Die derde groot element is ook die een waar die fees sy naam vandaan kry – die tabernakels. Ons lees in Nehemia 8 waar die volk weer die fees opnuut begin vier het na hulle terugkeer uit ballingskap:
“Die mense het die takke gaan haal, en elkeen het vir hom ‘n hut gebou, op die dak van sy huis of in sy binneplaas of in die voorhof van die tempel of op die plein by die Waterpoort of op die plein by die Efraimspoort.”
Kan jy jou hierdie toneel indink – oral waar jy kyk is daar so ‘n hut/sukkah/tabernakel gebou! ‘n Sigbare, publieke teken van gehoorsaamheid en toewyding aan God. Wat gebeur in ons kultuur as ons op so sigbare manier begin om ons toewyding aan die Here te wys – meer as om net op ‘n Sondag die erediens by te woon?
Voorskrifte vir die bou van die tabernakels het later in die Joodse kultuur ontwikkel: dit moenie onder ‘n boom gebou word nie, want mens moet die blou lug of die sterre deur die dak kon sien. So mag die blare en takke op die dak ook nie te dig wees nie sodat daar nog bietjie reën sou kon deur kom en die son nie heeltemal uitgeblok sou word nie. Die rede vir hierdie voorskrifte was om die tydelikheid van die skuiling te beklemtoon, maar ook die tydelikheid van die mens se aardse woning.
Dit moes die mens herinner aan die swerwinge in die woestyn en dat die Here daar was en daar voorsien het. Hulle moes onthou dat die Beloofde land, die land van melk en heuning, ook nie hul finale bestemming was nie, maar dat hulle daar nog van God afhanklik was en dat hulle finale bestemming by Hom is.
Die Here wil hê dat sy kinders nie gemaklik moet raak wanneer dit goed gaan en dan eers wanneer dit sleg gaan na Hom toe terughardloop vir hulp nie. Hy wou hê hulle moet onthou dat alles wat hulle het uit sy Hand kom.
Die volk moes onthou dat die Here hulle uit slawerny bevry het. Hulle moes onthou hoe die Here vir hulle voorsien het van water en kos in die woestyn. Hulle moes onthou dat Hy elke tree by hulle teenwoordig was – in die vuur- en die wolkkolom. Hy wou hulle oor en oor herinner aan sy voorsiening en sy teenwoordigheid.
In die woestyn was die Tabernakel, die Tent van Ontmoeting, die beste bewys en herinneringsteken van God se teenwoordigheid. Hierdie gedagte van “God wat onder mense kom woon” word in Jesus nog meer tasbaar en sigbaar as Hy self onder mense kom “tabernakel”:
“Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.” (Johannes 1:14)
Gebed: Dank die Here vandag spesifiek vir sy teenwoordigheid en voorsiening in jou eie lewe, maar ook dat Hy onder ons kom woon het en een van ons geword het! Ons dank die Here vir ‘n bietjie verligting van die hitte en die sagte druppels, maar hou aan om Hom te vertrou vir genoeg reën om hierdie droogte om te keer en die weervoorspellers verslae en verbaas te laat.