waarvan almal weet voordat ons ook inspring en help?  Wat as ons besef wie ons is – die Kerk van die Here, “sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.” (Ef 1:23) – en begin om vanuit ons identiteit saam te werk aan die verkondiging van die evangelie. Besef ons is vennote.  Besef ons is saam in hierdie ding.  Besef jy is nie alleen nie.

Die leuen wat die wêreld wil hê ons moet glo is dat ons ons elkeen ons eie koninkryk moet bou – elkeen vir homself en die duiwel vir die res.  Maar die Kerk moet anders wees.  Hier gaan dit oor God se Koninkryk.  En dit word sigbaar wanneer ons, sy kinders, lief is vir mekaar en saam met mekaar werk.  Kan jy dink wat in ons dorp kan gebeur as elke gelowige besef ons het mekaar nodig, besef ons is medewerkers en nie mededingers nie – vennote vir die bevordering van die evangelie.

Mag die Here vir jou vandag elke geleentheid wys wat oor jou pad kom om ‘n medewerker te wees in sy Koninkryk – daar waar jy is, daar waar Hy jou stuur.  En mag jy daardie geleenthede met albei arms aangryp.  En mag jy die Here se seën in jou lewe beleef en daardeur ook tot seën wees vir elkeen wat jou pad kruis.

Gedagte vir die dag – Hoe maak jy met onderbrekings?

Ek weet nie van jou nie, maar daar is min dinge in die lewe wat my so kan irriteer en kan kwaad maak soos onderbrekings.  Dink daaraan: net as ‘n mens nou besig is met wat jy nou graag wil doen, dan kom daar die een of ander onderbreking en dan is alles deurmekaar.  Party keer is dit erger as ander kere, maar dit gebeur eintlik nogals gereeld in ‘n mens se lewe.  So gereeld dat mens eintlik sou dink dat ons teen hierdie tyd al geleer het om dit beter te hanteer.

Ek onthou toe ek nog op skool was en Desember skoolvakansie op die bank gelê en net krieket wou kyk.  Die dae toe daar nog regte krieket op TV was.  Suid-Afrika teen Australië in ‘n spannende 5-dag toetsreeks.  Dan net as ek nou op my gemaklikste is en die wedstryd op ‘n hoogtepunt, dan besluit my geliefde moeder sy moet vir my werk uitdink… wat ‘n frustrasie!

Dis nou sommer ‘n simpel voorbeeld, maar dink bietjie hoe baie ons eintlik op ‘n daaglikse basis onderbreek word.  Selfoonsein wat weg is, of airtime wat op is, of daai Zoom-vergadering wat nie lekker werk nie, die foon of deurklokkie wat op ‘n ongeleë tyd lui, Faf de Klerk wat alweer skop… Of partykeer probeer mens ‘n preek opneem en dan hou die kamera op werk of daar ry ‘n motorfiets verby en dan skop die hond, wat motorfietse meer as onderbrekings haat, ‘n kabaal op… en so… byvoorbeeld…

Natuurlik beleef ons hierdie onderbrekings in hierdie tyd baie meer intens.  Ons hele lewe word al vir die afgelope jaar en ‘n bietjie konstant onderbreek.  Net as ‘n mens dink alles begin weer bietjie rigting kry dan is daar weer ‘n nuwe vlaag of ‘n nuwe inperkingsreël, of beurtkrag bo-op inperkings.  Vir party van ons is dit selfs nog erger omdat ons lewens deur die virus direk onderbreek word.  Kwarentyn, isolasie, hospitaal, intensief, dood… dit is woorde wat ons alhoemeer begin hoor en begin beleef. En dit laat die ander gewone daaglikse onderbrekings waaroor ons maklik kan kwaad word, skielik bietjie belaglik lyk.

