Markus 6:30-44 – Fees van die Lewe

Gelukkig eindig die verhaal nie by die grusame gebeure rondom Herodes se tafel daar in Markus 6:17-29 nie.  Maar ons moet ook nie daardie gebeure in isolasie sien nie.  Markus vertel hierdie twee verhale opsetlik direk na mekaar.   Hy wil weer vir ons die kontras tussen die koninkryke van die wêreld en die Koninkryk van God, wat Jesus kom aankondig, uitwys.

By Herodes se fees is daar selfsug en magsug en uitbuiting en moord aan die orde.  Jesus vier fees saam met duisende mense in die wildernis, maar daar is rus en versorging, liefde en aanvaarding aan die orde.

Die gesprek begin eintlik by vers 14-16 waar die vraag oor wie Jesus dan nou eintlik is op die tafel kom.  Ook Herodes het gewonder wie Jesus kan wees, en kom tot die gevolgtrekking dat Hy moet Johannes die Doper wees wat uit die dood opgestaan het.  Maar Jesus kom wys daar op die afgeleë plek dat Hy nie ‘n profeet is wat terugkeer nie, maar dat Hy God self is wat vir sy mense sorg.

Jesus en sy dissipels gaan na ‘n “afgeleë plek” toe.  Woorde wat Markus baie mooi kies.  Dit kan ook vertaal word met wildernis of woestyn.  Daar in die wildernis is dit egter nie so stil soos wat hulle gehoop het nie, omdat duisende mense hulle ingewag het.  Maar die Here Jesus is besig om hierdie toneel op te stel om iets groots oor Homself te openbaar.  Hierdie duisende mense is, net soos die wat moes toekyk hoe daar met kos gemors word aan Herodes se tafel, ook randfigure, uitgelewerdes.  Jesus self beskryf hulle as “skape sonder ‘n wagter” en Hy het hulle innig jammer gekry.

Hierdie woorde herinner dadelik aan Numeri 27:16-17 waar Moses vir die Here sê: “Dan moet U, Here, God wat aan alle mense die lewe gee, iemand oor hierdie volk aanstel wat vir hulle ‘n leier en aanvoerder kan wees sodat die volk van die Here nie soos skape sonder wagter sal wees nie.”

Jy sien, Jesus is besig om die stukke op die bord te plaas… Nou kom die dissipels na Jesus toe en hulle is (in hulle onkunde) bekommerd oor hoe hulle vir al hierdie mense gaan kos gee.  Dan doen die Here die wonderwerk van die vermeerdering van die brood en is daar genoeg vir almal om te eet en nog wat oorgebly het.  ‘n Spesifieke getal word oorvloed.  Vyf brode en twee visse. Vyf plus twee is 7 – die getal van God.  Markus wil vir ons wys dat dit God is wat hier aan die werk is.  Twaalf mandjies vol bly oor – 12 is die getal van God se mense.  Twaalf dissipels deel dit uit en maak dit bymekaar.

Sien jy wat hier aan die gang is?  Dieselfde God wat in Eksodus daar in die woestyn sy mense met brood uit die hemel gevoed het, is dieselfde God wat nou sy mense hier in die wildernis voed met genoeg om te eet.  Jesus is God!  Dit is sy antwoord op die vraag oor sy identiteit in 6:14-16!  Ons Koning is nie soos die konings van die wêreld nie, en juis daarom verdien Hy al die lof en al die eer tot in ewigheid.

Wat ons ook nie moet miskyk nie, is hoe die Here hierdie wonderwerk deur sy dissipels se hande doen.  Jesus se sorg vir sy mense gebeur deur sy dissipels. Hy neem dit wat hulle het en maak dit meer as genoeg.  Dit is hoe die Here ook met sy Kerk werk, met jou en my, in ons en deur ons werk.  Bring wat jy het, en God maak dit meer as genoeg vir sy Koninkryk!