Direk ná Jesus se verduideliking van die Gelykenis van die Saaier kry ons nog 3 kort gelykenisse. Gewoonlik lees en bedink ons hulle in isolasie en probeer elkeen apart analiseer om uit te vind wat hulle vir ons sê. Maar as mens mooi kyk na die verloop van die gesprek in Markus (eintlik al van hoofstuk 3 af) dan kom mens agter dat hierdie 3 gelykenisse baie meer met mekaar in gemeen het, en ook met die voorafgaande gelykenis. Jesus brei uit op die boodskap van en sy verduideliking van die Gelykenis van die Saaier – dit gaan eintlik nog al die tyd oor “luister”.
Die eerste gelykenis stel Jesus ‘n vraag oor die opsteek van ‘n lamp. Dit was redelike moeite om ‘n lamp aan te steek in daardie tyd. Daar was nie vuurhoutjies om te trek nie. Daarom is die antwoord op Jesus se vraag voor die hand liggend – niemand sou al daai moeite doen en dan ‘n erdekruik omdop om die lig weg te steek nie. Jesus brei uit op hierdie idee en sê dat dit wat geheim is moet aan die lig kom en openbaar word. Jesus en sy Boodskap kan nie uitgedoof word nie. Hierdie geheim van die Koninkryk word geopenbaar aan die wat vra na meer, aan die wat moeite doen om na Hom te luister. Daarom sê Jesus “As iemand ore het en kan hoor, moet hy luister!” in vers 23.
Die volgende vers begin dan weer met: “Gee aandag aan wat julle hoor!” Dit gaan nog heeltyd oor luister! Dan hoor ons Jesus se woorde dat vir die wat het sal meer gegee word en die wat nie het nie, van hom sal die bietjie wat hy het weggevat word. En as ons dit buite konteks lees, dan kan dit ons vreeslik bang en deurmekaar maak. Maar as ons besef dit gaan oor die maat waarmee ons luister dan besef ons dat vir hulle wat aanhou om die moeite te doen om na God te luister sal Hy sorg dat ons meer kan verstaan Wie Hy is en wat Hy doen – toegevoeg word. Hulle wat kies om nie te luister nie, sal al minder verstaan wat God doen – wegvat.
Jesus gaan dan verder om te verduidelik wat gebeur wanneer ons uit die vrug van hierdie luister leef (soos wanneer die saad op die goeie grond val) – daar is vrug, en dit is God wat die wat luister laat groei. Bo verwagting en selfs teen die oormag wat hulle wil onder kry kan die gemeente daar in Rome aanhou groei as hulle aanhou om te luister na die Here.
Dan vergelyk Jesus sy Koninkryk met ‘n mosterdsaadjie – met onkruid wat alles oorneem. Ook daar waar die gemeente in Rome klein en bedreig is en onwelkom is kan hulle weet dat God hulle laat groei. Sy Koninkryk is onkeerbaar!
Met hierdie gelykenisse vertel Jesus vir ons wat die vrug daarvan is wanneer ons na Hom luister, vra na sy Wil, meer van Hom soek. Mens kan amper nie anders nie as om te dink aan die liedjie “Lees jou Bybel, bid elke dag, en jy sal groei, groei, groei!” Wanneer ons begin om te leef uit dit wat ons by die Here hoor dan begin ons groei in ons verhouiding met Hom. Wanneer ons groei, groei sy Koninkryk.