TakTiek is die plek om te wees! Maar dit is meer as 'n plek - dit is 'n gevoel, 'n belewenis, 'n veilige tuiste. Dit is groei, dit is vloei. Dit is jouself wees, maar vernuwe. Dit is vrae vra en hart oopmaak. Dit is sing en spring en speel en lag. Dit is alles gee en alles kry. Dit is vertel en gesels en leerken en stukkend wees en heel word. Dit is bedoel vir jou!
Mag hierdie Geloof-journey vir jou laat groei, al nader en nader aan die Here.
Hierdie jaar gaan ons saam Markus lees. So loer gereeld hier in vir die nuutste resources soos wat ons reis deur Markus.
Taktiek Kamp 2-3 Februarie 2024
TakTiek maats!
Ek hoop jy is reg vir aksie, want die kamp is om die draai! Hier kom ‘n ding!
Lees die volgende info alles mooi, noukeurig deur dat jy nie êrens iets mis nie:
PLEK: Ons kamp by Komunati Lodge. Dis net buite die dorp, om die draai!
TYD & VERVOER: Almal moet groot asseblief alreeds 15:00 (3 uur) Vrydagmiddag 2 Februarie, by die kerk wees. Ons ry van daar af saam. As pa of ma kan help om ‘n maatjie of 3 saam in die kar te laai sal dit great wees. So reël asb. saamry onder mekaar. Die kamp hou aan tot Saterdag 3 Februarie tot 11:30 wanneer ons weer by die kamp vertrek.
KOSTE: Die hele naweek met al die pret en al die lekker kos wat ons gaan vreet (en glo my ons gaan VREET!) gaan jou net R150.00 kos. What a bargain!
INSKRYWINGS: Maak asseblief seker dat jou vorm en jou kampgeld teen Woensdag 31 Januarie 2024 reeds ingegee is. Dit gaan al die reëlings darem baie makliker maak. Nou-nou koop ons te min kos en dan ly jy honger, so maak seker jou plek is geboek!
[DOWNLOAD DIE INSKRYWINGSVORM HIER]
Jy kan jou kampgeld in die Kerk se rekening inbetaal met verwysing [JOU NAAM] Kamp. Jou vorm kan jy email na kamp@weskerk.co.za of sommer WhatsApp vir Stephanie by 076 718 8348.
Bankbesonderhede:
NG Gemeente Ellisras-Wes
ABSA Tjekrekening
Nommer: 1470 590 145
Hier is ‘n lysie van als wat jy moet saambring:
- Bybel, papier en pen
- Gemaklike klere
- Iets warms (dit is Ellisras, maar net vir ingeval dit koud is!)
- Gemaklike skoene en tekkies
- Toiletware en ‘n handdoek
- Kussings, kombers, slaapsak
- Eetgerei
- Flits
- Een pakkie koekies/beskuit (dit is vir ons almal se coffee breaks)
- Biltong vir die dominee 😉
Hoop jy is net so opgewonde oor die kamp soos ek. Moenie vergeet om jou inskrywingsvorm betyds in te handig nie!
Sien jou daar!
TakTiek Markus Bybel Boekie
Jy kry jou eie TakTiek Markus Bybel Boekie waarin jy kan notas maak en prayer journal hou. Maar jy kan hom ook hier lees of download dan het jy hom by jou op jou foon en kan hom enige plek lees en net aangaan waar jy opgehou het.
Markus 1:1 – Evangelie
Markus se “ooggetuie verslag” oor Jesus se lewe begin eenvoudig:
“Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só:” – Mark 1:1
Dit klink soos ‘n baie eenvoudige inleidende sin met woorde wat vir ons baie bekend klink. Vir die eerste lesers/hoorders van hierdie vers was die woorde ook bekend, maar dit was vir hulle woorde wat hulle oë moes laat rek het, hulle ore laat spits het, en hulle harte vinniger laat klop het.
Evangelies was deur die Keiser afgekondig – dit was koninklike dekrete wat goeie nuus aangekondig het. In daardie tyd was Nero die keiser en was sulke goeie nuus dekrete maar skaars. Verder het Nero (en ander keisers) ook homself as “die seun van god” en god self gesien.
So wanneer Markus hier sê dat Jesus die Seun van God is en dat Hy ‘n dekreet uitvaardig, maak hy ‘n baie sterk politieke stelling teen Rome en teen die keiser. Hy sê daardeur nie net dat hier kom goeie nuus nie, maar dat hierdie goeie nuus van die WARE Koning af kom. Die Koning wie se Koninkryk anders lyk as die Romeinse Ryk.
Dit moet ons laat besef dat die Evangelie werklik uitdagend is. Dit is uitdagend vir hulle wat dit hoor, omdat dit vir elkeen vra: wie is jou koning? Maar ook vir elkeen wat die Evangelie glo is dit ‘n uitdaging om met woord en daad te verkondig dat Jesus Koning is.
Die Goeie Nuus wat Jesus bring is van ‘n Koninkryk wat anders werk as aardse koninkryke en Hy roep ons om ons lewens te leef in sy Koninkryk onder sy Heerskappy.
Dink na oor jou eie verstaan van die konsepte van “evangelie”, “Seun van God” en “Koningskap”. Ons verstaan van Markus 1:1 en van hierdie konsepte gaan ‘n bepalende rol speel in hoe ons die res van die boek verstaan.
Luister ook gerus na hierdie week se preek [HIER].