12 Dissipels Les 3 – Filippus en Bartolomeus

Simon, Andreas, Johannes, Jakobus en Filippus het gewoon in die dorpie Betsaida.  Dit is ‘n arm vissers dorpie.

Lees Johannes 1:43-49

Bartolomeus se ander naam is Natanael.  Filippus en Bartolomeus was vriende.  Nadat Filippus vir Bartolomeus vertel het van Jesus, twyfel hy dat enige iets goeds uit die ou arm gedeelte van die land kan kom.  Partykeer kan ons ook twyfel of goeie goed uit klein dorpies of gewone mense kan kom.  Daar is ‘n rede hoekom ons Redder in ‘n klein gewone arm dorpie gebly het en daar is ‘n rede hoekom Jesus gewone mense soos ek en jy gekies het om sy werk te doen.

Daar word nie baie geskryf in die bybel oor Filippus en Bartolomeus nie.  Ons sien wel dat hulle nie so uitgesproke soos Johannes en Jakobus was nie en ook nie ‘n leier soos Simon nie.  Jesus het hul steeds gekies om sy goeie werk te doen.  Filippus was baie nuuskierig en het dinge bevraagteken.  Bartolomeus was stil en eerlik.  Dit is eienskappe wat Jesus nodig gehad het vir sy groter plan.  Ons hoef nie almal die eienskappe van ‘n leier te hê nie, God het ons geskape met die eienskappe wat hy self uitgekies het met ‘n rede.  Ons hoef nooit te twyfel dat elkeen van ons ‘n plekkie het in God se plan nie.  Dit maak nie saak oor ons tekortkome nie.  Ons moet onsself wees en net ons oë op God gefokus hou.

Lees Matteus 14:17-19, Lukas 9:12-17

Jesus vermeerder 5 brode en 3 vissies.  Die dissipels het probeer planne maak oor hoe om die mense te voer.  Dit het vir hulle soos ‘n saak van onmoontlikheid gelyk.  Niks van hulle planne wou sin maak nie.  Jesus het tot God gebid en die brood en vissies was genoeg vir 5000 mans en daar het 12 mandjies vol oorgebly.  God voorsien vir ons, al lyk dit vir ons soos ‘n saak van onmoontlikheid, al wil ons planne nie werk nie.  God vat dit wat ons het en maak dit genoeg! So ook het God vir sy Israeliete gesorg in die woestyn vir 40 jaar lank met die manna en kwartels.