Gewoonlik het mense nie vreeslik baie rondgereis in Jesus se tyd nie. Dit was ‘n duur en ‘n moeilike oefening. Mense sou hul hulpbronne gespaar het om eerder die belangrikste reise aan te pak – soos die pelgrimsreise om tempel toe te gaan wanneer die Wet van die Here dit van hulle vereis het. Maar nou hier in Markus 3 lees ons dat die mense van oral oor gereis het om na Jesus toe te kom. Hier gebeur iets wonderliks – soos wat die mense gewoonlik Jerusalem toe gereis het om in God se teenwoordigheid te kan wees, so reis hulle nou ook na Jesus toe en bevind hulleself in Kapernaum in God se teenwoordigheid.
As gevolg van die ongelooflike onderdrukking deur die Romeinse owerhede was daar ernstige armoede, haaglike omstandighede, en wanvoeding onder die mense. Dit het wyd verspreide siektes onder baie mense veroorsaak. Daarom dat daar so menigte mense was wat na Jesus toe gekom het opsoek na genesing. Wanneer Jesus hierdie mense gesond maak word die verskil tussen sy Koninkryk en die Romeinse Ryk baie duidelik sigbaar.
Die onrein geeste erken wie Jesus is. Hulle besef dat Jesus bo-aan die gesagspiramiede staan, want Hy is God. Maar op hierdie punt in die verhaal is dit vir Jesus belangrik dat mense nie nou die verkeerde idee moet kry nie. Hy weet dat sy identiteit vir die Keiser en vir die Joodse Leiers ‘n probleem gaan wees, en op die ou end tot sy dood gaan lei, maar dit kan nie nou sy koers ontspoor nie. Soos wat Markus vir ons gaan wys word Jesus se Ware Identiteit eers werklik openbaar wanneer Hy sterf aan die kruis. Eers dan kan die mense verstaan juis hoe Hy die wêreld en die Romeine kom oorwin – met liefde en nie met die swaard nie.
Jesus kies dan ook 12 dissipels om Hom te help om sy Koninkryk aan te kondig. Hierdie 12 is simbolies van God wat ‘n nuwe pad met mense kom stap. Soos wat Hy met Jakob se 12 seuns, die 12 stamme van Israel, ‘n verbond gesluit het, begin Hy nou iets nuuts en sluit ons almal daarby in. God sit sy pad voort my sy volk.
Hierdie 12 is nie spesiaal nie, hulle besit nie ‘n stel uitsondelike eienskappe wat hulle kwalifiseer om hierdie werk te doen nie. Dit is Jesus wat hulle MAAK wat hulle is. Hy is die Een wat hulle toerus en kwalifiseer vir die werk. So word ons ook ingetrek by die verhaal, word ons ook deel van God se pad met die mens, vorm ons deel van Jesus se span. Kyk hoe mooi is sy verhouding met die 12. Kyk wat gebeur met hulle wanneer hulle tyd met Hom spandeer. Daarvoor roep die Here ons ook!