Iets wat ek sukkel om uit my kop uit te kry, vanuit ons studie van Filippense, is hoe baie waarde Paulus daaraan heg dat die gemeente in Filippi sy medewerkers is vir die verkondiging van die evangelie.
Die woord wat Paulus gebruik is een wat ons baie goed ken: “Koinonia”. Dit is ‘n Griekse woord wat al baie lank deel is van kerklike gesprekke, strategiese beplanningsessies, vergaderings, preekreekse, ens. Die woord word in die algemeen bloot vertaal met “Gemeenskap van Gelowiges”. En wat meeste van die tyd daarmee bedoel word is ons saamwees, saam kuier, saam eet, koffie drink, ens. – die samesyn van gemeente wees. Die Engelse vertaal dit met “Fellowship”.
Hierdie saam wees is baie, baie belangrik. Dit is ook ‘n baie groot deel van wat ons van gemeente wees mis sedert Maart verlede jaar. En wanneer ons wel bymekaar kan wees dan besef ons weer waarom ons dit so baie gemis het en waarom ons dit (mekaar!) so baie nodig het. Hopelik kan ons soos wat die jaar vorder weer alhoemeer van mekaar sien en saam kuier.
Maar hier is iets meer aan die gang by Paulus wanneer hy in Filippense weer die woord “Koinonia” gebruik. In vers 5 word dit in ons 1983 Vertaling vertaal met “saamgewerk”:
“omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie.”
Die woord beteken letterlik vennootskap. Dit gaan oor deelneem, hulp bydra, saam werk. Ons is vennote van mekaar. Waarvoor? Die verkondiging van die evangelie – op watter manier ookal.
Die afgelope tyd sien ons te midde van landswye nood darem alhoemeer mooi stories ook. Van gemeenskappe wat saam staan om mense te help herstel en herbou ná COVID, ná inperking, ná die vernietiging van winkels en besighede deur die “looters”. Dit is mooi om sulke samewerking en hulpverlening te sien en gee mens darem nog hoop vir ons land in ‘n donker tyd.
Sosiale media maak hierdie hulpprojekte natuurlik baie meer sigbaar, maar my vraag is of moet ons wag vir ‘n openbare tragedie waarvan almal weet voordat ons ook inspring en help? Wat as ons besef wie ons is – die Kerk van die Here, “sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.” (Ef 1:23) – en begin om vanuit ons identiteit saam te werk aan die verkondiging van die evangelie. Besef ons is vennote. Besef ons is saam in hierdie ding. Besef jy is nie alleen nie.
Die leuen wat die wêreld wil hê ons moet glo is dat ons ons elkeen ons eie koninkryk moet bou – elkeen vir homself en die duiwel vir die res. Maar die Kerk moet anders wees. Hier gaan dit oor God se Koninkryk. En dit word sigbaar wanneer ons, sy kinders, lief is vir mekaar en saam met mekaar werk. Kan jy dink wat in ons dorp kan gebeur as elke gelowige besef ons het mekaar nodig, besef ons is medewerkers en nie mededingers nie – vennote vir die bevordering van die evangelie.
Mag die Here vir jou vandag elke geleentheid wys wat oor jou pad kom om ‘n medewerker te wees in sy Koninkryk – daar waar jy is, daar waar Hy jou stuur. En mag jy daardie geleenthede met albei arms aangryp. En mag jy die Here se seën in jou lewe beleef en daardeur ook tot seën wees vir elkeen wat jou pad kruis.