LIEFDE – Soek nie eie belang nie

Lees nog ‘n paar keer die woorde van 1 Korintiërs 13:4 & 5

“Die liefde is geduldig,
die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.
Dit handel nie onwelvoeglik nie,
soek nie sy eie belang nie,
is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.”

As liefde dan nie sy eie belang soek nie – hoe gaan my behoeftes en begeertes en drome dan ooit verwesenlik word? Dit is juis die wonderwerk van die liefde en daarna moet ons in ons verhoudings strewe.  Wanneer twee mense nie meer vir hulle self lewe nie maar vir die ander persoon dan is dit waar dat ek 100% ingestel moet wees daarop om die ander persoon in die verhouding se wense waar te maak.  Maar as dit waarlik ‘n verhouding is dan beteken dit tog dat daar iemand anders is wat 100% daarop ingestel is om seker te maak dat my wense waar word.  Dit is die geheim van ware liefde en ook die toets vir ons verhoudings.  Daarmee kan ons meet in ons verhoudings of ons nog besig is om ware liefde vir mekaar te leef en of is ons besig om liefde te misbruik en te buig en te breek om uit die verhouding uit te kry wat ons graag wil hê. Mag jy nou al in jou verhoudings hierdie beginsel toepas en mag jy of jy reeds getroud is, getroud was, of in jou soeke na “The One” ook hierdie beginsel uitleef en mag jou verhoudings vir die wêreld wys hoe lyk ware liefde!