TakTiek is die plek om te wees! Maar dit is meer as 'n plek - dit is 'n gevoel, 'n belewenis, 'n veilige tuiste. Dit is groei, dit is vloei. Dit is jouself wees, maar vernuwe. Dit is vrae vra en hart oopmaak. Dit is sing en spring en speel en lag. Dit is alles gee en alles kry. Dit is vertel en gesels en leerken en stukkend wees en heel word. Dit is bedoel vir jou!
Mag hierdie Geloof-journey vir jou laat groei, al nader en nader aan die Here.
Hierdie jaar gaan ons saam Markus lees. So loer gereeld hier in vir die nuutste resources soos wat ons reis deur Markus.
Markus 6:30-44 – Fees van die Lewe
Gelukkig eindig die verhaal nie by die grusame gebeure rondom Herodes se tafel daar in Markus 6:17-29 nie. Maar ons moet ook nie daardie gebeure in isolasie sien nie. Markus vertel hierdie twee verhale opsetlik direk na mekaar. Hy wil weer vir ons die kontras tussen die koninkryke van die wêreld en die Koninkryk van God, wat Jesus kom aankondig, uitwys.
By Herodes se fees is daar selfsug en magsug en uitbuiting en moord aan die orde. Jesus vier fees saam met duisende mense in die wildernis, maar daar is rus en versorging, liefde en aanvaarding aan die orde.
Die gesprek begin eintlik by vers 14-16 waar die vraag oor wie Jesus dan nou eintlik is op die tafel kom. Ook Herodes het gewonder wie Jesus kan wees, en kom tot die gevolgtrekking dat Hy moet Johannes die Doper wees wat uit die dood opgestaan het. Maar Jesus kom wys daar op die afgeleë plek dat Hy nie ‘n profeet is wat terugkeer nie, maar dat Hy God self is wat vir sy mense sorg.
Jesus en sy dissipels gaan na ‘n “afgeleë plek” toe. Woorde wat Markus baie mooi kies. Dit kan ook vertaal word met wildernis of woestyn. Daar in die wildernis is dit egter nie so stil soos wat hulle gehoop het nie, omdat duisende mense hulle ingewag het. Maar die Here Jesus is besig om hierdie toneel op te stel om iets groots oor Homself te openbaar. Hierdie duisende mense is, net soos die wat moes toekyk hoe daar met kos gemors word aan Herodes se tafel, ook randfigure, uitgelewerdes. Jesus self beskryf hulle as “skape sonder ‘n wagter” en Hy het hulle innig jammer gekry.
Hierdie woorde herinner dadelik aan Numeri 27:16-17 waar Moses vir die Here sê: “Dan moet U, Here, God wat aan alle mense die lewe gee, iemand oor hierdie volk aanstel wat vir hulle ‘n leier en aanvoerder kan wees sodat die volk van die Here nie soos skape sonder wagter sal wees nie.”
Jy sien, Jesus is besig om die stukke op die bord te plaas… Nou kom die dissipels na Jesus toe en hulle is (in hulle onkunde) bekommerd oor hoe hulle vir al hierdie mense gaan kos gee. Dan doen die Here die wonderwerk van die vermeerdering van die brood en is daar genoeg vir almal om te eet en nog wat oorgebly het. ‘n Spesifieke getal word oorvloed. Vyf brode en twee visse. Vyf plus twee is 7 – die getal van God. Markus wil vir ons wys dat dit God is wat hier aan die werk is. Twaalf mandjies vol bly oor – 12 is die getal van God se mense. Twaalf dissipels deel dit uit en maak dit bymekaar.
Sien jy wat hier aan die gang is? Dieselfde God wat in Eksodus daar in die woestyn sy mense met brood uit die hemel gevoed het, is dieselfde God wat nou sy mense hier in die wildernis voed met genoeg om te eet. Jesus is God! Dit is sy antwoord op die vraag oor sy identiteit in 6:14-16! Ons Koning is nie soos die konings van die wêreld nie, en juis daarom verdien Hy al die lof en al die eer tot in ewigheid.
Wat ons ook nie moet miskyk nie, is hoe die Here hierdie wonderwerk deur sy dissipels se hande doen. Jesus se sorg vir sy mense gebeur deur sy dissipels. Hy neem dit wat hulle het en maak dit meer as genoeg. Dit is hoe die Here ook met sy Kerk werk, met jou en my, in ons en deur ons werk. Bring wat jy het, en God maak dit meer as genoeg vir sy Koninkryk!
Markus 4:21-34 – Wie ore het moet luister
Direk ná Jesus se verduideliking van die Gelykenis van die Saaier kry ons nog 3 kort gelykenisse. Gewoonlik lees en bedink ons hulle in isolasie en probeer elkeen apart analiseer om uit te vind wat hulle vir ons sê. Maar as mens mooi kyk na die verloop van die gesprek in Markus (eintlik al van hoofstuk 3 af) dan kom mens agter dat hierdie 3 gelykenisse baie meer met mekaar in gemeen het, en ook met die voorafgaande gelykenis. Jesus brei uit op die boodskap van en sy verduideliking van die Gelykenis van die Saaier – dit gaan eintlik nog al die tyd oor “luister”.
