Markus 2:13-22 – Jesus Gesentreerd

In Markus 2:13-14 lees ons dat Jesus vir Levi (dis nou Matteus) roep om Hom te volg.  Sonder enige vrae staan Levi op en begin om Jesus te volg.  Net daarna lees ons dat Jesus by Levi se huis gaan eet het, saam met ‘n klomp ander sondaars.  Hierdie situasie het die skrifgeleerdes vreeslik ontstel.

Hoe kan Jesus iemand soos Levi – ‘n tollenaar – roep om een van sy binnekring te word?  Tollenaars het alles verteenwoordig wat verkeerd is met die wêreld.  Hulle was die verpersoonliking van die Romeinse onderdrukking en hulle het boonop die belasting gehef wat die Jode so onderdruk het.  Hulle is gesien as korrupte verraaiers.  Nie naastenby, in hulle oë, iemand wat dit werd is om ‘n dissipel van ‘n Joodse Rabbi soos Jesus te word nie.  En boonop gaan Jesus nog by Levi tuis en eet saam met hom en sy sondaar vriende.

Dit is hoe die Fariseërs en die skrifgeleerdes die wêreld beskou het.  En ongelukkig hoe ons in die kerk ook baie keer maak.  Dat daar ‘n sekere lysie van standaard eienskappe is waaraan mense moet voldoen en solank as wat jy nie daaraan kan voldoen nie, is jy ‘n buitestaander en bly jy buite!  Jy is net ‘n Christen as jy aan al daardie vereistes voldoen.  Hierdie manier hang af van die mens se eie vermoë en wilskrag om dit reg te kry om aan al die vereistes te voldoen.

Jesus kom wys egter ‘n nuwe manier.  Hy kom vorm ‘n Jesus-gesentreerde gemeenskap rondom Hom.  Hier gaan dit nie oor wat jy al reggekry het of hoe goed of hoe sleg jy was nie, maar gaan dit oor Jesus wat jou nooi om Hom te volg.  Hy is in die middel.  Wat jou identiteit bepaal is nie jou vermoë nie, maar eerder die rigting waarin jy oppad is.  Is jy oppad nader aan Jesus, of verder van Hom af.  Levi was vêr van Jesus af toe hy geroep is, maar daarna is hy oppad na Jesus toe.  Judas was in die binnekring, naby aan Jesus, maar was duidelik oppad weg van Jesus af.

Volgens die godsdienstiges was dit wat Jesus gedoen het nie reg nie – om saam met sondaars en tollenaars te eet, en om nie te vas nie.  Maar Jesus verander mense se harte en daarom ook die rigting waarin hulle beweeg.  Hy eet nie saam met sondaars om vir hulle te sê hy keur hulle sonde goed nie, Hy doen dit sodat hulle kan weet dat Hy hulle liefhet en kan reageer op sy uitnodiging om Hom die sentrum van hulle lewens te maak.  Die sondaars en tollenaars weet dat Hy nie hulle sonde goedkeur nie, nie saam stem met hulle lewenstyl nie, maar tog wil hulle saam met Hom eet, naby aan Hom wees…

Die Fariseërs sê verander dan is jy in.  Jesus sê kom volg my, kom nader… en dan kan jy nie anders as om nuut te wil word nie.

Waarmee is ons besig?  Waarheen is ons oppad?  Is dit wat ons doen Jesus-gesentreerd?  Hoe is ons eie lewens en ons kerkwees ‘n weerspieëling van die manier hoe Jesus sy Koninkryk kom bou het?