Liewe Ouers
Welkom by Weskerk se Junior Kategese Blad.
Dit is vir ons belangrik dat daar vir kinders in ons gemeente die ruimte geskep word waar hulle:
- kan tuis voel en die Here kan loof
- kan groei in hul geloof en kennis van die Woord
- die Here en sy liefde werklik beter kan leer ken
- met vreugde kan deelneem aan die eredienste

Vir ons Juniors (Graad 1-6) wil ons graag uitnooi om tydens die oggenddiens deel te neem aan ons Kinderkerk. Dit is nie om net “opgepas te word terwyl mamma en pappa kerk toe gaan nie”, maar 'n erediens wat op hulle geestelike groei gefokus is. Ons kinderkerk is die plek waar ons Junior Kategese plaasvind.
Hierdie jaar gaan ons leer van Spreuke, Jesus se dissipels, die vrug van die Gees en gesels oor Jesus se bekende "Ek is"-uitsprake. Ons gaan ook elke week vir jou as ouer bronne hieronder plaas wat jy kan gebruik om met jou kind oor die week se tema te gesels. Dit is só belangrike deel van hulle geloofsvorming! So loer groot asseblief elke week hier in vir die nuutste hulpbronne.
Kerkraadslid Nelia Jordan, gaan voorloop by die Junior Jeug. As jy graag by ons juniors wil betrokke raak kan jy haar sommer direk kontak by 082 781 2380.
12 Dissipels Les 3 – Filippus en Bartolomeus
Simon, Andreas, Johannes, Jakobus en Filippus het gewoon in die dorpie Betsaida. Dit is ‘n arm vissers dorpie.
Lees Johannes 1:43-49
Bartolomeus se ander naam is Natanael. Filippus en Bartolomeus was vriende. Nadat Filippus vir Bartolomeus vertel het van Jesus, twyfel hy dat enige iets goeds uit die ou arm gedeelte van die land kan kom. Partykeer kan ons ook twyfel of goeie goed uit klein dorpies of gewone mense kan kom. Daar is ‘n rede hoekom ons Redder in ‘n klein gewone arm dorpie gebly het en daar is ‘n rede hoekom Jesus gewone mense soos ek en jy gekies het om sy werk te doen.
Daar word nie baie geskryf in die bybel oor Filippus en Bartolomeus nie. Ons sien wel dat hulle nie so uitgesproke soos Johannes en Jakobus was nie en ook nie ‘n leier soos Simon nie. Jesus het hul steeds gekies om sy goeie werk te doen. Filippus was baie nuuskierig en het dinge bevraagteken. Bartolomeus was stil en eerlik. Dit is eienskappe wat Jesus nodig gehad het vir sy groter plan. Ons hoef nie almal die eienskappe van ‘n leier te hê nie, God het ons geskape met die eienskappe wat hy self uitgekies het met ‘n rede. Ons hoef nooit te twyfel dat elkeen van ons ‘n plekkie het in God se plan nie. Dit maak nie saak oor ons tekortkome nie. Ons moet onsself wees en net ons oë op God gefokus hou.
Lees Matteus 14:17-19, Lukas 9:12-17
Jesus vermeerder 5 brode en 3 vissies. Die dissipels het probeer planne maak oor hoe om die mense te voer. Dit het vir hulle soos ‘n saak van onmoontlikheid gelyk. Niks van hulle planne wou sin maak nie. Jesus het tot God gebid en die brood en vissies was genoeg vir 5000 mans en daar het 12 mandjies vol oorgebly. God voorsien vir ons, al lyk dit vir ons soos ‘n saak van onmoontlikheid, al wil ons planne nie werk nie. God vat dit wat ons het en maak dit genoeg! So ook het God vir sy Israeliete gesorg in die woestyn vir 40 jaar lank met die manna en kwartels.