Paulus se lewe word in Filippense vir die soveelste keer onderbreek.  Hierdie keer weer deur gevangenis.  Hy is alweer in die tronk omdat Hy die evangelie sonder skaamte verkondig.  Maar Paulus sien hierdie onderbreking eerder as ‘n geleentheid.  Hoor wat sê hy in Filippense 1:12-14:

Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek ‘n gevangene is. Deur my boeie is die meeste broers ook in hulle vertroue op die Here gesterk, en hulle waag dit al hoe meer om die woord van God onbevrees te verkondig.

Wat as ons so oor die onderbrekings in ons lewens kon dink…?  Dat ons dit sien as geleenthede vir die bevordering van God se Koninkryk.  Natuurlik is dit in party situasies makliker as in ander.  Maar wat as ons in elke onderbreking vir die Here kan vra hoe Hy ons in hierdie moment kan gebruik, wat Hy vir ons in hierdie moment kan leer, hoe ons nader aan Hom kan kom?  Wat as ons ons onderbrekings, hoe groot of klein hulle ookal is, vir die Here gee?

Paulus het een doel voor oë gehad en daarom kon hy dit wat met hom gebeur het sien in die lig van daardie doel.  Kom ons gebruik ons onderbrekings om met die Here te praat.  Om Hom te soek.  Om sy wil te soek.  Om van Hom te praat. Om Hom te loof.  Om die evangelie te verkondig.

Gedagte vir die dag – Wat kan mens nog glo?

Dis ‘n nuwe kwartaal en ons is op ‘n nuwe vlak van inperking.  Party goeters is weer bietjie oop en ander nog toe.  Party van dit maak sin en ander maak minder sin.  En dit op sig self laat mens wonder oor baie dinge. Wat kan mens nog glo?  En sosiale media maak dit ook nog meer ingewikkeld.

Daar is soveel verskillende opinies en redenasies oor elke liewe ding.  Moet ons ‘n vlak opgaan of afgaan?  Dan moet die skole oop en dan moet hulle skielik toe?  Dan kan ons bier koop en dan mag ons weer nie.  Moet jy inent of nie?  Dan moet jy invermektien gebruik en moet jy weer nie.  Was Willie le Roux voor die bal of was dit eintlik ‘n drie?  Mag Rassie Erasmus die waterdraer op die veld wees of nie?  Is ek positief of nie?  En as ek positief is wat moet ek doen en wat gaan van my word…

Dis ‘n deurmekaarspul en die een dink sy opinie is meer in die kol as die volgende een.  En boonop gooi mense in al hierdie aanlyn strydgesprekke nog Bybelversies ook rond om hulle eie doel te dien en hulle eie punt te staaf.  Wat kan mens nog glo? Wat moet mens glo in ‘n deurmekaar en chaotiese tyd van onsekerheid en vrees en verlies…?

Ons is die afgelope klompie weke besig met ‘n studie van Filippense en ons trek hierdie week by hoofstuk 2, vers 5-11 en dit gee vir ons nuwe versekering:

Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:

Hy wat in die gestalte van God was,
het sy bestaan op Godgelyke wyse
nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,
maar Hy het Homself verneder
deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem
en aan mense gelyk te word.

En toe Hy as mens verskyn het,
het Hy Homself verder verneder.
Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

Daarom het God Hom
ook tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is,
sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is,
die knie sou buig,
en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!”
tot eer van God die Vader.

Daar is een ding wat ons nog kan glo! En dit is dat Jesus Christus die Koning is en dat Hy op die troon sit en regeer.  Maar Hy is nie ‘n koning soos enige ander nie.  Elke knie sal voor Hom buig, maar nie soos voor ‘n aardse koning net uit pligsbesef of vrees of ordentelikheid nie.  Nee elke knie sal buig omdat Hy dit waardig is! Omdat Hy die Here is!  En omdat sy koningskap bevestig is deur dit wat Hy gedoen het.  Hy is nie ‘n vêraf en afwesige en vreesaanjaende koning nie.  Hy is die Koning wat jou so lief het dat Hy van sy troon af geklim het, een van ons geword het, ons straf op Hom geneem het en vir ons gesterf het.

