12 Dissipels Les 1 – Simon Petrus

Jesus het 12 dissipels geroep om by hom te leer en na sy dood die goeie nuus aan die res van die wêreld te verkondig.  Die dissipels was gewone mense soos ek en jy met baie foute.  Steeds het Jesus hulle gekies en hulle het wonderlike dinge gedoen in die naam van Jesus.  Ons wil baie graag die dissipels se karakters aan die kinders bekend maak.

Simon Petrus was die eerste dissipel wat deur Jesus gekies was.  Kom ons kyk na van die stories wat ons lees oor Petrus en wat dit ons van hom vertel:

Jesus was besig om vir die mense te preek toe Hy vir Petrus sien, besig om met sy nette te werk.  Jesus sê toe vir hom hy moet uitgaan op die water en sy nette in die water gooi (Luk 5:1-11).  Petrus sê toe hulle spook al heel nag en het nog niks gevang nie, maar hy doen wat Jesus vra.  Hulle het so baie vis gevang dat hulle boot begin sink het.  Jesus sê toe die bekende woorde:  “Volg my en ek sal julle vissers van mense maak.”

Hier is wat ons nog oor Petrus uit die Nuwe Testament leer:

  • Hy was ‘n visserman saam met Andreas (sy broer), Johannes en Jakobus (2 broers)
  • Kom van ‘n klein dorpie met nie baie geld nie
  • Was nie geleerd nie
  • Jesus het sy skoonma genees toe sy siek was.
  • Hy was die enigste dissipel wat getroud was toe hulle Jesus se dissipels geword het

Toe Jesus gearresteer word deur die Romeine, het Petrus vining in aksie gespring en een van die soldate se oor afgekap. Hy het ‘n kort humeur gehad en wou Jesus ten alle koste beskerm.

Petrus was baie na aan Jesus.  Op twee verskillende geleenthede het Jesus hom uitgesonder om saam met hom te gaan: toe Jesus op die berg vir God, Elia en Moses gaan besoek het, en toe Jesus ‘n 12 jarige meisie uit die dood opgewek het.

Jesus het gelykenisse vir die mense vertel.  Dit was moeilik om te verstaan en die mense sê toe dat hulle nie kan verstaan nie en loop weg.  Jesus vra toe vir die dissipels of hulle ook eerder wil loop.  Petrus was die een wat vir Jesus sê dat hy weet Jesus is die enigste weg na God (Joh 6:68-69).  Jesus Antwoord:  “Jy is Petrus (beteken rots), en op hierdie rots sal ek my kerk bou.” (Matt 16:13-20) Jesus het ook op ‘n stadium vir die dissipels gevra wie hulle dink hy is.  Petrus het geantwoord: “U is Christus, seun van die lewende God.” Dit is belangrik, want op daardie stadium was dit nog nie bekend gemaak dat Jesus God se seun is nie.  Jesus was baie beïndruk met Petrus en het hom geseën vir dit.

  • Hy was vasbeslote.
  • Hy was ook die eerste dissipel wat geglo het dat Jesus God se seun is

Petrus het na Jesus se verhoor gegaan.  Iemand het hom erken en gevra of hy een van Jesus se dissipels is.  Petrus het Jesus 3 maal verraai deur te sê dat hy nie vir Jesus ken nie.

Jesus het op die water geloop.  “Petrus het van die boot afgeklim en op die water geloop, maar toe hy sien hoe sterk die wind was, het hy bang geword en begin sink.  Jesus het hom gered en vir hom gesê:  Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”

  • Hy was op tye bang en sy geloof kon wankel

Petrus was gevange geneem en hulle het hom gekruisig.  Hy het aangedring dat hulle hom onderstebo moet kruisig, want hy is nie waardig om op die selfde manier as Jesus te sterf nie.  Hy het ook gesê dat hy nie kan wag om by Jesus in die hemel te wees nie.

Petrus was net ‘n gewone, ongeleerde, arm, humerige mens, wat kon twyfel in sy geloof. Petrus is die dissipel wat die meeste kere droog kon maak in die Bybel.  Hy het homself nooit jammer gekry daaroor nie.  Deur die Heilige Gees en God se krag het hy uit sy foute geleer en een van die bekendste dissipels in die Bybel geword.  ‘n Man na aan God se hart wat in geloof gegroei het en self tydens sy dood nie bang was nie en getuig het van die ewige lewe wat vir hom wag.  Net so kan God aan ons swakhede werk en ons gebruik om sy koningkryk te verryk.  Ons moet net gewillig wees soos Petrus was.

Kinders se Bybelstudie:  Lees die volgende stories self uit die Bybel:

  • Jesus kies vir Petrus:  Matteus 4:18-22, Markus 1:16-18, Lukas 5:1-11
  • Jesus loop op die water: Matteus 14:22-33