Markus 2:23-3:6 – Here oor die Sabbat

Markus weef die verhaal meesterlik aanmekaar.  Die vorige twee gedeeltes en die eerste perikoop in hierdie gedeelte word aan mekaar gebind met die tema van eet – Jesus eet saam met Levi (2:13-17), die vraag oor die vastyd (2:18-22), en nou die are pluk en eet (2:23-28).  Markus koppel dit aan mekaar wanneer die volgende  twee gedeeltes dan oorgaan na die tema van die sabbat.

Die Fariseërs daag vir Jesus uit oor sy interpretasie van die sabbatswette.  Hulle (en ons!) het egter so gefokus geraak op die reëls rondom die sabbat dat hulle die punt van die sabbat totaal en al begin mis het. In Genesis 2:3 en Eksodus 16 kry ons die oorspronklike doel van die sabbat – dat die Here dit vir die mens gemaak het sodat ons kan rus en juis rus vind in Hom.  Die Here Jesus bevestig dit in sy antwoord aan die Fariseërs in Markus 2:27  “Die sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbatdag nie.”

Die Here weet dat ons rus nodig het.  Hy het ons so gemaak.  Hy weet dat ons tyd nodig het om by Hom te kom rus en onsself gereeld weer aan Hom te bind.  Ons het in ons pogings om “heilig” te wees, of om “die wet na te kom” dieselfde met Sondag gedoen as wat die Fariseërs met die sabbatdag gedoen het.  In die proses het ons dit ook reggekry om meer bekommerd te wees oor alles wat ons nie mag doen nie as wat ons die tyd spandeer het om te groei in ons verhouding met die Here en weer by Hom rus te vind.

Jesus bewys sy punt in die volgende gedeelte wanneer die Fariseërs probeer om bietjie eer terug te wen deur Hom weer te probeer uitvang met die sabbatswette.  Hulle wil sien of Hy iemand gaan gesond maak op die sabbatdag, maar Hy doen niks en maak nog steeds die man se hand gesond.  Hy sê net vir hom: “Steek jou hand uit” en toe is die man se hand reeds gesond.

Waar die Fariseërs gefokus was op die nakoming van die reël, was Jesus gefokus op die welstand van die mens.  Volgens hulle reëls mag Jesus nie iemand gesond maak op die Sabbatdag nie, maar hulle gaan direk daarna na die Herodiane om Jesus se dood te beplan. Hoe ironies!

Jesus, die Een wat die Sabbat ingestel het, loop saam met sy dissipels deur die gesaaides en maak seker hulle kry genoeg om te eet.  Jesus, God self by Wie ons rus kan vind, wil met ons in verhouding staan, wil vir ons genesing en herstel bring.  Hoe lyk ons weeklikse roetines?  Getuig dit nog van mense vir wie tyd saam met God belangrik is?  Getuig dit van ons vertroue op die Here wat vir ons sorg?  Hoe lyk ons nakoming van die Wet van die Here – hou dit méér in as die van die Fariseërs?  Groei ons nader aan God en nader aan mekaar in liefde?