Juniors

Liewe Ouers

Welkom by Weskerk se Junior Kategese Blad.

Dit is vir ons  belangrik dat daar vir kinders in ons gemeente die ruimte geskep word waar hulle:

  • kan tuis voel en die Here kan loof
  • kan groei in hul geloof en kennis van die Woord
  • die Here en sy liefde werklik beter kan leer ken
  • met vreugde kan deelneem aan die eredienste

Vir ons Juniors (Graad 1-6) wil ons graag uitnooi om tydens die oggenddiens deel te neem aan ons Kinderkerk. Dit is nie om net “opgepas te word terwyl mamma en pappa kerk toe gaan nie”, maar 'n erediens wat op hulle geestelike groei gefokus is. Ons kinderkerk is die plek waar ons Junior Kategese plaasvind.

Hierdie jaar gaan ons leer van Spreuke, Jesus se dissipels, die vrug van die Gees en gesels oor Jesus se bekende "Ek is"-uitsprake.  Ons gaan ook elke week vir jou as ouer bronne hieronder plaas wat jy kan gebruik om met jou kind oor die week se tema te gesels.  Dit is só belangrike deel van hulle geloofsvorming!  So loer groot asseblief elke week hier in vir die nuutste hulpbronne.

Kerkraadslid Nelia Jordan, gaan voorloop by die Junior Jeug.  As jy graag by ons juniors wil betrokke raak kan jy haar sommer direk kontak by 082 781 2380.

Spreuke Les 4

Spreuke 15:32

“Wie onderrig in die wind slaan, gee nie om vir sy eie lewe nie, maar wie na teregwysing luister, verkry verstand.”

Weereens vertel God vir ons dat ons na wyse mense wat ons probeer help moet luister.  Ons kan wys raak wanneer ons net wil LUISTER.

Spreuke 16:18

“Op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val.”

Wat beteken hoogmoed en selfverheffing?  Dit is wanneer jy jouself belangriker, ouliker, slimmer ens as ander mense sien en begin af/neer kyk op hulle.  Ons sê partykeer so iemand dink baie van hulle self.  God waarsku ons dat ons nie onself so moet ophef nie, dat dit sal veroorsaak dat ons in die verleentheid kom of dat ons nie ons doelwitte kan bereik nie.  Wanneer jy ‘n medalje by die skool vir iets wen, moenie vir almal die hele tyd wil vertel hoe goed jy is of hoe vining jy kan hardloop nie.  Leer julle kinders hoe om op te tree wanneer iemand vir hulle gelukwens met n prestasie.  Wanneer iemand hulle gelukwens kan hulle net eenvoudig sê:  “Baie dankie tannie.”  Ons kinders moet ook leer om ander kinders geluk te wens wanneer hulle goed doen in iets.

Spreuke 25:18

“’n Hamer en ‘n swaard en ‘n skerp pyl, so is ‘n man wat vals getuig teen sy naaste.”

Vals getuig:  Dit is om ‘n storie van iemand te vertel wat nie waar is.  Dit is ook skinder.  Ons moet passop om nie stories rond te vertel van ons maatjies nie.  Wanneer jy ‘n storie van iemand hoor moet jy dadelik vir jouself vra; is hierdie storie ooit waar?  Jy moet nie alles glo wat jy hoor van mense nie en jy moet dit glad nie oor vertel nie.

Spreuke 29:25

“As jy vir mense bang is, kan jy in ‘n strik beland, maar as jy jou vertroue in die Here stel, is jy veilig.”

Verduidelik vir julle kinders wat groepsdruk is.  Verduidelik ook dat groepsdruk met hulle kan gebeur wanneer hulle bang vir ‘n maatjie is, dan sal mens sommer enige iets doen wat hulle wil hê.  Wie is groter en sterker as enige mens?  God!!!  God is aan ons kant en daarom hoef ons nie onder groepsdruk dinge te doen wat verkeerd is nie.  Dit gaan ons net in die moeilikheid bring.  God verseker ons dat Hy ons veilig sal hou.  Gee ‘n paar groepsdruk voorbeelde.  Leer jou kind dat hulle nie maatjies hoef te hê wat hulle druk om dinge te doen wat hulle nie wil nie.  Maak maats met kinders wat dieselfde as jy glo en soos jy voel oor reg en verkeerd.

Bybelstudie vir hierdie week:  Kies vir jouself die spreuke wat jy die meeste van hou.  Memoriseer hom en vertel vir een van jou maatjies van die spreuke en hoekom jy so baie van hom hou.

Spreuke Les 3

Spreuke 3:34

“Met spotters spot Hy self, maar aan magteloses skenk Hy genade.”

Kinders kan baie wreed met mekaar wees. Het julle al ooit gehoor hoe kinders met iemand spot wat die regte ding doen? God verseker ons dat Hy daardie spotters sal tereg sien. Ons moet nooit skuldig/sleg voel wanneer ons gespot word omdat ons die regte dinge doen nie.

Spreuke 10:1

“’n Wyse seun verheug sy vader, maar ‘n dwase seun doen sy Moeder verdriet aan.”

Dink aan wanneer julle eendag julle eie kinders het. Hoe gaan dit julle laat voel wanneer hulle hard werk in skool, hulle huiswerk doen, goeie manière het, na hulle ouers luister ens.? Nou dink aan hoe dit jou sal laat voel as jou kind al hulle toetse dop, as die skool jou as ouer moet inroep oor stoute goed wat jou kind gedoen het of as jou kind net nie na jou luister nie?

Spreuke 12:15

“Die pad van ‘n sot is reg in sy eie oë, maar ‘n wyse luister na raad.”