Die eerste gelykenis stel Jesus ‘n vraag oor die opsteek van ‘n lamp. Dit was redelike moeite om ‘n lamp aan te steek in daardie tyd. Daar was nie vuurhoutjies om te trek nie. Daarom is die antwoord op Jesus se vraag voor die hand liggend – niemand sou al daai moeite doen en dan ‘n erdekruik omdop om die lig weg te steek nie. Jesus brei uit op hierdie idee en sê dat dit wat geheim is moet aan die lig kom en openbaar word. Jesus en sy Boodskap kan nie uitgedoof word nie. Hierdie geheim van die Koninkryk word geopenbaar aan die wat vra na meer, aan die wat moeite doen om na Hom te luister. Daarom sê Jesus “As iemand ore het en kan hoor, moet hy luister!” in vers 23.
Die volgende vers begin dan weer met: “Gee aandag aan wat julle hoor!” Dit gaan nog heeltyd oor luister! Dan hoor ons Jesus se woorde dat vir die wat het sal meer gegee word en die wat nie het nie, van hom sal die bietjie wat hy het weggevat word. En as ons dit buite konteks lees, dan kan dit ons vreeslik bang en deurmekaar maak. Maar as ons besef dit gaan oor die maat waarmee ons luister dan besef ons dat vir hulle wat aanhou om die moeite te doen om na God te luister sal Hy sorg dat ons meer kan verstaan Wie Hy is en wat Hy doen – toegevoeg word. Hulle wat kies om nie te luister nie, sal al minder verstaan wat God doen – wegvat.
Jesus gaan dan verder om te verduidelik wat gebeur wanneer ons uit die vrug van hierdie luister leef (soos wanneer die saad op die goeie grond val) – daar is vrug, en dit is God wat die wat luister laat groei. Bo verwagting en selfs teen die oormag wat hulle wil onder kry kan die gemeente daar in Rome aanhou groei as hulle aanhou om te luister na die Here.
Dan vergelyk Jesus sy Koninkryk met ‘n mosterdsaadjie – met onkruid wat alles oorneem. Ook daar waar die gemeente in Rome klein en bedreig is en onwelkom is kan hulle weet dat God hulle laat groei. Sy Koninkryk is onkeerbaar!
Met hierdie gelykenisse vertel Jesus vir ons wat die vrug daarvan is wanneer ons na Hom luister, vra na sy Wil, meer van Hom soek. Mens kan amper nie anders nie as om te dink aan die liedjie “Lees jou Bybel, bid elke dag, en jy sal groei, groei, groei!” Wanneer ons begin om te leef uit dit wat ons by die Here hoor dan begin ons groei in ons verhouiding met Hom. Wanneer ons groei, groei sy Koninkryk.
Markus 4:1-20 – Die Gelykenis van die Saaier
Hier aan die begin van Markus 4 kondig ons skrywer aan dat hier nou ‘n klompie gelykenisse op mekaar gaan volg. Wanneer Jesus dan begin met die opdrag, “Luister hier!” dan geld dit ook vir die ander gelykenisse wat hierna volg.
Die saad wat die saaier in die gelykenis saai val op verskillende plekke, wat vir ons vreemd klink. ‘n Mens ploeg mos die land, berei die grond voor en saai daar waar jy bedoel het om te saai. In daardie tyd het die boere egter meestal dit anders om gedoen – hulle het eers gesaai en daarna die saad in die grond ingewerk.
Op die harde pad kry die voëls die saad voor dit kan ontkiem. Op die klipbanke is daar ‘n dun lagie grond, maar die wortels kan nie by die water uitkom nie en verdroog. Tussen die onkruid is daar wel groei, maar geen vrug nie. Op die goeie grond is daar vermenigvuldige groei – veel meer as wat die mense in daardie tyd aan gewoond was.
Markus vertel vir ons dat daar ‘n klein groepie was wat gehoor gegee het aan Jesus se oproep om te luister (v. 9) – hulle wou méér weet, meer hoor, meer luister. Dit is die mense in sy binnekring, wat meer begin leer van God se Koninkryk. Vir die wat buite staan haal Jesus aan uit Jesaja 6 – hulle wat die Woord hoor maar kies om nie te luister nie. Kies om nie hul rug te draai op die Romeinse ryk en in ‘n herstelde verhouding met God in sy Koninkryk te wil leef nie. Maar nietemin word die saad dáár ook gesaai.
Die een wat saai is elkeen wat die boodskap van die koms van die Koninkryk verkondig. Jesus verduidelik dat dit sy teenstanders is wat die woord by mense wegvat. Markus sê duidelik wie Jesus se teenstanders is, o.a. die Skrifgeleerdes wat Jesus se werk ongedaan probeer maak. Dan sê Jesus is daar ook mense wat baie opgewonde raak oor die woord, solank dit nie moeite is nie. Sodra hulle swaarkry gee hulle moed op. Ook is daar mense wat doodeenvoudig nie tyd het vir die woord nie. Daar is net te veel ander dinge wat belangrik is, so om tyd in te sit om te groei in ‘n verhouding met God is net nie op die kaarte nie.
Daar is gelukkig ook goeie grond – mense wat graag in ‘n verhouding met God wil leef en vanuit daardie verhouding groei en leer wat dit is wat vir God belangrik is. Mense groei verskillend en dra verskillende vrugte, en dit is harde werk, maar in ‘n verhouding met God is die vrug nog steed bo verwagting.
Markus wil vir sy lesers – die vervolgde gemeente in Rome – sê dat hulle ook deel van die goeie grond kan wees. Al is daar soveel uitdagings en dinge wat teen hulle tel, hulle kan groei in hul verhouding met God. Dat hulle deel is van God se binnekring en dat hulle ook, soos die mense by Jesus, kan vrae vra en dat hulle by Hom antwoorde sal kry.
Dit roep ons ook op nie, nie net om ook saaiers van die woord te wees nie, maar ook om die goeie grond te wees en te groei in ons verhouding met God.