Gedagte vir die dag – Meer en meer liefde

In Filippense 1:9 en 10 bid Paulus hierdie woorde:

Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.”

Kom ons breek die versie bietjie op.

1. Wat is dit wat toeneem? Liefde.  Die woord wat ons hier met ‘liefde’ vertaal beteken letterlik ‘voorkeur’, of ‘om te verkies’.  Met ander woorde om iets te verkies bo iets anders, om ‘n voorkeur te hê vir een ding bo ‘n ander.  In hierdie geval om God en ons naaste te verkies bo onsself.

2. Hoe moet hierdie liefde toeneem? In begrip en fyn aanvoeling.  Die woord wat ons hier vertaal met ‘begrip’, vertaal die Ou Vertaling, na regte, met die woord ‘kennis’.  En ‘fyn aanvoeling’ gaan oor ‘onderskeiding’. Maar kennis van wat? Kennis van God.

Ons wil baie keer kennis van God en liefde van mekaar skei.  Maar die een kan nie eintlik sonder die ander nie.  Dit kan beide kante toe verkeerd gaan.  God is die bron van liefde en het ons eerste liefgehad.  Kennis van God is nodig vir ons om waarlik te kan liefhê!  En ons liefde kan dus toeneem soos ons kennis van God ook toeneem. 1 Johannes 4:7-8 sê dit mooi:

Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.” en vers 19: “Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.”

Aan die anderkant is kennis van God sonder liefde, net dit: kopkennis.  En ongelukkig gebeur dit ook baie dat ons koppe vol teologiese redenasies en Bybelversies kan raak vir ons eie eer en agenda en dat die liefde kan ontbreek.  Onthou 1 Korintiërs 13:2 se waarskuwing:

Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.”

Daarom is dit so nodig dat ons intensioneel daaraan sal werk om te groei in ons kennis van God.  Maar nie net meer van Hom weet nie, maar eerder Hom regtig leer ken – groei in ons verhouding met Hom.

Dit bring ons by die fyn aanfoeling/onderskeiding.  Kennis vra “Wat is reg?” terwyl onderskeiding vra “Wat is die beste?” Met ander woorde help hierdie fyn aanvoeling ons om te vra na die beste manier om ons naaste lief te hê op grond van ons kennis van Christus en sy Woord.

3. Waarom moet ons liefde in begrip en fyn aanvoeling groei? Sodat ons kan onderskei waarop dit werklik aankom.  Laat ons nie deurmekaar raak met waarmee ons onsself moet besig hou nie.  Waaraan ons ons tyd, energie en hulpbronne moet spandeer.  As ons liefde toeneem sal ons kan onderskei wat werklik belangrik is en nie ons tyd mors met twis- en strydgesprekke en ander nonsens nie.

Romeine 12:2 sê: Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Mag ons liefde ook so toeneem in kennis en onderskeiding en deur Christus “geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.” (Fil 1:11)