Daarom is daar geen ander koning soos Hy nie! Daar het Hy die Naam bo elke naam.  Daarom sal elke knie buig en kies ons nou reeds om die knie voor Hom te buig.  Al is jy van niks anders seker nie kan jy van Jesus seker wees en weet dat Hy die Koning is en dat Hy by jou is!

Dis natuurlik bietjie ironies dat jy nou hierdie op die een of ander aanlyn platform lees.  Maar kom ons spandeer meer tyd op ons knieë voor die Koning en meer tyd in sy Woord as op al die bronne van die media wat ons tyd en aandag steel.  Onthou: hoe meer tyd jy met die Waarheid spandeer, hoe moeiliker raak dit om die leuen te glo.

Kom ons spandeer ook ekstra tyd hierdie week op ons knieë om vir elkeen wat siek is te bid en vir al die nare nagevolge van die virus.

Week van Gebed 2021 – Dag 5

(Ons sluit vandag ons Week van Gebed af en daarmee saam volstaan ons ook vir eers weer met ons dagstukkies.)

Die Nuwe-Testamentiese kommentator Howard Marshall, bespreek Jesus se laaste instruksie oor gebed in Lukas 11:9-13 en wys op die twee eenhede waaruit Jesus se onderrig bestaan. Die eerste deel in vers 9-10 bevat Jesus se aanmoediging aan sy dissipels om gebedsversoeke tot God te rig, omdat God hulle gebede verseker wil beantwoord. Die tweede deel van Jesus se onderrig oor gebed in vers 11-13 , bevat ’n argument uit die praktiese lewe van ouerskap. Die argument beweeg van die mindere na die meerdere (a minori ad maius) om te beklemtoon dat God die Heilige Gees wil gee aan hulle wat Hom daarvoor vra.

Lukas 11:13 sê: “As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan hulle wat Hom vra!”

In sy meditasie oor vers 13, beklemtoon Dr. Murray, wat hy noem, ‘onbegryplike wonders’. Eerstens dat die eie Gees van God, waarin God se lewe en heiligheid geleë is, in ons wil woon. Tweedens, die wonder dat die Vader gewillig is om die Heilige Gees te gee aan almal wat Hom daarom bid. Derdens, dat Jesus die Seun van God deur sy dood heen, self die pad vir die Gees baan en self aan ons die boodskap bring en ons leer om vir die Gees te bid.

Dr. Murray beklemtoon nog ’n punt in hierdie vers onder die opskrif, Die Gees van die gebed. Hy sluit daarvoor aan by Galasiërs 4:6 waarin Paulus skryf: “En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun uitgestuur tot in ons harte, die Gees wat roep” ‘Abba, Vader!’” (2020-vertaling).  Hy beklemtoon die diep betekenis van hierdie woorde deur daarop te wys dat dit Christus die stryd van Getsemane gekos het om hierdie bede te kan bid. Met daardie woorde, het Jesus sy hele wil en lewe aan die Vader oorgegee.

Ons kan dit waag om alles, ons ganse lewe, aan die Vader oor te gee en op te offer, want vers 13 bevat ook die woorde “hoeveel te meer”, met verwysing na God se goedheid in vergelyking met ’n aardse ouer. Dr. Murray skryf in nog ’n meditasie oor vers 13 die volgende woorde: “Miljoen keer meer, ja, oneindig meer, bo alle gedagtes, is die gewilligheid van die hemelse Vader om sy gawe uit te deel.” Dr. Murray nooi sy lesers uit om onder die volle indruk te kom dat die onuitspreeklike gewilligheid van God op ons wag om ons in besit te neem.

Hoe anders kan ons die jaar 2021 ingaan as ons dit sou oorweeg om ons ganse wil in kinderlike opregtheid aan die Vader oor te gee en die gawe van sy Gees te omhels wat Hy so graag wil gee?

