TakTiek is die plek om te wees! Maar dit is meer as 'n plek - dit is 'n gevoel, 'n belewenis, 'n veilige tuiste. Dit is groei, dit is vloei. Dit is jouself wees, maar vernuwe. Dit is vrae vra en hart oopmaak. Dit is sing en spring en speel en lag. Dit is alles gee en alles kry. Dit is vertel en gesels en leerken en stukkend wees en heel word. Dit is bedoel vir jou!
Mag hierdie Geloof-journey vir jou laat groei, al nader en nader aan die Here.
Hierdie jaar gaan ons saam Markus lees. So loer gereeld hier in vir die nuutste resources soos wat ons reis deur Markus.
Markus 2:13-22 – Jesus Gesentreerd
In Markus 2:13-14 lees ons dat Jesus vir Levi (dis nou Matteus) roep om Hom te volg. Sonder enige vrae staan Levi op en begin om Jesus te volg. Net daarna lees ons dat Jesus by Levi se huis gaan eet het, saam met ‘n klomp ander sondaars. Hierdie situasie het die skrifgeleerdes vreeslik ontstel.
Hoe kan Jesus iemand soos Levi – ‘n tollenaar – roep om een van sy binnekring te word? Tollenaars het alles verteenwoordig wat verkeerd is met die wêreld. Hulle was die verpersoonliking van die Romeinse onderdrukking en hulle het boonop die belasting gehef wat die Jode so onderdruk het. Hulle is gesien as korrupte verraaiers. Nie naastenby, in hulle oë, iemand wat dit werd is om ‘n dissipel van ‘n Joodse Rabbi soos Jesus te word nie. En boonop gaan Jesus nog by Levi tuis en eet saam met hom en sy sondaar vriende.
Dit is hoe die Fariseërs en die skrifgeleerdes die wêreld beskou het. En ongelukkig hoe ons in die kerk ook baie keer maak. Dat daar ‘n sekere lysie van standaard eienskappe is waaraan mense moet voldoen en solank as wat jy nie daaraan kan voldoen nie, is jy ‘n buitestaander en bly jy buite! Jy is net ‘n Christen as jy aan al daardie vereistes voldoen. Hierdie manier hang af van die mens se eie vermoë en wilskrag om dit reg te kry om aan al die vereistes te voldoen.
Jesus kom wys egter ‘n nuwe manier. Hy kom vorm ‘n Jesus-gesentreerde gemeenskap rondom Hom. Hier gaan dit nie oor wat jy al reggekry het of hoe goed of hoe sleg jy was nie, maar gaan dit oor Jesus wat jou nooi om Hom te volg. Hy is in die middel. Wat jou identiteit bepaal is nie jou vermoë nie, maar eerder die rigting waarin jy oppad is. Is jy oppad nader aan Jesus, of verder van Hom af. Levi was vêr van Jesus af toe hy geroep is, maar daarna is hy oppad na Jesus toe. Judas was in die binnekring, naby aan Jesus, maar was duidelik oppad weg van Jesus af.
Volgens die godsdienstiges was dit wat Jesus gedoen het nie reg nie – om saam met sondaars en tollenaars te eet, en om nie te vas nie. Maar
Jesus verander mense se harte en daarom ook die rigting waarin hulle beweeg. Hy eet nie saam met sondaars om vir hulle te sê hy keur hulle sonde goed nie, Hy doen dit sodat hulle kan weet dat Hy hulle liefhet en kan reageer op sy uitnodiging om Hom die sentrum van hulle lewens te maak. Die sondaars en tollenaars weet dat Hy nie hulle sonde goedkeur nie, nie saam stem met hulle lewenstyl nie, maar tog wil hulle saam met Hom eet, naby aan Hom wees…
Die Fariseërs sê verander dan is jy in. Jesus sê kom volg my, kom nader… en dan kan jy nie anders as om nuut te wil word nie.
Waarmee is ons besig? Waarheen is ons oppad? Is dit wat ons doen Jesus-gesentreerd? Hoe is ons eie lewens en ons kerkwees ‘n weerspieëling van die manier hoe Jesus sy Koninkryk kom bou het?
Markus 2:1-12 – Vriende en Vergifnis
Terwyl Jesus (waarskynlik by Petrus se huis in Kapernaum) besig is om met die mense te praat oor die Koninkryk van God wat tot by hulle gekom het, word Hy van bo af onderbreek. ‘n Verlamde man se vriende het besluit hulle MOET hom net by Jesus uitkry sodat hy genesing kan kry. Die beste plan wat hulle kon maak om dit reg te kry is om ‘n gat in die huis se dak te breek en hul vriend deur die dak tot by Jesus te laat sak. Wat ‘n konsternasie!
