Die volgende uitstaande kenmerk van die Huttefees was die offers wat die volk moes bring. Veral die groot hoeveelheid daarvan! Van al die feeste was hierdie fees die grootste en daarom was daar ook by verre meer offers by hierdie fees gebring as by enige ander fees. Gaan lees gerus Numeri 29:12-40 wat die omvang van die offers vir die fees beskryf.
Sulke offers voel vir ons vreemd en primitief, maar het die volk gehelp om te onthou wil hul God is en hoe Hy met hulle in verhouding wou staan. Deur die offers het hulle vir die Here dankie gesê vir alles wat Hy vir hulle voorsien. Hulle het ook daardeur bely dat Hy die bron van alles is – dat alles wat hulle het van God af kom en aan Hom behoort. Hulle het verstaan dat daar ‘n plaasvervanger in hul plek moes sterf vir hul sondes. As ons dit verstaan dan begin ons beter begryp hoe die Here Jesus se opoffering gewerk het.
Dit is interessant om te sien dat al die offers soos Numeri dit beskryf, op ‘n manier by die getal 7 uitkom. Sewe is simbolies vir volbring/perfek/volmaak en 70 was simbolies vir al die nasies. Die Fees was bedoel om die perfekte fees te wees, tot eer van die Perfekte God wat in alles voorsien. Die einde van die seisoen en einde van die jaar. Die offers was ook bedoel dus om alle volke in te sluit en vorentoe te kyk na die dag dat al die volke die Huttefees sal vir en elke knie sal buig voor die Here.
Dit bring Jesus se offer aan die kruis nog beter in perspektief – Hy bring een, finale, ewige en perfekte offer!
As ons na die omvang van die offers by hierdie fees kyk en onsself indink hoe groot operasie dit moes wees om al hierdie offers te bring, dan kan ons tog nie anders as om ons eie uitdrukkings van dankbaarheid en feesvieringe te ondersoek en te toets nie.
Doen ons genoeg om vir die Here dankie te sê? Leef ons werklik in die wete dat alles wat ons het – geld, goed, familie, kinders, gesondheid, alles – kom van Hom af en behoort eintlik nog al die tyd aan Hom? Hoe lyk ons dankbaarheid op ‘n daaglikse basis? Hoe lyk ons eredienste en spesiale dienste? Dalk het dit tyd geword dat ons regtig koppe bymekaar sit en op ‘n gereelde basis ‘n manier vind om dankie te sê – op ‘n manier wat nie net die Here se voorsiening behoorlik eer nie, maar ter selfde tyd ‘n getuienis is vir die wêreld dat daar net Een bron van alles is van Wie ons alleen afhanklik is!
Gebed: Vra die Here om jou te help dat jou dankbaarheid nie net by woorde sal bly nie, maar sigbaar sal word in jou aksies – in die manier hoe jy werk met dit wat die Here vir jou gegee het. En bid groot asseblief elke dag nog vir reën.