Gedagte vir die dag – Wat kan mens nog glo?

Dis ‘n nuwe kwartaal en ons is op ‘n nuwe vlak van inperking.  Party goeters is weer bietjie oop en ander nog toe.  Party van dit maak sin en ander maak minder sin.  En dit op sig self laat mens wonder oor baie dinge. Wat kan mens nog glo?  En sosiale media maak dit ook nog meer ingewikkeld.

Daar is soveel verskillende opinies en redenasies oor elke liewe ding.  Moet ons ‘n vlak opgaan of afgaan?  Dan moet die skole oop en dan moet hulle skielik toe?  Dan kan ons bier koop en dan mag ons weer nie.  Moet jy inent of nie?  Dan moet jy invermektien gebruik en moet jy weer nie.  Was Willie le Roux voor die bal of was dit eintlik ‘n drie?  Mag Rassie Erasmus die waterdraer op die veld wees of nie?  Is ek positief of nie?  En as ek positief is wat moet ek doen en wat gaan van my word…

Dis ‘n deurmekaarspul en die een dink sy opinie is meer in die kol as die volgende een.  En boonop gooi mense in al hierdie aanlyn strydgesprekke nog Bybelversies ook rond om hulle eie doel te dien en hulle eie punt te staaf.  Wat kan mens nog glo? Wat moet mens glo in ‘n deurmekaar en chaotiese tyd van onsekerheid en vrees en verlies…?

Ons is die afgelope klompie weke besig met ‘n studie van Filippense en ons trek hierdie week by hoofstuk 2, vers 5-11 en dit gee vir ons nuwe versekering:

Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:

Hy wat in die gestalte van God was,
het sy bestaan op Godgelyke wyse
nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,
maar Hy het Homself verneder
deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem
en aan mense gelyk te word.

En toe Hy as mens verskyn het,
het Hy Homself verder verneder.
Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

Daarom het God Hom
ook tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is,
sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is,
die knie sou buig,
en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!”
tot eer van God die Vader.

Daar is een ding wat ons nog kan glo! En dit is dat Jesus Christus die Koning is en dat Hy op die troon sit en regeer.  Maar Hy is nie ‘n koning soos enige ander nie.  Elke knie sal voor Hom buig, maar nie soos voor ‘n aardse koning net uit pligsbesef of vrees of ordentelikheid nie.  Nee elke knie sal buig omdat Hy dit waardig is! Omdat Hy die Here is!  En omdat sy koningskap bevestig is deur dit wat Hy gedoen het.  Hy is nie ‘n vêraf en afwesige en vreesaanjaende koning nie.  Hy is die Koning wat jou so lief het dat Hy van sy troon af geklim het, een van ons geword het, ons straf op Hom geneem het en vir ons gesterf het.

Daarom is daar geen ander koning soos Hy nie! Daar het Hy die Naam bo elke naam.  Daarom sal elke knie buig en kies ons nou reeds om die knie voor Hom te buig.  Al is jy van niks anders seker nie kan jy van Jesus seker wees en weet dat Hy die Koning is en dat Hy by jou is!

Dis natuurlik bietjie ironies dat jy nou hierdie op die een of ander aanlyn platform lees.  Maar kom ons spandeer meer tyd op ons knieë voor die Koning en meer tyd in sy Woord as op al die bronne van die media wat ons tyd en aandag steel.  Onthou: hoe meer tyd jy met die Waarheid spandeer, hoe moeiliker raak dit om die leuen te glo.

Kom ons spandeer ook ekstra tyd hierdie week op ons knieë om vir elkeen wat siek is te bid en vir al die nare nagevolge van die virus.