Die derde naam waarmee die Huttefees bekend gestaan het was om daarna te verwys net as “Die Fees”. So groot en bekend en belangrik was die fees dat, as mense gesê het hulle is oppad na “Die Fees” toe, dit nie eers nodig was om vir iemand te vra watter fees hulle bedoel nie.
Die Fees was so groot dat Salomo dit ook gebruik het as die geleentheid om die Tempel in te wy in 1 Konings 8:
“En al die manne van Israel het by koning Salomo op die fees vergader in die maand Étanim, dit is die sewende maand. En terwyl koning Salomo en die hele by hom vergaderde gemeente van Israel saam met hom voor die ark staan, het hulle kleinvee en beeste geoffer wat vanweë die menigte nie getel of bereken kon word nie.”
Hierdie fees was jaarliks die grootste partytjie van die jaar en is die fees (van die drie Pelgrimsfeeste) wat die beste bygewoon is. Dis die einde van die jaar, al die werk is gedoen, die oes is ingesamel – dit was tyd vir feesvier en rus en dankbaarheid.
“Die Fees” is sterk gekenmerk deur groot groepe mense wat in blydskap dans en, soos ons later sal sien, groot parades gehou het as deel van die mense se uitbundige dankbaarheid. Dit is iets wat dalk vir ons vreemd is, maar hier sien ons dat hulle lof aan die Here alles behalwe passief was.
‘n Baie belangrike en onmisbare deel van “Die Fees” was juis dat dit ‘n pelgrimsfees was waarheen mense moes “opgaan”. Mense moet reis na Jerusalem om daar in die teenwoordiheid van die Here in die Tempel die fees te vier. Die fees wou die volk leer dat ware aanbidding gepaard gaan met op reis wees. Op reis saam met God en met mense. Die Here wou hê dat sy volk uit hulle normale roetines, wat mens se aandag kan steel, moes uitklim en op reis gaan om by Hom te wees.
As mens die omvang van “Die Fees” so bietjie begin raaksien dan laat dit mens wonder oor ons eie feeste en ons eie dankbaarheid. Hoe reflekteer ons vandag iets van die grootheid van hierdie fees? Dalk moet die fokus van ons feeste, ons rustye, ons vakansies, ons partytjies so bietjie verander – na Hom wat die bron van alles is en die bron van ware rus is.
Mag jy regtig dans met blydskap oor al die seëninge van die Here. Mag jy op jou reis saam met Here tyd kry en geleentheid skep in jou daaglikse lewe om bewus te raak van sy teenwoordigheid en saam met jou reisgenote sy lof te bring.
Gebed: Ons bid nog elke dag vir reën, dat dit wyd en ver en lank sal val. Maar ons loof ook die Here vir die reën wat gister geval het! Vra die Here vandag om jou help om raak te sien dat jy rede het om te dans.