Spreuke 15:32
“Wie onderrig in die wind slaan, gee nie om vir sy eie lewe nie, maar wie na teregwysing luister, verkry verstand.”
Weereens vertel God vir ons dat ons na wyse mense wat ons probeer help moet luister. Ons kan wys raak wanneer ons net wil LUISTER.
Spreuke 16:18
“Op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val.”
Wat beteken hoogmoed en selfverheffing? Dit is wanneer jy jouself belangriker, ouliker, slimmer ens as ander mense sien en begin af/neer kyk op hulle. Ons sê partykeer so iemand dink baie van hulle self. God waarsku ons dat ons nie onself so moet ophef nie, dat dit sal veroorsaak dat ons in die verleentheid kom of dat ons nie ons doelwitte kan bereik nie. Wanneer jy ‘n medalje by die skool vir iets wen, moenie vir almal die hele tyd wil vertel hoe goed jy is of hoe vining jy kan hardloop nie. Leer julle kinders hoe om op te tree wanneer iemand vir hulle gelukwens met n prestasie. Wanneer iemand hulle gelukwens kan hulle net eenvoudig sê: “Baie dankie tannie.” Ons kinders moet ook leer om ander kinders geluk te wens wanneer hulle goed doen in iets.
Spreuke 25:18
“’n Hamer en ‘n swaard en ‘n skerp pyl, so is ‘n man wat vals getuig teen sy naaste.”
Vals getuig: Dit is om ‘n storie van iemand te vertel wat nie waar is. Dit is ook skinder. Ons moet passop om nie stories rond te vertel van ons maatjies nie. Wanneer jy ‘n storie van iemand hoor moet jy dadelik vir jouself vra; is hierdie storie ooit waar? Jy moet nie alles glo wat jy hoor van mense nie en jy moet dit glad nie oor vertel nie.
Spreuke 29:25
“As jy vir mense bang is, kan jy in ‘n strik beland, maar as jy jou vertroue in die Here stel, is jy veilig.”
Verduidelik vir julle kinders wat groepsdruk is. Verduidelik ook dat groepsdruk met hulle kan gebeur wanneer hulle bang vir ‘n maatjie is, dan sal mens sommer enige iets doen wat hulle wil hê. Wie is groter en sterker as enige mens? God!!! God is aan ons kant en daarom hoef ons nie onder groepsdruk dinge te doen wat verkeerd is nie. Dit gaan ons net in die moeilikheid bring. God verseker ons dat Hy ons veilig sal hou. Gee ‘n paar groepsdruk voorbeelde. Leer jou kind dat hulle nie maatjies hoef te hê wat hulle druk om dinge te doen wat hulle nie wil nie. Maak maats met kinders wat dieselfde as jy glo en soos jy voel oor reg en verkeerd.
Bybelstudie vir hierdie week: Kies vir jouself die spreuke wat jy die meeste van hou. Memoriseer hom en vertel vir een van jou maatjies van die spreuke en hoekom jy so baie van hom hou.