TakTiek is die plek om te wees! Maar dit is meer as 'n plek - dit is 'n gevoel, 'n belewenis, 'n veilige tuiste. Dit is groei, dit is vloei. Dit is jouself wees, maar vernuwe. Dit is vrae vra en hart oopmaak. Dit is sing en spring en speel en lag. Dit is alles gee en alles kry. Dit is vertel en gesels en leerken en stukkend wees en heel word. Dit is bedoel vir jou!
Mag hierdie Geloof-journey vir jou laat groei, al nader en nader aan die Here.
Hierdie jaar gaan ons saam Markus lees. So loer gereeld hier in vir die nuutste resources soos wat ons reis deur Markus.
Markus 3:20-35 – Die Ware Familie
Wanneer Markus hier in hoofstuk 3 na Jesus se familie verwys sluit dit lede van sy breër familie in. Hulle het gedink sy optrede is onvanpas omdat Hy te veel aandag trek in die openbaar. Deur hierdie skares van mense te trek het Jesus se familie beweer dat Hy hulle in die skande steek. Hulle het, volgens hulle oordeel, geen ander keuse gehad as om sy optrede in die openbaar af te keur. Hulle het gemeen Hy is buite Homself.
Die Skrifgeleerdes se verduideliking is dat Jesus eerder Beëlsebul se handlanger is en dat dit met sy krag is wat Jesus wonders doen. Daarmee verlaag hulle sy posisie op die gesagspiramide. Hulle kan nie sien dat Hy God is wat heelbo aan die piramiede staan nie. Hulle dink Hy is maar net een van die heilige manne wat onder die demone en engele staan. Hulle tas Jesus se eer aan.
Jesus verdedig egter sy eer deur vir hulle te wys dat hulle redenasie onlogies is. Die bekende uitdrukking in vers 24-25 help ons: “As ‘n koninkryk onderling verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie; en as ‘n huisgesin onderling verdeeld is, sal daardie huisgesin nie kan bly staan nie.” Hoe kan die demone met die hulp van die aanvoerder van die demone uitgedryf word? Nee, Een wat sterker is as hy, is die een wat die mag het om af te reken met die demone. Hy bind die bose vas (v. 27).
Dan hoor ons hierdie harde woorde van Jesus in vers 29: “Wie egter teen die Heilige Gees laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie maar bly ewig skuldig aan die sonde.” Om teen die Heilige Gees te laster is soos om te maak soos die Skrifgeleerdes hier wanneer hulle Jesus as Baäl se handlanger uit te kryt – om God nie as God te erken nie. Dit is om intensioneel, aanhoudend, doelbewus teen God te draai.
In vers 31 verskyn Jesus se naby familie op die toneel. Mens kan sien dat die uitgebreide familie druk sit op hulle om iets aan die situasie te kom doen. Dan teken Markus vir ons ‘n baie duidelike prentjie van wie Jesus se ware familie is en wie sy teenstaanders is. Hulle wat by Jesus sit en meer van Hom wil weet en meer by Hom wil leer, húlle is Jesus se naby familie. Die wat gedink het hulle is familie, maar Jesus teenstaan, hulle staan buite. Vers 35 stel dit duidelik: “Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”
Die gemeente in Rome het al te goed geweet wat dit beteken om buite te staan. Om as teenstaanders gesien te word. Hulle is ook deur hulle familie verwerp omdat hulle in Jesus glo en, soos Jesus, daarvan beskuldig dat hulle van hulle koppe af geraak het. Maar Jesus kom herdefinieer wat dit beteken om in God se familie te wees. Die gemeente in Rome vir wie Markus skryf (en ons!) kan troos vind in die feit dat ons deel is van God se familie. Dit roep ons ook op om by Hom te kom sit, om meer van Hom te leer, meer soos Hy te wil word, en meer besig te raak met dit waarmee HY besig is.
Markus 3:7-19 – Aanraking en Aanstelling
Gewoonlik het mense nie vreeslik baie rondgereis in Jesus se tyd nie. Dit was ‘n duur en ‘n moeilike oefening. Mense sou hul hulpbronne gespaar het om eerder die belangrikste reise aan te pak – soos die pelgrimsreise om tempel toe te gaan wanneer die Wet van die Here dit van hulle vereis het. Maar nou hier in Markus 3 lees ons dat die mense van oral oor gereis het om na Jesus toe te kom. Hier gebeur iets wonderliks – soos wat die mense gewoonlik Jerusalem toe gereis het om in God se teenwoordigheid te kan wees, so reis hulle nou ook na Jesus toe en bevind hulleself in Kapernaum in God se teenwoordigheid.
As gevolg van die ongelooflike onderdrukking deur die Romeinse owerhede was daar ernstige armoede, haaglike omstandighede, en wanvoeding onder die mense. Dit het wyd verspreide siektes onder baie mense veroorsaak. Daarom dat daar so menigte mense was wat na Jesus toe gekom het opsoek na genesing. Wanneer Jesus hierdie mense gesond maak word die verskil tussen sy Koninkryk en die Romeinse Ryk baie duidelik sigbaar.
