Spreuke Les 3

Spreuke 3:34

“Met spotters spot Hy self, maar aan magteloses skenk Hy genade.”

Kinders kan baie wreed met mekaar wees. Het julle al ooit gehoor hoe kinders met iemand spot wat die regte ding doen? God verseker ons dat Hy daardie spotters sal tereg sien. Ons moet nooit skuldig/sleg voel wanneer ons gespot word omdat ons die regte dinge doen nie.

Spreuke 10:1

“’n Wyse seun verheug sy vader, maar ‘n dwase seun doen sy Moeder verdriet aan.”

Dink aan wanneer julle eendag julle eie kinders het. Hoe gaan dit julle laat voel wanneer hulle hard werk in skool, hulle huiswerk doen, goeie manière het, na hulle ouers luister ens.? Nou dink aan hoe dit jou sal laat voel as jou kind al hulle toetse dop, as die skool jou as ouer moet inroep oor stoute goed wat jou kind gedoen het of as jou kind net nie na jou luister nie?

Spreuke 12:15

“Die pad van ‘n sot is reg in sy eie oë, maar ‘n wyse luister na raad.”

‘n Dwase mens dink hy weet alles. Hy weet nie eers wanneer hy verkeerde besluite maak nie. God sê ons moet na wyse mense se raad luister. Wyse mense soos: onderwysers, ouers, die dominee by die kerk (noem so paar wyse mense in julle gesin of familie op). Die klem is op LUISTER. Om wys te word moet n mens meer luister as praat. Dit is iets om te oefen by die huis met julle kinders, herhinner hulle gereeld daaraan dat hulle meer tyd moet vat om te luister, want dit sal hulle wys maak.

Spreuke 15:1

“’n Sagte antwoord keer woede weg, maar ‘n krenkende woord laat woede opvlam.”

Wanneer iemand baie kwaad is kan hulle maklik begin skree of harder praat en selfs lelike dinge sê, partykeer dinge wat hulle glad nie bedoel nie. God sê dat wanneer dit gebeur moet ons nie hulle op dieselfde manier antwoord nie. Dit sal alles net erger maak. God sê ons moet hulle op so ‘n manier antwoord dat hulle kwaad sal verdwyn. Dit is iets om te oefen, ‘n mens se eerste reaksie is gewoonlik om saam te wil hard praat. Hoe doen ons dit?

Erken, herhaal, oplossing, los op
Wanneer iemand kwaad is en lelike dinge sê: “Jy luister nooit as ek praat nie, ek wil nie meer jou maatjie wees nie!”

  • Erken eerste sy gevoelens: “Ek kan sien jy is baie kwaad”
  • Herhaal wat jy dink hulle voel: “Ek sien jy voel ek luister nie na jou nie”
  • Probeer ‘n oplossing vir die situasie kry: “Almal praat altyd so gelyk, dit maak dit vir my moeilik om jou te hoor, wanneer jy weer vir my iets wil sê sal ek seker maak ek luister na jou.”
  • Los op, laat die ander persoon verstaan hoe dit jou laat voel wanneer hulle op jou skree of so met jou praat. Dit maak my hart baie seer wanneer jy vir my sê jy wil nie meer my maatjie wees nie.

Bybelstudie vir hierdie week: Oefen die “Erken, herhaal, los op” metode by die huis met verskillende situasies, dit sal ons help met Spreuke 15:1.