Spreuke Les 2

Ons het die eerste 4 Spreuke met die kinders behandel.

Spreuke 1:10

“My seun, as sondaars jou wil verlei, moenie instem nie.”

God vra vir ons om sonde/slegte dinge te vermy. Om dit te kan doen moet ons weet wat reg en
verkeerd is. So hoe kry ons dit reg? Wel, dit bring ons by die 2de wyse Spreuke:

Spreuke 3:1-2

“My seun, wat ek jou leer moet jy nie vergeet nie, en laat jou hart my gebooie bewaar, want dit sal
vir jou ‘n lang lewe verseker vol vrede.”

Die klem bly op dat dit ons verantwoordelikheid is om dit wat ons uit die Bybel leer, sal onthou, in
ons harte grafeer. Dit is waarom bybelstudie met ons kinders en kinderkerk so belangrik is. Ons wil
al God se wyshede in ons harte bewaar. God verseker ons dat ons vrede sal beleef wanneer ons dit
doen. Dit beteken nie dat alles altyd goed sal gaan nie. Dit beteken slegs dat wanneer dinge sleg
gaan, ons steeds sal kan vrede hê en kop bo water hou. Ons kan ook ons kinders herhinner dat dit
tel ook vir wat ons as ouers hulle leer, ons reëls.

Spreuke 3:5-6

“Vertrou op die Here met jou hele hart en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles
wat jy doen en Hy sal jou paaie reguit maak.”

Ons kan nie altyd God se plan vir ons verstaan nie. Ons kan ook nie in die toekoms in sien nie. Dit is
hoekom God vir ons vra om Hom te vertrou, nie hoe ’ons’ oor ‘n situasie voel nie. Ons wil baie keer
ons probleme self oplos of op ons manier oplos. Maar hoe gaan ons dan weet hoe om ons probleme
op te los? Dankie tog God antwoord daardie vraag sommer dadelik. “Ken hom in alles wat jy doen.”
Dit is so eenvoudig soos om te bid. Om met God te praat die hele dag. Hy weet alles wat aangaan
met ons, maar God soek ‘n verhouding met ons. Hy wil hê ons moet vir hom alles vertel en sy raad
soek. Dit is wanneer God se krag begin werk en ons paaie gelyk raak. Dinge sal in plek begin val, ons
sal weet dit kom van God.

Spreuke 3:11-12

“My seun, aanvaar die straf wat van die Here kom en moet jou nie teen sy teregwysing verset nie,
want die een vir wie die Here liefhet, wys Hy tereg, soos ‘n vader die seun vir wie hy liefhet.”

Hierdie kan baie moeilik wees vir kinders asook vir ons as ouers. Ons leer in God se Woord oor reg
en verkeerd, maar dan parykeer kan ons onself mislei om iets te doen wat ons weet verkeerd is, ons
oortuig onself dat dit nie so erg is nie, of ons aardse natuur skop net in en ons sondig. Dan kan God
ons teregwys. Hy doen dit want Hy is lief vir ons en wil hê ons moet die regte pad loop. God stop
ons voor dit te laat is. Daarom moet ons nie kwaad raak nie, ons moet dit waardeer dat God ons net
weer op die regte pad soek.

Bybelstudie vir hierdie week: Doen die volgende 4 Spreuke. Met die volgende kinderkerk sal ons
hulle behandel.