Die onrein geeste erken wie Jesus is. Hulle besef dat Jesus bo-aan die gesagspiramiede staan, want Hy is God. Maar op hierdie punt in die verhaal is dit vir Jesus belangrik dat mense nie nou die verkeerde idee moet kry nie. Hy weet dat sy identiteit vir die Keiser en vir die Joodse Leiers ‘n probleem gaan wees, en op die ou end tot sy dood gaan lei, maar dit kan nie nou sy koers ontspoor nie. Soos wat Markus vir ons gaan wys word Jesus se Ware Identiteit eers werklik openbaar wanneer Hy sterf aan die kruis. Eers dan kan die mense verstaan juis hoe Hy die wêreld en die Romeine kom oorwin – met liefde en nie met die swaard nie.
Jesus kies dan ook 12 dissipels om Hom te help om sy Koninkryk aan te kondig. Hierdie 12 is simbolies van God wat ‘n nuwe pad met mense kom stap. Soos wat Hy met Jakob se 12 seuns, die 12 stamme van Israel, ‘n verbond gesluit het, begin Hy nou iets nuuts en sluit ons almal daarby in. God sit sy pad voort my sy volk.
Hierdie 12 is nie spesiaal nie, hulle besit nie ‘n stel uitsondelike eienskappe wat hulle kwalifiseer om hierdie werk te doen nie. Dit is Jesus wat hulle MAAK wat hulle is. Hy is die Een wat hulle toerus en kwalifiseer vir die werk. So word ons ook ingetrek by die verhaal, word ons ook deel van God se pad met die mens, vorm ons deel van Jesus se span. Kyk hoe mooi is sy verhouding met die 12. Kyk wat gebeur met hulle wanneer hulle tyd met Hom spandeer. Daarvoor roep die Here ons ook!
Markus 2:23-3:6 – Here oor die Sabbat
Markus weef die verhaal meesterlik aanmekaar. Die vorige twee gedeeltes en die eerste perikoop in hierdie gedeelte word aan mekaar gebind met die tema van eet – Jesus eet saam met Levi (2:13-17), die vraag oor die vastyd (2:18-22), en nou die are pluk en eet (2:23-28). Markus koppel dit aan mekaar wanneer die volgende twee gedeeltes dan oorgaan na die tema van die sabbat.
Die Fariseërs daag vir Jesus uit oor sy interpretasie van die sabbatswette. Hulle (en ons!) het egter so gefokus geraak op die reëls rondom die sabbat dat hulle die punt van die sabbat totaal en al begin mis het. In Genesis 2:3 en Eksodus 16 kry ons die oorspronklike doel van die sabbat – dat die Here dit vir die mens gemaak het sodat ons kan rus en juis rus vind in Hom. Die Here Jesus bevestig dit in sy antwoord aan die Fariseërs in Markus 2:27 “Die sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbatdag nie.”
Die Here weet dat ons rus nodig het. Hy het ons so gemaak. Hy weet dat ons tyd nodig het om by Hom te kom rus en onsself gereeld weer aan Hom te bind. Ons het in ons pogings om “heilig” te wees, of om “die wet na te kom” dieselfde met Sondag gedoen as wat die Fariseërs met die sabbatdag gedoen het. In die proses het ons dit ook reggekry om meer bekommerd te wees oor alles wat ons nie mag doen nie as wat ons die tyd spandeer het om te groei in ons verhouding met die Here en weer by Hom rus te vind.
Jesus bewys sy punt in die volgende gedeelte wanneer die Fariseërs probeer om bietjie eer terug te wen deur Hom weer te probeer uitvang met die sabbatswette. Hulle wil sien of Hy iemand gaan gesond maak op die sabbatdag, maar Hy doen niks en maak nog steeds die man se hand gesond. Hy sê net vir hom: “Steek jou hand uit” en toe is die man se hand reeds gesond.
Waar die Fariseërs gefokus was op die nakoming van die reël, was Jesus gefokus op die welstand van die mens. Volgens hulle reëls mag Jesus nie iemand gesond maak op die Sabbatdag nie, maar hulle gaan direk daarna na die Herodiane om Jesus se dood te beplan. Hoe ironies!
Jesus, die Een wat die Sabbat ingestel het, loop saam met sy dissipels deur die gesaaides en maak seker hulle kry genoeg om te eet. Jesus, God self by Wie ons rus kan vind, wil met ons in verhouding staan, wil vir ons genesing en herstel bring. Hoe lyk ons weeklikse roetines? Getuig dit nog van mense vir wie tyd saam met God belangrik is? Getuig dit van ons vertroue op die Here wat vir ons sorg? Hoe lyk ons nakoming van die Wet van die Here – hou dit méér in as die van die Fariseërs? Groei ons nader aan God en nader aan mekaar in liefde?