Temas vir gebed:

  • Bid die Here dat Hy ons harte en oë sal open vir die goeie gawe van sy Gees wat Hy tot ons beskikking stel en aan ons wil gee.
  • Bid dat die Here se kinders die wil sal koester om hulle self en alles wat deel vorm van hulle lewe, aan God toe te vertrou en aan Hom oor te gee, sodat ons as offers van Christus in die wêreld sal leef.
  • Bid dat die Here wat al die mag het, ‘n spoedige einde aan COVID-19 sal bring.

Week van Gebed 2021 – Dag 4

In Lukas 11:1-13 het Jesus sy dissipels onderrig oor die aard van gebed, o.a. aan die hand van ’n gelykenis oor ’n vriend wat in die nag drie brode kom vra het, omdat ’n vriend van hom wat op reis is by hom aangekom het. Die gasheer het egter niks te ete gehad om vir die besoeker aan te bied nie. Jesus stel dan ’n moontlike reaksie van die huisbewoner wat om hulp gevra is. Hy reageer van binne af deur te sê hy kan nie help nie omdat dit reeds te laat in die nag is. Dit sal sy hele huishouding ontwrig.

Ons lees dan in Lukas 11:8 hierdie woorde: “Ek sê vir julle, selfs al staan hy nie op om dit vir hom te gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en vir hom gee wat hy nodig het omdat die man so onbeskaamd aanhou.” (2020-vertaling).

Volgens Dr. Murray is die eerste les wat Jesus vir sy dissipels leer oor die bron van krag vir gebed, dat die antwoord op gebed nie dadelik kom nie. Die Afrikaanse woord “aanhou” in die aangehaalde teks hierbo, maak ons juis bewus daarvan dat ons gebede méér die karakter het van ’n maraton as van ‘n kort, vinnige naelloop. Die uitnodiging is tot voortgaande verkeer voor God se aangesig, in sy teenwoordigheid, met verwagting en volharding.

Wat hier van belang is, skryf NT Wright, is dat die Here Jesus ons veral wil leer om heelhartig, met volle oorgawe, in afhanklikheid, en aanhoudend te bid. Die 2020-vertaling het die treffende uitdrukking, “onbeskaamd aanhou”. Die enkele punt van vergelyking wat Jesus volgens Wright wil uitlig, is ’n soort heilige onverskrokkenheid (“boldness”). Daarmee bedoel hy ’n dringende klop aan die deur, onophoudelike vra en ’n soeke na God se wil wat nie bes gee of die aftog blaas nie.

Dr. Murray wys verder daarop dat Jesus se onderrig oor kragtige gebed beklemtoon dat dit nie in iets is wat iemand vir homself soek nie, maar dat dit ten behoewe van ’n ander is. Hy moedig sy lesers aan om vir ander te begin bid. Juis dit gee die bidder vrymoedigheid om aan te hou bid en te oorwin. Laat ons God se uitnodiging om vir ander mense te bid omhels en die diens van die gebede met toewyding beoefen.

Dr. Murray beskryf God se gewilligheid om te seën met die woord “oneindig”. God se wil om ons te seën is onbegrens. God wil ons oorvloedig seën. Tog voel dit soms of die antwoord nie dadelik kom nie. In daardie tye leer ons om sterk te word in die geloof, en om tot onbeskaamdheid toe aan te hou. As die antwoord op die gebed nie kom nie, moenie mismoedig word nie, maar dring deur en kom nader, moedig Dr. Murray ons aan.

Ons mag en moet onbeskaamd aanhou om tot God in gebed te nader. Mag 2021 die eerste treë vir jou en my wees op hierdie leerkurwe.

Temas vir gebed

  • Here, gee ons/my die begeerte om werklik te wil leer bid soos U dit vir ons bedoel.
  • Maak ons harte wakker vir ander mense, Here, sodat ons hulle behoeftes voor U kan bring en self op dié wyse leer om soos Jesus te bid.
  • Bid vir die regering vir wysheid en insig in die hantering van die pandemie – vir die harte en gesindhede van ons leiers.