Wanneer Markus hier in hoofstuk 3 na Jesus se familie verwys sluit dit lede van sy breër familie in. Hulle het gedink sy optrede is onvanpas omdat Hy te veel aandag trek in die openbaar. Deur hierdie skares van mense te trek het Jesus se familie beweer dat Hy hulle in die skande steek. Hulle het, volgens hulle oordeel, geen ander keuse gehad as om sy optrede in die openbaar af te keur. Hulle het gemeen Hy is buite Homself.
Die Skrifgeleerdes se verduideliking is dat Jesus eerder Beëlsebul se handlanger is en dat dit met sy krag is wat Jesus wonders doen. Daarmee verlaag hulle sy posisie op die gesagspiramide. Hulle kan nie sien dat Hy God is wat heelbo aan die piramiede staan nie. Hulle dink Hy is maar net een van die heilige manne wat onder die demone en engele staan. Hulle tas Jesus se eer aan.
Jesus verdedig egter sy eer deur vir hulle te wys dat hulle redenasie onlogies is. Die bekende uitdrukking in vers 24-25 help ons: “As ‘n koninkryk onderling verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie; en as ‘n huisgesin onderling verdeeld is, sal daardie huisgesin nie kan bly staan nie.” Hoe kan die demone met die hulp van die aanvoerder van die demone uitgedryf word? Nee, Een wat sterker is as hy, is die een wat die mag het om af te reken met die demone. Hy bind die bose vas (v. 27).
Dan hoor ons hierdie harde woorde van Jesus in vers 29: “Wie egter teen die Heilige Gees laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie maar bly ewig skuldig aan die sonde.” Om teen die Heilige Gees te laster is soos om te maak soos die Skrifgeleerdes hier wanneer hulle Jesus as Baäl se handlanger uit te kryt – om God nie as God te erken nie. Dit is om intensioneel, aanhoudend, doelbewus teen God te draai.
In vers 31 verskyn Jesus se naby familie op die toneel. Mens kan sien dat die uitgebreide familie druk sit op hulle om iets aan die situasie te kom doen. Dan teken Markus vir ons ‘n baie duidelike prentjie van wie Jesus se ware familie is en wie sy teenstaanders is. Hulle wat by Jesus sit en meer van Hom wil weet en meer by Hom wil leer, húlle is Jesus se naby familie. Die wat gedink het hulle is familie, maar Jesus teenstaan, hulle staan buite. Vers 35 stel dit duidelik: “Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”
Die gemeente in Rome het al te goed geweet wat dit beteken om buite te staan. Om as teenstaanders gesien te word. Hulle is ook deur hulle familie verwerp omdat hulle in Jesus glo en, soos Jesus, daarvan beskuldig dat hulle van hulle koppe af geraak het. Maar Jesus kom herdefinieer wat dit beteken om in God se familie te wees. Die gemeente in Rome vir wie Markus skryf (en ons!) kan troos vind in die feit dat ons deel is van God se familie. Dit roep ons ook op om by Hom te kom sit, om meer van Hom te leer, meer soos Hy te wil word, en meer besig te raak met dit waarmee HY besig is.