Deur hierdie desperate poging wys hulle dat hulle op Jesus vertrou. Hulle sou nie so spektakel van hulleself gemaak het as hulle nie vir seker oortuig was dat Jesus hulle vriend sou kon genees het nie.
Maar Jesus reageer glad nie soos ons sou verwag nie. Eerstens maak hy nie ‘n bohaai oor die choas wat hulle veroorsaak en die skade wat hulle aanrig nie. Tweedens praat hy vir eers glad nie oor die verlamde se gebrek en daaropvolgende genesing nie. Nee, Jesus se eerste reaksie is om vir die verlamde man te sê dat sy sonde vergewe is. Dit laat mens wonder…
Maar deur by vergifnis te begin spreek Jesus nie net die verlamde man se groter nood aan nie, maar wys Hy ook Wie Hy werklik is. Sonde hier gaan nie oor ‘n lysie van dinge wat die man verkeerd gedoen het nie, maar eerder oor ‘n breuk in sy verhouding met God. Vir die mense daardie tyd was die feit dat hy verlam was nie net ‘n sigbare teken dat hy van God afgesny is nie, maar was dit ook in die praktyk so omdat hy nie by die tempel kon uitkom nie.
Wanneer Jesus dan sê dat sy sonde vergewe is, dan kom herstel Hy die verlamde man se verhouding met God. Maar hoe sal ‘n mens kan sien dat daardie verhouding herstel is as hy dan nog steeds verlam is? Deur die verlamde man dan te genees, is dit presies wat Jesus dan sigbaar bewys – dat Hy die mag het om sonde te vergewe.
Jesus maak nie net praatjies nie. Hy oortree nie op God se terrein deur mense te vergewe nie. Hy is God self! Hy praat en dit gebeur! Vêr van die tempel af, sonder ‘n priester, sonder ritueel, kom God self tot by mense en kom herstel die verhouding.
Dit bring ons by die vraag: wat GLO ons oor Jesus? Ons sê maklik dat ons in Hom glo, maar kyk wat het hierdie verlamde man se vriende se geloof gedoen. Dit wat hulle oor Jesus geglo het, het gemaak dat hulle oorgaan tot aksie. Hulle vertroue in Hom het gemaak dat hulle iets doen! Wat as ons geloof in Jesus, en dit wat ons glo oor Jesus ook meer as net persoonlike godsdienstigheid beteken, maar oorgaan tot AKSIE…
Markus 1:32-35 – Melaatsheid en Messiansheid
In Jesus se tyd was daar ander wonderdoeners in die omtrek. Hulle het hulself op spesifieke plekke gevestig sodat die mense kon weet waar om hulle op te soek. Vir ‘n oomblik het dit gelyk asof die dissipels vir hulself uitgewerk het dat Jesus ook so ‘n wonderdoener is en dit die rede is waarom die mense Hom die heeltyd opsoek. Jesus is egter anders, en méér as ‘n wonderdoener – Hy is God!
Ons sien ook dat Jesus nie op een plek bly sodat die mense weet waar om Hom te soek nie. Hy beweeg rond. Hy is God wat mense kom opsoek. So sien ons hoedat Jesus ook op ‘n afgeleë plek gaan bid het. Die mense moes op spesifieke, spesiale plekke bid om kontak met God te maak. Jesus is God wat kontak met mense kom maak.
Markus bewys weereens vir ons sy vorige stellings oor Jesus se identiteit. Jesus is waarlik God self wat onder ons kom woon het. Dit word verder bewys deur die daaropvolgende gebeure met die genesing van die melaatse man.
Om melaats te wees het beteken dat jy werklik van alles afgesny is. Ons ken die uitdrukking van om “melaats te wees/voel”. Maar dit kom van ‘n letterlike situasie af omdat mense met die siekte regtig uitgeworpenes was. Hulle was sosiaal en godsdienstig geisoleer. Hulle is as onrein gesien en enige kontak moes daarom streng vermy word. Hulle kon ook nie die tempel besoek nie en was daarom ook van God af afgesny.
Hierdie godsverlate, eensame mens kom kniel voor Jesus en smeek om genesing. En wat doen Jesus? Hy steek sy hand uit, raak aan hom en maak Hom gesond. Boonop herstel Jesus hom ook in die samelewing sodat niemand kan twyfel of hy werklik gesond is nie deurdat Hy hom stuur om die nodige offers te bring en almal kan sien dat hy nie meer van God afgesny is nie.
Ver van die tempel af en ver van God af (so het hy gedink!), staan God reg voor hom, raak hom aan en genees hom. Nie net van sy siekte nie, maar van sy onreinheid en sosiale en godsdienstige onaanvaarbaarheid.
Jesus is meer as net ‘n wonderdoener. Hy is God self wat kom genees, aanraak, herstel.