As jy die afgelope paar weke saam met ons in ons eredienste opreis gegaan het deur die brief van Paulus aan die Filippense sou jy die tema van vandag se dagstukkie al bietjie gehoor het.
As jy nog nie het nie wil ek jou uitnooi om daarna te gaan luister en saam met ons deur die brief te gaan. Jy kan die hele reeks tot waar ons nou trek op ons webwerf kry by http://weskerk.co.za/series/onuitblusbare-blydskap/
Maar ek wil tog nou met jou opvolg en hoor of jy self al verder daaroor gedink het. Is die idee van om ‘blydskap in te pak’ al deel van jou daaglikse lewe…?
Dit is interessant wat ons alles doen in ons soeke na blydskap, vreugde, genot, vrede, geluk… noem dit. Dit voel baie keer asof ons na ‘n sekere plek toe moet gaan om weer gelukkig te kan wees. Of die een of ander spesifieke aktiwiteit moet doen om beter te voel of om weer bietjie blydskap te beleef. Dat ons geluk met ander woorde afhang van waar ons is, wat ons doen of wat ons het.
Paulus sien dit bietjie anders. Want waar hy ookal is en in watter omstandighede hy ookal is, en of hy oorvloed het of gebrek ly, hy het blydskap. Hoe kry hy dit reg? Hy vat blydskap saam met hom. Hy vat dit saam op die pad, saam tronk toe, saam oral – want dit is altyd by hom. Sy bron van blydskap is die Here en sy verhouding met die Here. Daarom maak dit nie saak waar hy is of wat hy doen of wat hy het of nie het nie, want Hy het vir Jesus… anders gestel: hy weet Jesus het hom!
Hoor wat sê Paulus in Filippense 3:8 – “ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.”
Wat as ons dit saam met ons kan vat oral waar ons gaan? Dat dit nie net ons bron van vreugde is nie, maar ook soos vir Paulus ons dryfveer is. Jesus het vir ons gesterf, ons vrygemaak, die prys betaal, ons straf gedra. Hy is by ons en Hy dra ons en stuur ons en lei ons. Dit is ons bron van hoop en blydskap en dring ons om dit te wil vertel en te leef, oral waar ons kom.
Mag jy dit beleef dat jy nêrens hoef te soek vir blydskap nie, maar dit beleef, omdat jy dit saam met jou dra, omdat jy Here by jou is. Omdat as jy Hom het, dan het jy selfs al het jy niks, nog alles. Omdat Hy jou in sy Hand het.