‘n Dwase mens dink hy weet alles. Hy weet nie eers wanneer hy verkeerde besluite maak nie. God sê ons moet na wyse mense se raad luister. Wyse mense soos: onderwysers, ouers, die dominee by die kerk (noem so paar wyse mense in julle gesin of familie op). Die klem is op LUISTER. Om wys te word moet n mens meer luister as praat. Dit is iets om te oefen by die huis met julle kinders, herhinner hulle gereeld daaraan dat hulle meer tyd moet vat om te luister, want dit sal hulle wys maak.

Spreuke 15:1

“’n Sagte antwoord keer woede weg, maar ‘n krenkende woord laat woede opvlam.”

Wanneer iemand baie kwaad is kan hulle maklik begin skree of harder praat en selfs lelike dinge sê, partykeer dinge wat hulle glad nie bedoel nie. God sê dat wanneer dit gebeur moet ons nie hulle op dieselfde manier antwoord nie. Dit sal alles net erger maak. God sê ons moet hulle op so ‘n manier antwoord dat hulle kwaad sal verdwyn. Dit is iets om te oefen, ‘n mens se eerste reaksie is gewoonlik om saam te wil hard praat. Hoe doen ons dit?

Erken, herhaal, oplossing, los op
Wanneer iemand kwaad is en lelike dinge sê: “Jy luister nooit as ek praat nie, ek wil nie meer jou maatjie wees nie!”

  • Erken eerste sy gevoelens: “Ek kan sien jy is baie kwaad”
  • Herhaal wat jy dink hulle voel: “Ek sien jy voel ek luister nie na jou nie”
  • Probeer ‘n oplossing vir die situasie kry: “Almal praat altyd so gelyk, dit maak dit vir my moeilik om jou te hoor, wanneer jy weer vir my iets wil sê sal ek seker maak ek luister na jou.”
  • Los op, laat die ander persoon verstaan hoe dit jou laat voel wanneer hulle op jou skree of so met jou praat. Dit maak my hart baie seer wanneer jy vir my sê jy wil nie meer my maatjie wees nie.

Bybelstudie vir hierdie week: Oefen die “Erken, herhaal, los op” metode by die huis met verskillende situasies, dit sal ons help met Spreuke 15:1.

Spreuke Les 2

Ons het die eerste 4 Spreuke met die kinders behandel.

Spreuke 1:10

“My seun, as sondaars jou wil verlei, moenie instem nie.”

God vra vir ons om sonde/slegte dinge te vermy. Om dit te kan doen moet ons weet wat reg en
verkeerd is. So hoe kry ons dit reg? Wel, dit bring ons by die 2de wyse Spreuke:

Spreuke 3:1-2

“My seun, wat ek jou leer moet jy nie vergeet nie, en laat jou hart my gebooie bewaar, want dit sal
vir jou ‘n lang lewe verseker vol vrede.”

Die klem bly op dat dit ons verantwoordelikheid is om dit wat ons uit die Bybel leer, sal onthou, in
ons harte grafeer. Dit is waarom bybelstudie met ons kinders en kinderkerk so belangrik is. Ons wil
al God se wyshede in ons harte bewaar. God verseker ons dat ons vrede sal beleef wanneer ons dit
doen. Dit beteken nie dat alles altyd goed sal gaan nie. Dit beteken slegs dat wanneer dinge sleg
gaan, ons steeds sal kan vrede hê en kop bo water hou. Ons kan ook ons kinders herhinner dat dit
tel ook vir wat ons as ouers hulle leer, ons reëls.

Spreuke 3:5-6

“Vertrou op die Here met jou hele hart en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles
wat jy doen en Hy sal jou paaie reguit maak.”

Ons kan nie altyd God se plan vir ons verstaan nie. Ons kan ook nie in die toekoms in sien nie. Dit is
hoekom God vir ons vra om Hom te vertrou, nie hoe ’ons’ oor ‘n situasie voel nie. Ons wil baie keer
ons probleme self oplos of op ons manier oplos. Maar hoe gaan ons dan weet hoe om ons probleme
op te los? Dankie tog God antwoord daardie vraag sommer dadelik. “Ken hom in alles wat jy doen.”
Dit is so eenvoudig soos om te bid. Om met God te praat die hele dag. Hy weet alles wat aangaan
met ons, maar God soek ‘n verhouding met ons. Hy wil hê ons moet vir hom alles vertel en sy raad
soek. Dit is wanneer God se krag begin werk en ons paaie gelyk raak. Dinge sal in plek begin val, ons
sal weet dit kom van God.

Spreuke 3:11-12

“My seun, aanvaar die straf wat van die Here kom en moet jou nie teen sy teregwysing verset nie,
want die een vir wie die Here liefhet, wys Hy tereg, soos ‘n vader die seun vir wie hy liefhet.”

Hierdie kan baie moeilik wees vir kinders asook vir ons as ouers. Ons leer in God se Woord oor reg
en verkeerd, maar dan parykeer kan ons onself mislei om iets te doen wat ons weet verkeerd is, ons
oortuig onself dat dit nie so erg is nie, of ons aardse natuur skop net in en ons sondig. Dan kan God
ons teregwys. Hy doen dit want Hy is lief vir ons en wil hê ons moet die regte pad loop. God stop
ons voor dit te laat is. Daarom moet ons nie kwaad raak nie, ons moet dit waardeer dat God ons net
weer op die regte pad soek.

Bybelstudie vir hierdie week: Doen die volgende 4 Spreuke. Met die volgende kinderkerk sal ons
hulle behandel.