LIEFDE – Bou eers die fondasie!

In Hooglied 2:7 sê Salomo hierdie woorde:

“moenie die liefde wakker maak en aanvuur
voor die tyd daarvoor ryp is nie.”

Watter nadeel lê daarin om die liefde te gou wakker te maak en aan te vuur? Sterk geboue het sterk fondasies.  So moet die fondasie  in ‘n verhouding ook eers behoorlik gelê word voordat ons die mure kan bou.  Dit is belangrik dat jy jou verhouding sal kans gee om natuurlik te groei en nie die kar voor die perde span nie.  Moenie te gou ernstig raak in jou verhouding net omdat ander mense druk op jou sit of omdat dit is hoe verhoudings volgens die TV “moet” lyk nie.  Wees geduldig!  As jy in die eerste week van die verhouding alreeds begin praat van trou en wat julle kinders se name gaan wees moet jy rooi ligte sien.  Vra jouself af waarop is julle verhouding gebou of as jy nie nou in ‘n verhouding is nie – waarop wil ek hê moet my verhouding eendag gebou wees?  As jy al die ekstras uit die verhouding wegvat moet daar nog iets wees wat niemand van jou af kan wegvat nie – Vriendskap!  Leer mekaar eers behoorlik ken en word beste vriende – dit is al genoeg van ‘n uitdaging en ook bring genoeg vreugde – voordat julle begin om dinge te doen wat ernstige emosionele letsels los of maak dat jy vriendskappe vernietig.