Markus 2:1-12 – Vriende en Vergifnis

Terwyl Jesus (waarskynlik by Petrus se huis in Kapernaum) besig is om met die mense te praat oor die Koninkryk van God wat tot by hulle gekom het, word Hy van bo af onderbreek.  ‘n Verlamde man se vriende het besluit hulle MOET hom net by Jesus uitkry sodat hy genesing kan kry.  Die beste plan wat hulle kon maak om dit reg te kry is om ‘n gat in die huis se dak te breek en hul vriend deur die dak tot by Jesus te laat sak.  Wat ‘n konsternasie!

Deur hierdie desperate poging wys hulle dat hulle op Jesus vertrou.  Hulle sou nie so spektakel van hulleself gemaak het as hulle nie vir seker oortuig was dat Jesus hulle vriend sou kon genees het nie.

Maar Jesus reageer glad nie soos ons sou verwag nie.  Eerstens maak hy nie ‘n bohaai oor die choas wat hulle veroorsaak en die skade wat hulle aanrig nie.  Tweedens praat hy vir eers glad nie oor die verlamde se gebrek en daaropvolgende genesing nie.  Nee, Jesus se eerste reaksie is om vir die verlamde man te sê dat sy sonde vergewe is.  Dit laat mens wonder…

Maar deur by vergifnis te begin spreek Jesus nie net die verlamde man se groter nood aan nie, maar wys Hy ook Wie Hy werklik is.  Sonde hier gaan nie oor ‘n lysie van dinge wat die man verkeerd gedoen het nie, maar eerder oor ‘n breuk in sy verhouding met God.  Vir die mense daardie tyd was die feit dat hy verlam was nie net ‘n sigbare teken dat hy van God afgesny is nie, maar was dit ook in die praktyk so omdat hy nie by die tempel kon uitkom nie.

Wanneer Jesus dan sê dat sy sonde vergewe is, dan kom herstel Hy die verlamde man se verhouding met God.  Maar hoe sal ‘n mens kan sien dat daardie verhouding herstel is as hy dan nog steeds verlam is? Deur die verlamde man dan te genees, is dit presies wat Jesus dan sigbaar bewys – dat Hy die mag het om sonde te vergewe.

Jesus maak nie net praatjies nie.  Hy oortree nie op God se terrein deur mense te vergewe nie.  Hy is God self! Hy praat en dit gebeur!  Vêr van die tempel af, sonder ‘n priester, sonder ritueel, kom God self tot by mense en kom herstel die verhouding.

Dit bring ons by die vraag: wat GLO ons oor Jesus?  Ons sê maklik dat ons in Hom glo, maar kyk wat het hierdie verlamde man se vriende se geloof gedoen.  Dit wat hulle oor Jesus geglo het, het gemaak dat hulle oorgaan tot aksie.  Hulle vertroue in Hom het gemaak dat hulle iets doen!  Wat as ons geloof in Jesus, en dit wat ons glo oor Jesus ook meer as net persoonlike godsdienstigheid beteken, maar oorgaan tot AKSIE…