In Lukas 11:1-13 het Jesus sy dissipels onderrig oor die aard van gebed, o.a. aan die hand van ’n gelykenis oor ’n vriend wat in die nag drie brode kom vra het, omdat ’n vriend van hom wat op reis is by hom aangekom het. Die gasheer het egter niks te ete gehad om vir die besoeker aan te bied nie. Jesus stel dan ’n moontlike reaksie van die huisbewoner wat om hulp gevra is. Hy reageer van binne af deur te sê hy kan nie help nie omdat dit reeds te laat in die nag is. Dit sal sy hele huishouding ontwrig.
Ons lees dan in Lukas 11:8 hierdie woorde: “Ek sê vir julle, selfs al staan hy nie op om dit vir hom te gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en vir hom gee wat hy nodig het omdat die man so onbeskaamd aanhou.” (2020-vertaling).
Volgens Dr. Murray is die eerste les wat Jesus vir sy dissipels leer oor die bron van krag vir gebed, dat die antwoord op gebed nie dadelik kom nie. Die Afrikaanse woord “aanhou” in die aangehaalde teks hierbo, maak ons juis bewus daarvan dat ons gebede méér die karakter het van ’n maraton as van ‘n kort, vinnige naelloop. Die uitnodiging is tot voortgaande verkeer voor God se aangesig, in sy teenwoordigheid, met verwagting en volharding.
Wat hier van belang is, skryf NT Wright, is dat die Here Jesus ons veral wil leer om heelhartig, met volle oorgawe, in afhanklikheid, en aanhoudend te bid. Die 2020-vertaling het die treffende uitdrukking, “onbeskaamd aanhou”. Die enkele punt van vergelyking wat Jesus volgens Wright wil uitlig, is ’n soort heilige onverskrokkenheid (“boldness”). Daarmee bedoel hy ’n dringende klop aan die deur, onophoudelike vra en ’n soeke na God se wil wat nie bes gee of die aftog blaas nie.
Dr. Murray wys verder daarop dat Jesus se onderrig oor kragtige gebed beklemtoon dat dit nie in iets is wat iemand vir homself soek nie, maar dat dit ten behoewe van ’n ander is. Hy moedig sy lesers aan om vir ander te begin bid. Juis dit gee die bidder vrymoedigheid om aan te hou bid en te oorwin. Laat ons God se uitnodiging om vir ander mense te bid omhels en die diens van die gebede met toewyding beoefen.
Dr. Murray beskryf God se gewilligheid om te seën met die woord “oneindig”. God se wil om ons te seën is onbegrens. God wil ons oorvloedig seën. Tog voel dit soms of die antwoord nie dadelik kom nie. In daardie tye leer ons om sterk te word in die geloof, en om tot onbeskaamdheid toe aan te hou. As die antwoord op die gebed nie kom nie, moenie mismoedig word nie, maar dring deur en kom nader, moedig Dr. Murray ons aan.
Ons mag en moet onbeskaamd aanhou om tot God in gebed te nader. Mag 2021 die eerste treë vir jou en my wees op hierdie leerkurwe.
Temas vir gebed
- Here, gee ons/my die begeerte om werklik te wil leer bid soos U dit vir ons bedoel.
- Maak ons harte wakker vir ander mense, Here, sodat ons hulle behoeftes voor U kan bring en self op dié wyse leer om soos Jesus te bid.
- Bid vir die regering vir wysheid en insig in die hantering van die pandemie – vir die harte en gesindhede van ons leiers.