(Ons sluit vandag ons Week van Gebed af en daarmee saam volstaan ons ook vir eers weer met ons dagstukkies.)
Die Nuwe-Testamentiese kommentator Howard Marshall, bespreek Jesus se laaste instruksie oor gebed in Lukas 11:9-13 en wys op die twee eenhede waaruit Jesus se onderrig bestaan. Die eerste deel in vers 9-10 bevat Jesus se aanmoediging aan sy dissipels om gebedsversoeke tot God te rig, omdat God hulle gebede verseker wil beantwoord. Die tweede deel van Jesus se onderrig oor gebed in vers 11-13 , bevat ’n argument uit die praktiese lewe van ouerskap. Die argument beweeg van die mindere na die meerdere (a minori ad maius) om te beklemtoon dat God die Heilige Gees wil gee aan hulle wat Hom daarvoor vra.
Lukas 11:13 sê: “As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan hulle wat Hom vra!”
In sy meditasie oor vers 13, beklemtoon Dr. Murray, wat hy noem, ‘onbegryplike wonders’. Eerstens dat die eie Gees van God, waarin God se lewe en heiligheid geleë is, in ons wil woon. Tweedens, die wonder dat die Vader gewillig is om die Heilige Gees te gee aan almal wat Hom daarom bid. Derdens, dat Jesus die Seun van God deur sy dood heen, self die pad vir die Gees baan en self aan ons die boodskap bring en ons leer om vir die Gees te bid.
Dr. Murray beklemtoon nog ’n punt in hierdie vers onder die opskrif, Die Gees van die gebed. Hy sluit daarvoor aan by Galasiërs 4:6 waarin Paulus skryf: “En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun uitgestuur tot in ons harte, die Gees wat roep” ‘Abba, Vader!’” (2020-vertaling). Hy beklemtoon die diep betekenis van hierdie woorde deur daarop te wys dat dit Christus die stryd van Getsemane gekos het om hierdie bede te kan bid. Met daardie woorde, het Jesus sy hele wil en lewe aan die Vader oorgegee.
Ons kan dit waag om alles, ons ganse lewe, aan die Vader oor te gee en op te offer, want vers 13 bevat ook die woorde “hoeveel te meer”, met verwysing na God se goedheid in vergelyking met ’n aardse ouer. Dr. Murray skryf in nog ’n meditasie oor vers 13 die volgende woorde: “Miljoen keer meer, ja, oneindig meer, bo alle gedagtes, is die gewilligheid van die hemelse Vader om sy gawe uit te deel.” Dr. Murray nooi sy lesers uit om onder die volle indruk te kom dat die onuitspreeklike gewilligheid van God op ons wag om ons in besit te neem.
Hoe anders kan ons die jaar 2021 ingaan as ons dit sou oorweeg om ons ganse wil in kinderlike opregtheid aan die Vader oor te gee en die gawe van sy Gees te omhels wat Hy so graag wil gee?
Temas vir gebed:
- Bid die Here dat Hy ons harte en oë sal open vir die goeie gawe van sy Gees wat Hy tot ons beskikking stel en aan ons wil gee.
- Bid dat die Here se kinders die wil sal koester om hulle self en alles wat deel vorm van hulle lewe, aan God toe te vertrou en aan Hom oor te gee, sodat ons as offers van Christus in die wêreld sal leef.
- Bid dat die Here wat al die mag het, ‘n spoedige einde aan COVID-19 sal bring.