12 Dissipels Les 2 – Johannes en Jakobus
Leer iets oor die Nuwe Testament:
Dit is belangrik dat kinders die uitleg van die Nuwe Testament verstaan. Hoe werk die Nuwe Testament se boeke?
Die eerste 4 boeke noem ons die Evangelies. Dit is die storie van toe Jesus op die aarde was, geskryf deur 4 verskillende mense: Matteus, Markus, Lukas en Johannes. Die res van die boeke is briewe wat aan verskillende gemeentes geskryf is. Die laaste is die boek Openbaring. Dit is visioene of openbarings wat aan Johannes gegee is gedurende sy tyd op die eiland Patmos.
Johannes en Jakobus:
Twee broers, Jakobus was die ouer broer en Johannes die jonger broer, maar slegs ‘n tiener (ook genoem groot Johannes, daar was meer as een dissipel met die naam Johannes). Hulle was vissers, hulle pa Sebedeus het sy eie vis besigheid besit. Hulle is saam met Simon en Andreas deur Jesus geroep.
- Vissermanne maar hul pa het sy eie besigheid besit, hulle was meer bevoorreg en was selfs ‘n bietjie bederf
Lees Markus 3:17 en Lukas 9:51-56:
Jesus gee vir hulle die bynaam “Sons of Thunder”. Jesus het hulle gestuur om blyplek in Samaritaanse dorp te kry. Die mense het hulle sleg behandel omdat hulle Jode was. Hulle het baie kwaad geword en Jesus gevra om vuur op die mense neer te laat val om hulle dood te brand. Hulle was gewoond daaraan om spesiaal behandel te word. Hulle het nog nie geleer om stil te bly wanneer hulle sleg behandel word nie of die ander wang te draai nie.
- Vurig met ‘n kort humeur wat sy vyand wil vernietig
Lees Johannes 19:26-27:
Terwyl Jesus aan die kruis gehang het, het hy vir Johannes gevra om na sy ma Maria om te sien na sy dood. Jesus was die oudste seun en Josef was al oorlede. Jesus het Johannes vertrou om na sy ma om te sien, selfs meer as sy eie broers.
- Jesus het Johannes vertrou
Johannes het 5 boeke in die Bybel geskryf,
- Johannes – Die evangelie volgens Johannes
- 1 Johannes – Die eerste brief van Johannes
- 2 Johannes – Die tweede brief van Johannes
- 3 Johannes – Die derde brief van Johannes
- Openbaring – Die openbaring aan Johannes, geskryf terwyl Johannes op die eiland Patmos verban was.
Jakobus is die eerste dissipel wat vervolg was. Koning Herodes het hom onthoof vir sy geloof. Johannes was die enigste dissipel wat nie vervolg was nie. Hy is aan ouderdom dood.
Johannes was ‘n bederfde, vuurige, ongeduldige man wat net sy vyand wou vernietig en God het hom getransformeer. ‘n Man na aan Jesus se hart, wat Jesus vertrou het om na sy eie ma om te sien na sy dood. ‘n Man wat 5 boeke van die Bybel geskryf het en bekend gestaan het as die dissipel van liefde omdat hy so baie oor liefde geskryf het in sy boeke.
12 Dissipels Les 1 – Simon Petrus
Jesus het 12 dissipels geroep om by hom te leer en na sy dood die goeie nuus aan die res van die wêreld te verkondig. Die dissipels was gewone mense soos ek en jy met baie foute. Steeds het Jesus hulle gekies en hulle het wonderlike dinge gedoen in die naam van Jesus. Ons wil baie graag die dissipels se karakters aan die kinders bekend maak.
Simon Petrus was die eerste dissipel wat deur Jesus gekies was. Kom ons kyk na van die stories wat ons lees oor Petrus en wat dit ons van hom vertel:
Jesus was besig om vir die mense te preek toe Hy vir Petrus sien, besig om met sy nette te werk. Jesus sê toe vir hom hy moet uitgaan op die water en sy nette in die water gooi (Luk 5:1-11). Petrus sê toe hulle spook al heel nag en het nog niks gevang nie, maar hy doen wat Jesus vra. Hulle het so baie vis gevang dat hulle boot begin sink het. Jesus sê toe die bekende woorde: “Volg my en ek sal julle vissers van mense maak.”
