Gedagte vir die dag – Hoe maak jy met onderbrekings?

Ek weet nie van jou nie, maar daar is min dinge in die lewe wat my so kan irriteer en kan kwaad maak soos onderbrekings.  Dink daaraan: net as ‘n mens nou besig is met wat jy nou graag wil doen, dan kom daar die een of ander onderbreking en dan is alles deurmekaar.  Party keer is dit erger as ander kere, maar dit gebeur eintlik nogals gereeld in ‘n mens se lewe.  So gereeld dat mens eintlik sou dink dat ons teen hierdie tyd al geleer het om dit beter te hanteer.

Ek onthou toe ek nog op skool was en Desember skoolvakansie op die bank gelê en net krieket wou kyk.  Die dae toe daar nog regte krieket op TV was.  Suid-Afrika teen Australië in ‘n spannende 5-dag toetsreeks.  Dan net as ek nou op my gemaklikste is en die wedstryd op ‘n hoogtepunt, dan besluit my geliefde moeder sy moet vir my werk uitdink… wat ‘n frustrasie!

Dis nou sommer ‘n simpel voorbeeld, maar dink bietjie hoe baie ons eintlik op ‘n daaglikse basis onderbreek word.  Selfoonsein wat weg is, of airtime wat op is, of daai Zoom-vergadering wat nie lekker werk nie, die foon of deurklokkie wat op ‘n ongeleë tyd lui, Faf de Klerk wat alweer skop… Of partykeer probeer mens ‘n preek opneem en dan hou die kamera op werk of daar ry ‘n motorfiets verby en dan skop die hond, wat motorfietse meer as onderbrekings haat, ‘n kabaal op… en so… byvoorbeeld…

Natuurlik beleef ons hierdie onderbrekings in hierdie tyd baie meer intens.  Ons hele lewe word al vir die afgelope jaar en ‘n bietjie konstant onderbreek.  Net as ‘n mens dink alles begin weer bietjie rigting kry dan is daar weer ‘n nuwe vlaag of ‘n nuwe inperkingsreël, of beurtkrag bo-op inperkings.  Vir party van ons is dit selfs nog erger omdat ons lewens deur die virus direk onderbreek word.  Kwarentyn, isolasie, hospitaal, intensief, dood… dit is woorde wat ons alhoemeer begin hoor en begin beleef. En dit laat die ander gewone daaglikse onderbrekings waaroor ons maklik kan kwaad word, skielik bietjie belaglik lyk.

Paulus se lewe word in Filippense vir die soveelste keer onderbreek.  Hierdie keer weer deur gevangenis.  Hy is alweer in die tronk omdat Hy die evangelie sonder skaamte verkondig.  Maar Paulus sien hierdie onderbreking eerder as ‘n geleentheid.  Hoor wat sê hy in Filippense 1:12-14:

Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek ‘n gevangene is. Deur my boeie is die meeste broers ook in hulle vertroue op die Here gesterk, en hulle waag dit al hoe meer om die woord van God onbevrees te verkondig.

Wat as ons so oor die onderbrekings in ons lewens kon dink…?  Dat ons dit sien as geleenthede vir die bevordering van God se Koninkryk.  Natuurlik is dit in party situasies makliker as in ander.  Maar wat as ons in elke onderbreking vir die Here kan vra hoe Hy ons in hierdie moment kan gebruik, wat Hy vir ons in hierdie moment kan leer, hoe ons nader aan Hom kan kom?  Wat as ons ons onderbrekings, hoe groot of klein hulle ookal is, vir die Here gee?

Paulus het een doel voor oë gehad en daarom kon hy dit wat met hom gebeur het sien in die lig van daardie doel.  Kom ons gebruik ons onderbrekings om met die Here te praat.  Om Hom te soek.  Om sy wil te soek.  Om van Hom te praat. Om Hom te loof.  Om die evangelie te verkondig.