Markus 1:32-35 – Melaatsheid en Messiansheid

In Jesus se tyd was daar ander wonderdoeners in die omtrek.  Hulle het hulself op spesifieke plekke gevestig sodat die mense kon weet waar om hulle op te soek.  Vir ‘n oomblik het dit gelyk asof die dissipels vir hulself uitgewerk het dat Jesus ook so ‘n wonderdoener is en dit die rede is waarom die mense Hom die heeltyd opsoek.  Jesus is egter anders, en méér as ‘n wonderdoener – Hy is God!

Ons sien ook dat Jesus nie op een plek bly sodat die mense weet waar om Hom te soek nie.  Hy beweeg rond. Hy is God wat mense kom opsoek.  So sien ons hoedat Jesus ook op ‘n afgeleë plek gaan bid het. Die mense moes op spesifieke, spesiale plekke bid om kontak met God te maak.  Jesus is God wat kontak met mense kom maak.

Markus bewys weereens vir ons sy vorige stellings oor Jesus se identiteit. Jesus is waarlik God self wat onder ons kom woon het.  Dit word verder bewys deur die daaropvolgende gebeure met die genesing van die melaatse man.

Om melaats te wees het beteken dat jy werklik van alles afgesny is.  Ons ken die uitdrukking van om “melaats te wees/voel”.  Maar dit kom van ‘n letterlike situasie af omdat mense met die siekte regtig uitgeworpenes was.  Hulle was sosiaal en godsdienstig geisoleer.  Hulle is as onrein gesien en enige kontak moes daarom streng vermy word.  Hulle kon ook nie die tempel besoek nie en was daarom ook van God af afgesny.

Hierdie godsverlate, eensame mens kom kniel voor Jesus en smeek om genesing.  En wat doen Jesus?  Hy steek sy hand uit, raak aan hom en maak Hom gesond.  Boonop herstel Jesus hom ook in die samelewing sodat niemand kan twyfel of hy werklik gesond is nie deurdat Hy hom stuur om die nodige offers te bring en almal kan sien dat hy nie meer van God afgesny is nie.

Ver van die tempel af en ver van God af (so het hy gedink!), staan God reg voor hom, raak hom aan en genees hom.  Nie net van sy siekte nie, maar van sy onreinheid en sosiale en godsdienstige onaanvaarbaarheid.

Jesus is meer as net ‘n wonderdoener. Hy is God self wat kom genees, aanraak, herstel.