Tyd om te bid

Toe ons gepraat het oor “Vat blydskap saam“, was die eerste manier hoe ons ons “Blydskap-Knipmes” skerpgemaak het, GEBED.  Maar ons wil nie net praat oor gebed nie. Ons wil dit doen.  Meer as net op Sondae, meer as net skietgebedjies, meer as net wanneer die tropiese vrug die waaier tref, meer as net in die aand voor jy gaan slaap.  Ons wil meer tyd met ons Vader spandeer, meer met Hom praat.

Die Bybel is vol opdragte oor gebed. 1 Tessalonisense 5:17 is seker die eenvoudigste een. Die hele vers is net twee woorde: “Bid gedurig.”

In Lukas 18:1 vertel die Here Jesus ‘n gelykenis “om duidelik te maak dat ‘n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.”

Maar ons wil nie net bid omdat ons MOET nie, maar omdat ons WIL.  En ook wil ons nie net bid omdat ons God se arm probeer draai om te kry wat ons wil hê nie, maar omdat ons tyd met ons Vader wil spandeer. Sy Wil wil soek, Hom beter wil leer ken, wil groei in ons verhouding met Hom.

Een van ons gemeente se geloofsgewoontes is “Bly gewortel”.  Kolossense 2:6-7 sê: “Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul.” Om dit te kan doen, moet ons tog met die Here praat in gebed.

Met dit ingedagte wil ons meer geleentheid skep vir gebed.  Daarom sal ons kerkgebou, van hierdie Woensdag af, op sekere tye van die week oopwees vir jou om tyd in gebed in die aanbiddingsruimte te kan kom spandeer.

Die tye is soos volg:

  • Maandae van 6:30-7:30
  • Woensdae van 17:30-18:30
  • Donderdae van 12:00-13:00

Jy hoef nie vir die hele uur te bly nie, jy kan net inkom en kom bid.  Die hek en die deure sal oopwees vir daardie tyd, so jy kan inkom, (saniteer jou hande by die deure natuurlik) en gebruik dit tyd om te bid.  Dit is nie ‘n begeleide biduur met ‘n program nie, maar doodeenvoudig ‘n geleentheid wat elke gemeentelid kan gebruik om te bid.

Natuurlik kan jy enige tyd en enige plek met die Here praat, maar ons wil vir jou hierdie geleentheid bied om wel ook ekstra tyd af te sonder vir gebed. Kom ons wees ‘n biddende gemeente, waar gebed deel is van wie ons is, ingevleg in ons gemeentekultuur en DNA.

Mag jy die Here se vrede beleef.  Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” – Filippense 4:6-7