Lofoffer 2019 – Dag 1

Dis Lofoffermaand en ons dink bietjie na oor waaroor ons alles vir die Here dankie sê en oor hoe ons dankbaarheid behoort te lyk. Hoe wys ons vir die Here dat ons werklik dankbaar is? Dit kan tog nie net ‘n aangeplakte of ‘n geforseerde dankie, met bybedoelings wees nie. Dit kan tog ook nie halfhartig en sommer net ‘n nagedagte aan die einde van ons gebede wees nie.

Juis daarom staan ons vir hierdie jaar se Lofoffer bietjie stil by die ‘Sukkot-Fees’, die ‘Fees van die Tabernakels’ of ‘Huttefees’.  Ons gaan by hierdie Bybelse fees so ietsie leer van hoe ‘n dankbaarheidsfees lyk en in die proses weer ‘n paar nuwe dinge ontdek oor ons verhouding met die Here. Of eerder: sy verhouding met ons!

Die Fees kry ‘n paar verskillende name en kry die volk die opdrag om die fees te vier in Levitikus 23:42-43:

“Sewe dae lank moet julle in hutte woon, alle gebore Israeliete moet dan in hutte woon. Die doel daarmee is dat julle nageslag moet weet dat Ek die Israeliete in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipte laat trek het. Ek is die Here julle God.”

Hier leer ons die fees dan ken as die Sukkot – sukkot beteken ‘tabernakels’ of ‘hutte’. Die klem val hier op ‘n tydelike struktuur wat maklik afgebreek en saam op reis geneem kon word en weer maklik opgeslaan kon word. (Ons kan maklik hiermee identifiseer, ons ken mos van tente en kamp!)

Met die opdrag om tydens die fees in hierdie tabernakels te bly wou die Here die volk herinner aan die feit dat hulle daar in die woestyn geswerf het en dat Hy nie net daar in hulle behoeftes voorsien het nie, maar dat Hy ook in die Tent van ontmoeting, in die Tabernakel en in die wolk- en vuurkolom by die volk teenwoordig was.

So moes die mense onthou dat hulle van God alleen afhanklik is. Dat Hy die bron van alles is. Alles wat ons het kom uit sy Hand. So herinner dit ook die volk aan die feit dat die Here hulle uit Egipte, deur die woestyn na die beloofde land, ‘n vaste vesting, gelei het en dat ook dit net genade van Bo is. Hulle onthou dat die lewe hier op aarde maar kortstondig en kwesbaar en tydelik is en dat hierdie nie ons permanente woning is nie, maar ons finale bestemming by God is.

Hierdie fees word vandag nog in die Joodse gemeenskap gevier, maar nie heeltemal soos dit was in die Bybelse tyd nie. Maar mens kan nog tydens die fees die Sokkot/Tabernakels/Hutte te sien kry waar mense hulle etenstye deurbring en ander nooi om saam met hulle in hierdie tydelike strukture te kom eet.  Die strukture word doelbewus so gebou dat die dak nie al die son of reën uithou nie en mens nog ‘n sterretjie deur die dak sou kon sien. So kan hul onthou dat die Here die voorsiener van alles is.

Ons kan baie uit hierdie gebruik leer en dalk is dit nodig dat ons ook so bietjie uit ons normale gemaksone uitklim en vir ‘n oomblik weer nadink oor ons eie afhanklikheid van God. As ons weer opnuut kan ontdek en onthou dat alles wat ons het en alles wat ons is van Hom af kom, dan kyk ons dalk met nuwe oë na dit wat ons het en kan ons dan nie anders as om meer en meer en meer vir die Here te wil dankie sê nie.

Ek wil jou uitnooi om juis dit te doen en êrens ‘n tydjie af te knyp en so rukkie in ons eie sukkah daar op die kerkterrein te kom sit. Kom eet jou middagete daar of breek net bietjie weg uit die gejaag van die lewe. Kom spandeer tyd om met die Here te praat en na te dink oor alles waarvoor jy kan dankbaar wees.

Gebed: Kom ons as gemeente vat hande tydens hierdie Lofoffermaand om die Here te loof vir alles wat ons het en vir sy voorsiening en teenwoordigheid, maar kom ons vat ook hande om voor die Here te buig in afhanklikheid en daagliks te bid vir reën vir ons land.