Hoor wat sê Spreuke 25:16 – “As jy op heuning afkom, eet net tot jy genoeg het; as jy te veel eet, word jy naar.”
Wat dink jy bedoel die beeld wat Spreuke hier gebruik? Kan te veel van ‘n goeie ding ook sleg wees? Natuurlik! Partykeer voel dit nie vir ons so nie, en wil ons dit ook nie erken of raaksien nie, maar die realiteit is dat ‘n “goeie ding”, as dit te veel raak, ons lewens so kan oorheers dat dit maak dat ander dele van ons lewens skade lei. So werk dit met die liefde ook! Dit is die lekkerste en beste ding wat die Here kon gemaak het. Maar net soos wat te veel heuning vir jou sleg is kan ons in verhoudings ook so gefokus raak op die verhouding dat ons die res van die lewe se belangrike sake begin afskeep. Daar is soveel verhale van mense wat so ernstig oor ‘n liefdesverhouding (of die soeke daarna!) geraak het dat hulle later net te veel verloor het net om die verhouding te behou. Pasop dat jy nie al die goeie in die lewe mis omdat jy te veel van ‘n een goeie ding wou hê nie.