Hier is wat ons nog oor Petrus uit die Nuwe Testament leer:
- Hy was ‘n visserman saam met Andreas (sy broer), Johannes en Jakobus (2 broers)
- Kom van ‘n klein dorpie met nie baie geld nie
- Was nie geleerd nie
- Jesus het sy skoonma genees toe sy siek was.
- Hy was die enigste dissipel wat getroud was toe hulle Jesus se dissipels geword het
Toe Jesus gearresteer word deur die Romeine, het Petrus vining in aksie gespring en een van die soldate se oor afgekap. Hy het ‘n kort humeur gehad en wou Jesus ten alle koste beskerm.
Petrus was baie na aan Jesus. Op twee verskillende geleenthede het Jesus hom uitgesonder om saam met hom te gaan: toe Jesus op die berg vir God, Elia en Moses gaan besoek het, en toe Jesus ‘n 12 jarige meisie uit die dood opgewek het.
Jesus het gelykenisse vir die mense vertel. Dit was moeilik om te verstaan en die mense sê toe dat hulle nie kan verstaan nie en loop weg. Jesus vra toe vir die dissipels of hulle ook eerder wil loop. Petrus was die een wat vir Jesus sê dat hy weet Jesus is die enigste weg na God (Joh 6:68-69). Jesus Antwoord: “Jy is Petrus (beteken rots), en op hierdie rots sal ek my kerk bou.” (Matt 16:13-20) Jesus het ook op ‘n stadium vir die dissipels gevra wie hulle dink hy is. Petrus het geantwoord: “U is Christus, seun van die lewende God.” Dit is belangrik, want op daardie stadium was dit nog nie bekend gemaak dat Jesus God se seun is nie. Jesus was baie beïndruk met Petrus en het hom geseën vir dit.
- Hy was vasbeslote.
- Hy was ook die eerste dissipel wat geglo het dat Jesus God se seun is
Petrus het na Jesus se verhoor gegaan. Iemand het hom erken en gevra of hy een van Jesus se dissipels is. Petrus het Jesus 3 maal verraai deur te sê dat hy nie vir Jesus ken nie.
Jesus het op die water geloop. “Petrus het van die boot afgeklim en op die water geloop, maar toe hy sien hoe sterk die wind was, het hy bang geword en begin sink. Jesus het hom gered en vir hom gesê: Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”
- Hy was op tye bang en sy geloof kon wankel
Petrus was gevange geneem en hulle het hom gekruisig. Hy het aangedring dat hulle hom onderstebo moet kruisig, want hy is nie waardig om op die selfde manier as Jesus te sterf nie. Hy het ook gesê dat hy nie kan wag om by Jesus in die hemel te wees nie.
Petrus was net ‘n gewone, ongeleerde, arm, humerige mens, wat kon twyfel in sy geloof. Petrus is die dissipel wat die meeste kere droog kon maak in die Bybel. Hy het homself nooit jammer gekry daaroor nie. Deur die Heilige Gees en God se krag het hy uit sy foute geleer en een van die bekendste dissipels in die Bybel geword. ‘n Man na aan God se hart wat in geloof gegroei het en self tydens sy dood nie bang was nie en getuig het van die ewige lewe wat vir hom wag. Net so kan God aan ons swakhede werk en ons gebruik om sy koningkryk te verryk. Ons moet net gewillig wees soos Petrus was.
Kinders se Bybelstudie: Lees die volgende stories self uit die Bybel:
- Jesus kies vir Petrus: Matteus 4:18-22, Markus 1:16-18, Lukas 5:1-11
- Jesus loop op die water: Matteus 14:22-33